Die kuratoria van die NGK en VGKSA op Stellenbosch het gesamentlik op 26 November ses NG en vier VGK-leraars gelegitimeer. Op 25 November is ook agt diensleraars vir bediening in die NG Kerk gelegitimeer.
Lees ook: Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UP se klas van 2025 en Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UV se klas van 2025
Kaapkerk het videos van beide geleenthede geneem. Hier is die video van 26 November se gesamentlike legitimasiediens (sien onder vir die diensleraars se video).
NG PROPONENTE
Jörgen Edward Barnard is ’n dominee en dokter se kind en een van drie broers. Hy trou in Oktober 2025 met sy hoërskoolliefde Caira. Sy is in die onderwys, spesifiek grondslagfase en tans by Beaumont Laerskool. Beide van hulle het ’n passie om saam in die bediening te dien. Jorgen is ’n eenvoudige mens wat lief is vir die Here, lief vir mense en vir hengel. Sy roeping is om van die goeie nuus te getuig en onder leiding van die Heilige Gees ’n baken van lig te wees in ’n donker wêreld. Hy wil nooit ophou groei nie en wil ’n lewenslange student wees van teologie in alle aspekte. Sy behoefte is om met ’n span saam te werk wat hoop kweek in ’n gemeenskap van gelowiges, maar ook in die wêreld daar buite. Hy is beroepbaar en kan gekontak word by 079 527 8775 of e-pos jorgen@nghelder.co.za.

Chaldin D Bezuidenhout is op 22 April 2001 in Wynberg, Kaapstad, gebore. Sy kinderjare het hy in Kimberley deurgebring, waarna die gesin ná 2010 teruggekeer het na Kaapstad. Hy het in Durbanville grootgeword, waar hy in 2015 tot bekering gekom en sy roeping tot die bediening ontvang het. As tiener het Chaldin naskool gewerk by ’n kleuterskool en betrokke geraak by Durbanville-Bergsig NG Kerk – veral in kerkplanting, bevrydingsbediening, tienerleierskap en kinderbediening. Hy het in 2019 gematrikuleer en daarna aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer met die doel om predikant te word. Tydens sy studiejare is hy in 2021 as ouderling bevestig, en in 2023 het hy as voorsitter van die Eredienskommissie gedien. Hy het in dieselfde jaar sy BDiv-graad voltooi met ’n fokus op Antieke Grieks, en in 2024 sy MDiv-graad verwerf met die verhandeling “The relationship between prayer practices and church vitality in the Dutch Reformed Church”. Terwyl hy sy MDiv voltooi het, het hy in 2024 as jeugwerker by die NG Gemeente Gordonsbaai gedien. Daarna het hy in Loeriesfontein aflospreke waargeneem voordat hy sy gemeentejaar by Durbanville-Bergsig begin het. In 2025 trou Chaldin met Anli Lion-Cachet, wat ’n apteker is. Hy het sy gemeentejaar voltooi, is gelegitimeer en is tans beroepbaar. Kontak hom by 076 497 0221 of chaldin2001@gmail.com.

Christiaan de Klerk is op 27 November 2000 gebore en het in Stellenberg, Kaapstad, grootgeword. Hy matrikuleer in 2019 aan die Hoërskool Stellenberg en begin in 2020 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2023 behaal hy die graad BDiv. In 2024 behaal hy die graad MDiv (Praktiese Teologie) cum laude onder leiding van prof Cas Wepener. Die titel van sy minitesis is: “Baptism and confirmation: A ritual liturgical study of the catechumenate in the Early Christian era according to the apostolic tradition”. Christiaan is iemand wat opgewonde is oor geloofsvorming en liturgie in die jeug se spasies in die kerk. Hy dien van 2017 in verskeie lofsanggroepe, en het ’n passie vir uitreike met die jeug. Hy doen in 2025 sy gemeentejaar by die NG Gemeente Parow-Panorama waar hy in alle aspekte van die bediening betrokke was. Interkerklike samewerking en die evangelie prakties uitleef is vir Christiaan belangrik. Hy het al in verskeie gemeenskappe as deel van sy roeping gedien. Verder hou hy ook van lees, baskitaar, kamp, en nuwe tegnologiese ontwikkelinge. Christiaan en sy vrou, ’n “architectual technologist”, is einde 2024 getroud. Hy is beroepbaar en kan by 081 313 5038 of dc.deklerk2711@gmail.com gekontak word.

