Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

annatha nel
Annatha Nel is ’n dominee by twee gemeentes weerskante van die Oranjerivier. Behalwe vir haar gemeentewerk, is sy ook betrokke by die groter kerkstrukture in die land. Sy is voorsitter van die Ekumene-taakspan van beide Noord-Kaapland en die Algemene sinode. Foto's: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Annatha Nel | ‘Die kerk behoort die gom van elke gemeenskap te wees’

Annatha Nel is ’n dominee by twee gemeentes weerskante van die Oranjerivier. Die twee gemeentes, NG Keimoes en NG Neilersdrift, het onlangs ’n samesmeltingsooreenkoms onderteken.

“Die Noord-Kaap kleef maar aan my en die Oranjerivier vloei al soveel jare deur my,” sê sy.

Behalwe vir haar gemeentewerk, is sy ook betrokke by die groter kerkstrukture in die land. Sy is voorsitter van die Ekumene-taakspan van beide Noord-Kaapland en die Algemene sinode.

“Maar gemeentebediening bly my grootste vreugde,” sê sy, “om saam met mense deur hulle vreugde en pyn te reis.”

Oor en oor vertel sy van die groot invloed van die mense in haar lewe. Die inspirasie van haar man, haar kinders, die voorbeeld en ondersteuning van haar ouers en haar vriendinne in die bediening.

“Ek en my vriendin Maryke Hansen het op skool baie saam bedien met musiek. Vandag werk sy vir *LiG. Sy leef haar roeping as kind van die Here op ’n besonderse manier uit. Ons het in twee verskillende denominasies grootgeword en ek onthou nog die dag ná kerk toe ek vir my pa gevra het: ‘Maar hoekom kan ons nie saam kerk toe gaan nie?’ Daardie vraag het my nog altyd bygebly in my bediening en vorming as teoloog. En dan is daar Nioma Venter wat seker die grootste deel van my pad saam met my gestap het, wat steeds my mentor, kollega en vriendin is.”

Na skool het sy eers ingeskryf vir BCom Bemarking in Bloemfontein, maar toe verander sy dit na Teologie.
“Ek het nie ’n idee gehad wat dit is nie. Maar ek het onthou hoe ek vir dominee Michael destyds tydens ons belydeniskamp gesê het: ‘Ek weet nie wat oom doen nie, maar ek moet doen wat oom doen!”

Annatha is ’n besige dominee. En ’n entrepreneur. Sy het onder andere ook ’n skoenwinkel, Voetspore van Hoop.

“Ek en my man pak baie saam aan. My man boer en is ook ’n skaapbemarker en ons het trokke op die pad. Ons is albei entrepreneurs en pak gereeld iets nuuts aan.”

Waar het dit alles begin? vra ek.

Van kleinsaf was sy bewus van die Here se liefde en roeping op haar lewe. Haar ouers se betrokkenheid by die plaaslike gemeente het diep spore in haar hart getrap.

“Ek het van jongs af van Jesus getuig. In Graad 10 op ’n sporttoer het ek binne ’n kinderlike teleurstelling die Here se teenwoordigheid soos nooit voorheen nie beleef,” sê sy.

Na skool het sy eers ingeskryf vir BCom Bemarking in Bloemfontein, maar toe verander sy dit na Teologie.

“Ek het nie ’n idee gehad wat dit is nie. Maar ek het onthou hoe ek vir dominee Michael destyds tydens ons belydeniskamp gesê het: ‘Ek weet nie wat oom doen nie, maar ek moet doen wat oom doen!”

Vandag bedien sy ongeveer 500 lidmate by twee bedieningspunte weerskante van die rivier. Aan die een kant is die wingerde en ander boeregemeenskappe, veeboere en selfs lidmate wat dieper in die Kalahari boer. Aan die ander kant, besigheidsmense en lidmate wat in die korporatiewe wêreld werk, selfs lidmate wat aanlyn vir buitelandse maatskappye werk.

Annatha sê sy glo gesonde ritmes kweek ’n gesonde leefstyl. Daar is niks so lekker as om saam met haar man en kinders op die stoep op die plaas te sit en kuier nie.

Annatha sê sy glo gesonde ritmes kweek ’n gesonde leefstyl. Daar is niks so lekker as om saam met haar man en kinders op die stoep op die plaas te sit en kuier nie. Die plaas is 200 km buite Keimoes. Gedurende die week boer haar man en is sy en die kinders op die dorp. Sy draf gereeld vroegoggend, want sy hou daarvan om haar dag in die vars oggendlug af te skop. En sy sing.

Waaraan hou jy vas as dit rof gaan?

“Dat ek aan Jesus behoort,” sê sy. “Ja, dit klink soos ’n sondagskool-antwoord, maar in my diepste seer en onsekerheid is dit so werklik. Ek volg Jesus, want ek kan nie anders nie. Jesus Christus is my hoop en my redding. Hy gee my rede, nie net om te lewe nie, maar om te floreer, ten spyte van baie dinge, ter wille van sy koninkryk.”

Ons gesels oor die onlangse besluit van die Gereformeerde Kerke oor vroue in leiersposisies.

Annatha sê vandat sy in die bediening is, beleef sy net vertroue, ondersteuning en absolute vryheid om te bedien binne en buite die kerk. Dit is vir haar moeilik om te dink dat iemand vroue, en die kerk en gemeenskap, hiervan wil ontneem.

“Die mag en gesag wat mense hulleself willens en wetens toe-eien om mense so van hulle waardigheid in Christus te ontneem, breek my hart in skerwe,” sê sy. “Ek het nog nooit ervaar dat die feit dat ek ’n vrou is, my van iets ontneem het binne die bediening nie. Vir my was en is die wete dat ek ’n vrou in die bediening is, altyd ’n geleentheid tot nuwe moontlikhede.”

Annatha Nel se voorbeeld in hierdie verband sê meer as wat enige argument kan doen.

Wat is daar wat min mense van haar weet?

“My bynaam as kind was ‘Moana’,” lag sy. “Ek het altyd gemoan – my bene pyn, of ek is honger. Dit was nie maklik om die lang lyf aan die gang te hou nie. En ja, ek is nogal bang vir die donker. My man reken ek is die bangste dominee wat hy ken. As kind sou my broer my daagliks skrik maak, en ek het elke keer weer geskrik.”

Toekomsdrome?

“Ek het baie onlangs eers besef my wêreld is nogal klein en ek sal baie graag nog meer van die wêreld wil sien. Ek het nog baie drome binne die akademie, vir die eenvoudige rede dat ek glo spesifiek as leier en leraar kan jy nooit genoeg weet of leer nie. En kennis kan niemand van jou wegvat nie. Ek droom van ’n ruimte van genesing, spesifiek vir jongmense. Veral hier in die Noord-Kaap het ons min tot geen ondersteuning vir kinders uit gebroke huishoudings. Die kerk behoort die gom van elke gemeenskap te wees, waar grense nie saak maak nie, maar die Naam van Christus verheerlik word.”

  • Die Christelike leefstyltydskrif, LiG, is ’n susterspublikasie van Kerkbode en word ook uitgegee deur Bybel-Media.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Kerk Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top