The holy and the broken: A cry for Israeli-Palestinian peace from a land that must be shared deur Ittay Flescher
Uitgewer: HarperCollins, 2025
Resensent: Johan van der Merwe
Die skrywer van The holy and the broken is ’n Jood wat die grootste deel van sy volwasse lewe in Australië gewerk het as onderwyser en joernalis. Hy was reeds in daardie tyd sterk betrokke by inisiatiewe om vrede tussen Israeli’s en Palestyne te help bevorder. Nog meer so sedert 2018 in Jerusalem. Daar is hy die direkteur van opvoeding by Kids4Peace, waar 12-16-jarige Israeli en Palestynse kinders (Moslems sowel as Christene) leer om mekaar te aanvaar, mekaar se politieke en geloofsoortuigings te respekteer en saam te bou aan vrede. Die titel van die boek is ontleen aan die bekende trefferliedjie van Leonard Cohen: Hallelujah.
Wat Flescher met sy boek oordra, is dat sowel Israeli’s as Palestyne reeds dekades lank só dikwels aaklige omstandighede moet verduur en mekaar verskriklike dinge aandoen. Tog is hulle nie gedoem of permanent geprogrammeer om só te bly nie! Deur hulle gesigte na mekaar te draai, indringend na mekaar te luister en moeite te doen om mekaar se narratiewe te begryp, kan die lig uiteindelik deurbreek na gedeelde vrede, gebou op gelyke geregtigheid. Flescher verskaf talle aangrypende voorbeelde van Palestyne en Israeli’s wat presies só gemaak het of steeds op hierdie manier saam werk vir vrede.
By my toenemende waardering vir hierdie boek het ek tog ook die volgende opgelet: Anders as wat Flescher meen, kan die totstandkoming van moderne Israel kwalik anders verstaan word as ’n setlaar-kolonisasieprojek, gepaardgaande met onderdrukking, etniese suiwering en selfs volksmoord. Dit is waar dat daar ook soms van Palestynse kant terreurdade teen Israeli burgerlikes gepleeg is en word, maar dit moet begryp word as reaksie op die oorspronklike en steeds voortgaande onreg van die Sionistiese oorname van historiese Palestina. Nogtans is daar heelwat te leer uit Flescher se benadering, al is dit nodig dat die positiewe gespreksbenadering wat hy ten regte bepleit, terselfdertyd vergesel moet word deur ’n ferm strategie van sanksies, boikot en disinvestering teen Israel.
Beskikbaar by die meeste boekwinkels of vir ongeveer R40 op Kindle.
Johan van der Merwe is ’n emeritusleraar van George.
Gids tot aanlyn goed is dalk gemik vir tieners, maar ’n moet vir ouers!
How not to mess up online deur Emma Sadleir en Rorke Wilson
Uitgewer: Penguin Boeke (Suid-Afrika), 2025
Resensent: Pieter Visser
As jy al gewonder het wat ’n Skibidi-toilet is, waaroor die nuutste “six-seven” gesegde gaan of wat dit beteken om “rizz” te hê, is How not to mess up online ’n móét-lees – no cap! Met eg Suid-Afrikaanse humor en skerp insig lei Emma Sadleir en Rorke Wilson lesers deur die doolhof van die digitale wêreld waarin jongmense én hulle ouers daagliks beweeg. Al is dit met tieners as teikengroep geskryf, is dit net so ’n noodsaaklike gids vir ouers wat probeer bybly in ’n wêreld waar aanlyn en in-persoon deesdae onlosmaaklik verweef is – oorheers deur skerms, reëls (waarvan ons nie aldag kennis dra nie) en risiko’s.
Die boek kombineer Sadleir se regskennis met Wilson se vars jong perspektief om komplekse aanlyn kwessies, soos privaatheid, sextortion, pornografie, boeliegedrag en digitale aanspreeklikheid, toeganklik, soms komies en altyd relevant te verduidelik. Hoewel dit nie vanuit ’n Christelike raamwerk geskryf is nie, is dit diep gegrond in die werklikheid waarin gelowiges hulleself ook bevind: ’n wêreld waar “aanlyn” lankal nie meer “anoniem” of sonder nagevolge beteken nie.
Kort voor ek die boek begin lees het, was ek self die slagoffer van ’n aanlyn phishing-slenter en het vir dae lank toegang tot my Facebook-profiel verloor. As ouer van jong kinders wat reeds deur platforms soos Roblox met vreemdes kan kommunikeer, het ek besef hoe vroeg en eerlik gesprekke oor digitale veiligheid en aanspreeklikheid behoort te begin. Hierdie boek help juis daarmee, nie deur vrees te saai nie, maar deur ouers en kinders te bemagtig met kennis en gesonde gespreksriglyne.
Sommige lesers mag vir van die onderwerpkeuses skrik, maar dit is juis hierdie eerlikheid wat die boek waardevol maak. Dit is nie ’n boek wat bangmaak nie, maar een wat bemagtig. Met sy eg Suid-Afrikaanse geur is dit verpligte leesstof vir elke ouer wat hulle kinders in die digitale wêreld wil beskerm én verstaan.
Beskikbaar by die meeste boekwinkels.
Dr Pieter Visser is ’n pastorale fasiliteerder en predikant by die NG Kerk Wierdapark.