Christian Heath is op 17 September 2001 in Pretoria gebore, maar het in Durbanville grootgeword en in 2019 matrikuleer by Hoërskool Durbanville. In 2020 het hy by Universiteit Stellenbosch begin studeer en sy BDiv-graad behaal in 2023. In 2024 behaal hy sy MDiv-graad met sy navorsingsprojek se titel as: “What on earth was Jesus? Exploring the composition of Jesus’ being during his time on earth”. In 2025 doen hy sy nagraadse diploma by Stellenbosch en doen sy praktiese jaar by NG Kerk Danabaai in Mosselbaai. Christian se belangstellings lê by visvang, houtwerk, rekenaarspeletjies en kamp en hy het onlangs verloof geraak. Christian is beroepbaar en kan per e-pos by christian.heath.sa@gmail.com of 079 345 5775 gekontak word.

Japie Krige is op 19 Augustus 1986 aan die Oos-Rand van Johannesburg gebore, waar hy grootgeword en sy skoolopleiding voltooi het. In 2005 het hy aan die Universiteit van Johannesburg begin studeer en in 2006 die roeping ervaar om oor te skakel na Teologie. Hy behaal in 2008 die graad BA-Teologie.
In 2009 sluit hy by MES in Hillbrow aan as programbestuurder vir jeugontwikkeling, waar hy vir nege jaar gewerk het. Gedurende hierdie tyd voltooi hy in 2012 die BA-Teologie Honneursgraad aan die Noordwes-Universiteit, en in 2014 ’n sertifikaat in Sosiale Entrepreneurskap aan die Gordon Institute of Business Science. Vanaf 2018 tot Maart 2023 dien hy as algemene bestuurder van die Tshepo Community Development Initiative. Sedert April 2023 werk hy voltyds by Melville Kruisgemeente, waar hy die Ekhaya-studentebediening behartig. In April 2024 is hy as diensleraar vir lering en onderrig bevestig.
Sosiale geregtigheid en versoening lê Japie na aan die hart, en hy is al sedert sy skooldae betrokke by uitreike na Botswana en die middestad van Johannesburg. In 2024 het hy met sy MTh-graad aan die Universiteit Stellenbosch begin. Sy mini-tesis dra die titel: “A critical exploration of the role of grief in the praxis of missional transformation and racial inclusion in the Dutch Reformed Church after 1994”.
Japie is sedert 2014 getroud met Zhanél, ’n onderwyseres by Frances Vorwerg Skool, waar sy kinders met spesiale behoeftes onderrig. Hulle het twee dogters, Rori (8) en Mira (5). Kontak: krigejapie@gmail.com.

