Sprokies wat leef! deur Pieter de Villiers
Illustrasies deur Johann Smit
Uitgewer: Naledi, 2025
Resensent: Fay van Eeden
Dit was ’n rowwe dag en ek sien op daarna om vir my dogtertjie ’n slaaptydstorie te lees. Genadiglik sit sy Sprokies wat leef! op my skoot neer en sommer gou is ons twee op planeet Goudsilwer, ver weg van ons realiteit en die dag se uitdagings.
Sprokies wat leef! is Pieter de Villiers se eerste kinderboek. De Villiers, voormalige predikant en navorser, wou al op 10-jarige ouderdom ’n storieboek skryf. Met hierdie bundel sprokies word sy kindertyddroom bewaarheid. Hierdie lekkerleesboek bevat 15 oorspronklike sprokies en spog met baie oulike illustrasies deur ds Johann Smit, wat die inhoud beslis komplimenteer. Anders as die besige helderkleurige buiteblad het De Villiers doelbewus gekies om slegs swart en wit prente in die boek self te gebruik, ten einde kinders se verbeelding te stimuleer.
Sprokies wat leef! is, in ’n tyd waar tegnologie en vinnigepastelevisieprogramme dreig om ons kinders se verbeelding oorbodig te maak, ’n geskenk. Die wêreld sal beslis ’n beter plek wees as álmal (meer) sprokies lees.
Beskikbaar by Naledi.
Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Kerk Stellastraat in Waterkloof.
