Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

Kennis & konteks: Wat vier Christene tydens ‘advent’? + Wat beteken ‘agnostisisme’?

ADVENT (wat letterlik iets soos naderkom beteken) is tradisioneel dié tydperk in die kerklike jaar waarin die ganse skepping se afwagting van die Messias uitgedruk word. Normaalweg vind die viering hiervan plaas tydens die vier weke wat Kersfees voorafgaan. ’n Mens sou kon sê dat ten minste drie waarhede tydens hierdie tydperk aan die orde gestel word.

1. Die feit dat die skepping (in die breedste sin van die woord) inderdaad die Messias nodig het, en dat advent ’n soort versugting om verlossing is.

2. Ons leef egter ook uit die realiteit dat die Messias, Jesus Christus, alreeds gekom hét, en dat lg versugting in ’n sekere sin klaar deur God gehoor en beantwoord is – ’n waarheid wat altyd in adventsvierings in gedagte gehou moet word.

3. Ons weet ook dat ons steeds wag op Jesus se tweede advent, sy wederkoms, en dat die versugting, wat reeds beantwoord is, hierdeur verder verdiep word. Dikwels tref ons in die Nuwe Testament ’n samebundeling van Jesus se eerste en tweede advent in enkele uitsprake aan, bv as Paulus sê: “Wees bly … Die Here is naby” (Fil 4:4-5). Dit beteken: Omdat die Here gekom hét en wéér kom, is Hy (nou) naby. – Skrywer: JH Cilliers. Bron: eCKE. Vir verdere lees: CW Burger, BA Müller en DJ Smit (red) 1981. Woord teen die lig I/1: Riglyne vir adventprediking. Kaapstad: NGKU. CW Burger, BA Müller en DJ Smit (red) 1990. Woord teen die lig I/7: Verdere riglyne vir adventprediking. Kaapstad: Lux Verbi.  

AGNOSTISISME is as term die eerste deur Thomas Henry Huxley gebruik om te dien as ’n vertrekpunt vir die bestudering van godsdienste. Dit kom van Grieks af: a beteken “sonder” en gnosis “kennis”. Dit beteken dat die persoon wat godsdiens bestudeer, dit benader met die uitgangspunt dat daar geen wetenskaplike bewyse is vir, of kennis is van, die bestaan van God of gode nie. Kennis en geloof is nie op dieselfde vlak nie. ’n Agnostikus kan glo dat wetenskaplike kennis die enigste ware kennis is, en dat daar geen God of gode bestaan nie. So ’n agnostikus is dan uiteindelik ’n ateïs – iemand wat glo daar is geen God nie. ’n Agnostikus kan ook ’n deïs wees wat wel glo dat daar ’n God is, maar dat geen kennis van God moontlik is nie – ook nie geloofskennis nie.  – Skrywer: AS van Niekerk | Bron: eCKE


Hierdie is ‘n reeks waarin ons uittreksels publiseer vanuit die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE), ’n unieke, Afrikaanse geloofsbron wat jou help om die kerninsigte van die Christelike geloof – woorde, geskiedenis, mense en bewegings – beter te verstaan. Verken self by die eCKE-skakel op Kerkbode. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top