Willem Hendrik Pretorius (noemnaam Henri) is gebore op 1 Julie 1997 in Johannesburg, waar hy ook grootgeword het. Hy matrikuleer in 2015 by Helpmekaar Kollege. Na skool spandeer hy twee jaar (2016 en 2017) in Jeffreysbaai by “Victory Gap Year” waar hy praktiese ondervinding opdoen in terme van musiekbediening. In 2018 begin hy teologie studeer deur die Baptist Theological College of Southern Africa (BTC). In 2021 behaal hy die graad BTh cum laude. Die titel van sy finale jaar navorsingstuk was “An application of a Biblical framework of worship within a modern context increasingly influenced by charismatic forms.” Gedurende sy studiejare by BTC dien hy as lid van die studenteraad met die verantwoordelikheid “Lof-en-aanbidding-musiek”. Vanaf 2019-2022 werk Henri by die Gereformeerde Kerk Linden as musiekleier. Hy werk sedert 2022 by NG Gemeente Weltevreden as musiekleier van die aanddiens en doen sy praktiese gemeentejaar in 2023 by hierdie gemeente waar hy deelneem aan ’n verskeidenheid van die gemeente se bedienings en aktiwiteite, onder andere die jeugbediening asook aanlyn bediening. In 2024 word Henri bevestig as diensleraar by NG Weltevreden met die spesifieke fokus van jeug en musiekbediening. In 2024-2025 voltooi hy sy MTh-graad in Bedieningspraktyk deur Stellenbosch Universiteit om homself verder toe te rus vir voltydse bediening as leraar. Die titel van sy verhandeling was “Kerkmusiek, geloofsvorming en die missionale kerk: ’n Praktiese teologiese verkenning”.
Henri is passievol oor die Woord van die Here en om mense te begelei dat die Woord van die Here in hulle hart mag leef. Hy is passievol oor musiek en sien dit as ’n belangrike deel van sy bediening en roeping in die kerk. Verder geniet Henri dit om tyd te spandeer op hulle familieplaas in die Waterberge, staptoere, asook kwaliteit tyd saam met vriende. Hy kan gekontak word by 071 352 9389 of henripretorius33@gmail.com.

VGK-PROPONENTE
Tesné Coetzee is op 14 Junie 2002 gebore in Port Elizabeth, maar het verhuis met haar ouers en susters na die Wes-Kaap waar sy in die pragtige kusdorpie Hawston grootgeword het. In 2020 het sy haar hoërskoolloopbaan voltooi aan Hawston Sekondêre Skool wat in haar tuisgemeenskap geleë is.
Tesné het toe in 2021 begin teologie studeer aan die Universiteit Stellenbosch waar sy in 2024 haar BDiv-graad verwerf het met die tema: “’n Historiese ondersoek na die marginale posisie van vroue in die VGK”. In 2025 het sy haar studies verder voortgesit en haar MDiv gedoen waarvan die tema van haar navorsing “Sinode as teater: Die ontvangs van die Sola Scriptura-beginsel binne die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika” was.
Sy is daarvan oortuig dat sy geroep is om aktief deel te neem aan God se koninkryk sowel as om positiwiteit oor grense te versprei. Vir Tesné is menseverhoudinge en respek uiters belangrik om as ’n geloofsgemeenskap saam te kan leef en mekaar te kan dra en ondersteun in watter situasie ook al.

Jacques Heyns is gebore op 29 Mei 1970 op Clanwilliam en het grootgeword in die Paarl. Hy het van kleins af ’n diep verbintenis met gemeenskap en geloof ontwikkel. Jacques matrikuleer in 1988 aan Klein Nederburg Sekondêr en volg later sy roeping tot teologiese studie. In 2022 voltooi hy sy BTh-graad aan die Universiteit van die Wes-Kaap, gevolg deur ’n BTh (Honneurs) aan die Noordwes-Universiteit in 2023.
In 2024 begin hy met sy MTh in Praktiese Teologie: Bedieningspraktyk aan die Universiteit Stellenbosch. Sy tesis, “Die afwesigheid van jongmense in die liturgie van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika”, ondersoek ’n belangrike en aktuele vraagstuk in die hedendaagse kerk: die noodsaak om jongmense nie bloot as die kerk van môre te beskou nie, maar as volwaardige deelnemers en draers van die huidige geloof en hoop in die kerk. Die werk is ’n teologiese refleksie en fokus op die jeugbetrokkenheid binne die liturgie en breër kerklike strukture.
Hy is reeds 25 jaar getroud met Henrietha Heyns, en saam is hulle die ouers van twee kinders, Nicole en Javonte. Sy lewens- en bedieningsoortuiging is gewortel in die visie om jongmense meer aktief te integreer in die strukture van die kerk. Hy glo vas dat deur die jeug te bemagtig en ruimte te skep vir hulle deelname, gesonde gemeentes én sterk gemeenskappe opgebou kan word. Sy kontakbesonderhede is 084 207 7535 / 064 281 1685 / jakesheyns49@gmail.com/ jheyns@capewinelans.gov.za.

Frans Ravell, gebore en grootgeword op Piketberg, voel die hartklop van sy gemeenskap in alles wat hy doen. Hy het ’n diep bewussyn van mense, hulle uitdagings en hulle hoop – ’n bewussyn wat die kern van sy bediening en gemeenskapswerk vorm.
As jongmens het Ravell reeds sy stem gevind in jeugwerk, openbare optredes en betrokkenheid by plaaslike projekte. Sy natuurlike vermoë om met mense te verbind, het hom van vroeg af ’n leier gemaak. Sy universiteitsjare was gevul met aktiewe deelname aan NWO- en NRO-inisiatiewe, waardeur hy ’n fyn begrip opgebou het van gemeenskapsontwikkeling, maatskaplike uitdagings en volhoubare projekte.
Vandag staan hy as ’n toegewyde teologiestudent en byna voltydse predikant in opleiding, sterk gevestig in die drie wêrelde waarin hy gereeld beweeg: die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde tradisie en die Verenigende Gereformeerde konteks. Hierdie verskillende ruimtes het sy verstaan van kerkwees verdiep – van die liturgie van klein plattelandse gemeentes tot die dinamiese spiritualiteit van stedelike kerke soos Stellenbosch. Ravell se persoonlikheid is ’n mengsel van nederigheid, vasbyt en opregte liefde vir mense. Hy kombineer sy akademiese reis, sy passie vir gemeenskapsontwikkeling, sy ervaring as openbare spreker en sy roeping as bedienaar van die Woord in ’n unieke getuienis: om brugbouer, helper en hoopdraer te wees waar hy gestuur word. Kontak hom op e-pos: fransravell@gmail.com of selfoon 063 479 0378.

NA COLLOQUIUM DOCTUM
Janine Williams is op 25 Maart 1982 op Knysna gebore. Sy het haar matriek in 1999 by Oakhill Privaatskool in Knysna met onderskeiding voltooi, en daarna aan die Universiteit Stellenbosch sielkunde studeer. Die verwerwing van ’n BPsig-graad in 2003 het haar toegelaat om as familieberader te kwalifiseer. In 2004 het Janine as skoolberader by haar alma mater op Knysna gewerk, en daar haar roeping ontvang om teologie te studeer. Sy is in 2006 terug na Stellenbosch, waar sy haar BTh in 2008 verwerf het, gevolg deur MDiv (cum laude) in 2009 en Lisensiaat in Teologie (cum laude) in 2010. Haar MDiv-tesis het die werk van H Richard Niebuhr ondersoek, veral in sy verstaan van die betekenis van Goddelike openbaring in menslike geskiedenis. Sy het daaruit geleer hoe belangrik mense se stories is as leidrade van God se genadige werk in die alledaagse lewe van menslike bestaan.
Janine het vanaf Mei 2011 tot Julie 2023 by VGK Sarepta, as dominee, haar bediening voluit uitgeleef. Daarna het sy vir twee jaar as gesinsberader by haar maatskappy J9 Coaching gewerk, voordat sy nou terugkeer na voltydse gemeentebediening. Janine is passievol daaroor om mense te help om deur die Gees van God te floreer. Sy fokus op bemagtiging van mense op alle vlakke, in onderskeiding van wat God van haar in gemeenskap verlang. Sy is beroepbaar. Kontak haar by 076 175 4005 / janinemw@gmail.com.

DIENSLERAARS
Morné Henning is op Worcester gevestig en dien tans as berader-in-opleiding by Toevlug Rehabilitasiesentrum, waar hy sedert 2021 betrokke is by groepfasilitering, pastorale begeleiding en die ontwikkeling van herstelprogramme vir persone met middelafhanklikheidversteurings. Hy het meer as 20 jaar se leierskapervaring uit die gasvryheidbedryf, waarvan ses jaar in Dubai as bestuurder van hoëgehalterestaurante soos Tony Roma’s en More Café.
Na sy eie herstelpad het hy in 2019 as vrywilliger begin dien by verskeie sentrums, waaronder Hope Again en Together We Can, waar hy as ondersteuningswerker en mentor gewerk het. Sy roeping lê in die begeleiding van mense op hulle pad na herstel en die bevordering van strukture wat groei, waardigheid en langtermyn verandering moontlik maak.
Morné is tans besig met sy BTh-graad aan Hugenote Kollege en voltooi terselfdertyd sy formele opleiding deur die Addiction Counsellor Certification South Africa (ACCSA). Hy het vroeër aan die Universiteit van Pretoria studeer in Menslike Fisiologie en Mikrobiologie.
Morné is ’n toegewyde persoon met ’n passie vir geloofgemeenskap, genesing en hoop. Hy is vlot in Engels en Afrikaans, en kan gekontak word by mornehenning077@gmail.com of 076 349 2017.

Salomé Kruger is op 21 Mei 1987 in Groenkloof, Pretoria, gebore en het haar eerste 13 lewensjare daar deurgebring. Daarna het haar gesin na KwaZulu-Natal verhuis waar sy in 2005 aan Port Shepstone Hoërskool matrikuleer. Sy het van jongsaf ’n passie vir leierskap en diensbaarheid getoon. Ná skool het sy dadelik begin werk – eers as senior bestuurder by Spur, daarna as meesterdiensadviseur by Toyota, en tans as menslikehulpbronbestuurder by Natal Recovery én bestuurder by RedGiant Elektries. Sy is tans steeds betrokke by albei organisasies. In 2022 het sy haar BCom-graad in Strategiese Bestuur (cum laude) aan Varsity College IIE in Westville voltooi. Sy het in Januarie 2025 begin met ’n nagraadse diploma in Teologie (Ou en Nuwe Testament) aan die Universiteit Stellenbosch, wat sy in November 2025 voltooi. Haar minitesis dra die titel: “Lydia of Thyatira: A Feminist Theological exploration of female leadership in Early Christianity”.
Salomé het ’n diep roeping tot kerklike diens en leierskap. Sy is aktief betrokke by haar gemeente, die NG Kerk Margate, as Sondagskoolhelper, lid van die koor, en ondersteun ook waar sy nodig is – hetsy met tee skink of kosreëlings by begrafnisse. Sy is passievol oor musiek, Bybelstudie, opleiding, en sien haarself as ’n lewenslange leerder. Sy is avontuurlustig en hou van reis, en het ook ’n hart vir die gemeenskap – veral vir kinders. Sy reël ook fondsinsamelings. Salomé is 16 jaar getroud met Jaco Kruger, en is ’n toegewyde eggenoot en ma van drie kinders: Aaron (16), Madison (12) en Dalton (3). Sy help haar man ook met die administrasie van sy besigheid. Salomé is beroepbaar en kan by 072 370 3813/krugersalome91@gmail.com gekontak word.

Luan Martin dien sedert 2019 as jeugwerker by sy huidige NG gemeente en het ’n diep passie vir die geestelike groei en begeleiding van jongmense. Ná ’n jaar in die Verenigde State, waar hy by ’n Pinkstergemeente gewerk en aan dissipelskap- en gemeenskapsprojekte deelgeneem het, het hy teruggekeer na sy tuisgemeente, waar hy sy bediening begin en sy belydenis van geloof afgelê het. Hy het die eenjaar-bedienaarskursus aan Hugenote Kollege voltooi en preekbevoegdheid ontvang, en studeer tans verder in die BTh Diensleraar-program aan dieselfde instelling. Binne die gemeente het hy die Prisma-koffiekerk begin – ’n warm en oop ruimte waar jongmense tussen 15 en 25 jaar saamkom om oor geloof, lewe en hoop te gesels. Hy lei ook die tiener- en belydenisklasse, is betrokke by verskeie preekgeleenthede binne en buite die gemeente, en bedien daagliks by Gelofte Skool in Pinetown, waar hy vir jongmense ’n veilige plek skep om oor hulle persoonlike en geestelike uitdagings te praat. Onlangs is Luan ook deur die Algemene Sinode se Ekumeniese Taakspan gekies om die NG Kerk te verteenwoordig by ’n Ekumeniese Jeugfees in Hongarye wat gefokus het op die geestesgesondheid van jongmense – ’n tema wat na aan sy hart lê en sy roeping tot jeugbediening verder verdiep het.

Marené Pretorius is op 18 Julie 2003 gebore op George, waar sy grootgeword het. Sy matrikuleer in 2021 aan die Hoërskool Outeniqua. In 2025 verwerf sy haar BTh-graad in Missionale Bediening aan die Hugenote Kollege. Sy is in George werksaam by George-Bergsig gemeente binne die getuienis en barmhartigheidbediening. Hier leef sy haar passie vir die sendingveld, kinders en die Here volkome uit. Sy dien sedert 2023 op die kerkraad, en geniet dit om beide die teoretiese en praktiese kennis van die bediening gelyktydig te bekom. Marené is baie lief vir lees, kinders en spandeer graag tyd saam met familie en vriende. Haar passie vir missionale bediening leef sy uit op uitreike, beide naby en ver, en sy geniet dit om te organiseer en administratief betrokke te wees by die gemeente se werksaamhede. Sy hoop om in 2026 haar studies voort te sit en sien uit om te sien hoe die Here haar teologiese agtergrond, passie vir sending, en liefde vir kinders in die toekoms gaan gebruik. Marené kan gekontak word by pretoriusmarene@gmail.com / marene@george-bergsig.co.za of 076 303 9293.

Petrus Jacobus (Pieter) Truter is op 5 Maart 1991 gebore in Johannesburg. Hy het in die Kaap grootgeword, en in 2009 by Hoërskool Durbanville (HSD) gematrikuleer. Hy begin in 2010 met sy BSc-studies aan die Universiteit Stellenbosch en vang in 2014 graad. Sy liefde vir onderrig en mentorskap begin in 2011 toe hy as hokkieafrigter by HSD aangestel is. Hy dien tot 2024 verskeie kere as kaptein van onder meer Durbanville Hokkieklub se 1ste manspan. Pieter het sy NGOS in 2018 deur Unisa voltooi, waarna hy ’n nagraadse sertifikaatkursus in narratiewe berading gedoen het. Hy begin sy NGDip in Teologie in 2023 en voltooi die kursus in 2024. Die titel van sy minitesis is: “Mature leadership as a possible means to help alleviate the negative effects of trauma, depression, and mental health issues through high joy relationships: A neurotheological approach”.
Pieter en sy vrou, Christel, het in 2020 in Zithulele, in die ou Transkei gaan woon tot en met 2023. Daar was hulle betrokke in gemeenskapsontwikkeling en sendingwerk. Pieter het by Sihamba Sonke NWO gewerk vanaf 2020 tot en met 2024. Hy is tans die Senior Jeugwerker en Uitreikekoördineerder by NGK Durbanville-Bergsig. Hy het ’n passie vir die jeug, leierskap en pastorale sorg.

Francois van der Merwe is op 16 September 1993 gebore en het in Roodepoort, Johannesburg, grootgeword. Hy matrikuleer in 2011 aan Helpmekaar Kollege, werk van 2012 tot 2013 by Mosaïek Gemeente as jeug-musiekbedieningsleier. In 2014 begin hy teologie studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Hy behaal in 2016 die graad BTh (Algemeen). Tydens sy studiejare was hy betrokke by verskeie musiekprojekte. In 2015 dien Francois as ondervoorsitter van die Teologiese Studenteraad, en in 2016 as musiekleier by Kruiskerk (NG Moedergemeente). In 2017 ontvang hy die Rektorstoekenning vir Kultuur van die Universiteit Stellenbosch. In dieselfde jaar begin hy by InVia Gemeente werk as musiekbedieningsleier, hoof van tegnologie en pastor vir jongvolwassenes – ’n rol wat hy tot einde 2023 vervul het.
Hy is tans musiekmentor by NG Parke-gemeente in Kraaifontein. Francois se lewenspassie is musiek en die kerk, en sy roeping is gegrond in die kombinasie van dié twee. Hy lees ook graag en is betrokke by verskillende musiek- en videoprojekte. In die Kaapse Wynlande is hy ook bekend as John The Frank, waar hy as sanger en DJ by troues optree. Francois is getroud met Melissa, projekbestuurder by Aitsa! Aftercare in Kylemore, en hulle het twee dogtertjies. Francois is beroepbaar en kan gekontak word by 060 587 7767 of francoisvdmerwe@me.com.

Lisa van der Merwe (nooiensvan: Struwig) is op 17 Mei 2001 gebore en het in Nelspruit, Mpumalanga, grootgeword. Sy matrikuleer in 2019 aan die Hoërskool Nelspruit en begin in 2020 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2023 behaal sy die graad BDiv cum laude. Die titel van haar skripsie, onder leiding van prof LJM Claassens in Ou Testament, is: “Is the Lord still my Shepherd? The relevance of Psalm 23 in the context of South Africa”. Lisa is opgewonde oor leierskap en het in 2021 as BeWell mentor, in 2022 as HK lid- sekretaresse, en in 2023 as primaria van die dameskoshuis, Heemstede, van Universiteit Stellenbosch gedien. Sy verleen as student hulp in 2024 aan haar belydenisgemeente, NG Kerk Nelspruit-Suid, en word in 2025 aangestel as jeugwerker. Gehoorsaamheid aan God, opregtheid en haar gesin is vir Lisa baie belangrik. Sy stel ook belang in stap, lees, kosmaak en dans. Lisa is op 11 Januarie 2025 met Jason van der Merwe, ’n finansiële bestuurder, getroud. Sy kan by 073 884 8060 of lisavdmerwe8@gmail.com gekontak word.

Lea Magdalena Dorothea (Thea) Wait is op 26 Junie 1975 in Middelburg in die Oos-Kaap gebore waar sy ook grootgeword het. Sy matrikuleer in 1993 aan die Hoërskool Middelburg en begin werk by die SAPD op Hofmeyr in die administratiewe afdeling in 1994. Sy tree in die huwelik met Irvin Wait op 12 Januarie 2002 en word verplaas na Cradock se SAPD. Uit hulle huwelik is twee seuns gebore, Ethan in 2005 en Dylan in 2008. Irvin Wait word bevorder in 2009 na Queenstown en hulle verhuis na Tarkastad waar sy haar loopbaan in die SAPD voortsit. In November 2019 aanvaar sy die skribapos by die NG Kerk op Tarkastad. Einde April 2020 bedank sy by die SAPD op Tarkastad en begin voltyds werk by die NG Kerk Tarkastad as bedieningskoördineerder (skriba en koster), diaken asook sangleier. Januarie 2021 begin sy die bedienaarskursus met preek- en erediensleidingsvaardigheid en voltooi die kursus in Oktober 2022. Daarna begin sy met haar BTh graad by Hugenote Kollege en voltooi haar graad in Oktober 2025. Sy het ook die Biblical Greek-kursus voltooi in 2024.
Eensgesindheid, liefde onder mekaar asook versoening lê vir haar baie na aan die hart. Sy hou baie daarvan om by ouetehuise te bedien en is baie lief vir bejaarde mense. Verder speel sy graag muurbal in haar vrye tyd. Sy verhuis permanent na Bluewater Bay naby Gqherba einde van November 2025. Thea is beroepbaar, haar kontaknommer is 082 705 6657 en e-posadres theawait@gmail.com.

Video oor die diensleraars se legitimasiediens:
