Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jan Lubbe | Geskiedenis as spieël: Wat 2026 van ons vra

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Waar 2026 tans baie onvoorspelbaar voor ons uitstrek, weet ons wél van ’n paar momente waaraan ons vanjaar as kerke behoort te dink, en wysheid te soek in wat gebeur het (en wat nie, toe dit moes), skryf Jan Lubbe in die jongste aflewering van sy Uit my kerkdagboek-rubriek. 

 

Toe ons die eerste Saterdagoggend van 2026 na die N9 toe aankom, was dit reeds duidelik: Die vakansieverkeer het omgedraai, binneland toe, huis toe. Almal is haastig om te begin. Oor die motorradio hoor jy die jaar het alreeds elders begin: In Venezuela, in Iran, in Groenland, in Potchefstroom, in Minneapolis. By Mosselbaai brand dit verskriklik en die Krugerwildtuin verdrink. In ons gedagtes draal nog die stilte en sterre, volmaan en mooi bome langs Nieuw-Bethesda se strate. En die groot, groen glasoë van Helen Martins se uile, asof hulle iets ver uit die ooste sien aankom.

LEES OOK | Terugblik op kerknuus in 2025: Namibië, Vrystaat, Gasa en Groote Kerk … Hierdie stories het prominensie geniet

Net anderkant die Lootsbergpas dam die verkeer op. Van voor af het twee ambulanse verbygekom. Ligte flits, sirenes loei. Verkeerspolisie beduie almal moet van die pad af en langsaan verby. Soos in ’n stil, stadige film die ongelukstoneel: veiligheidslinte, merke op die pad, gebreekte glas, flenters bagasie, hier een motor verfrommel, daar ’n ander op sy dak. Onder die boom sit ’n man in sy veertigs verwese, met net sy hond …

“Voorspoedige nuwejaar”, het soveel WhatsApps nog gelui.

Hoe gaan hierdie jaar wees, as dit só begin?

Veilig tuisgekom, kyk ons saam die ontstellende film “Nuremberg”, oor die Nazi-verhore van 1945/46; oor hoe donker idees gewone mense op sleeptou neem, moreel verblind, magsdronk maak, emosioneel afstomp, verskrikking laat pleeg. “The Nazis are not unique people. There are people like the Nazis in every country in the world today”, kom die sielkundige, dr Douglas Kelley (gespeel deur ’n briljante Rami Malik) tot ’n snydend-eerlike gevolgtrekking. Dit is asof jy Paulus in Romeine 3 hoor sê: “Almal het gesondig …” (vers 23). En eindig die film abrupt met dié aanhaling van RG Collingwood (1889-1943): Geskiedenis is daar vir ons selfkennis; “the only clue to what man can do is what man has done.” Kyk terug, en leer. Wees wakker, wees anders.

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kersgebed vir stilte en vrede

Waar 2026 tans baie onvoorspelbaar voor ons uitstrek, weet ons wél van ’n paar momente waaraan ons vanjaar as kerke behoort te dink, en wysheid te soek in wat gebeur het (en wat nie, toe dit moes).

Eers ver terug, twee-en-’n-half eeue, na die konstitusie van die Verenigde State van Amerika – 1776 – wat die gelyke reg van alle mense erken om in vryheid te leef en geluk na te streef. Sewentig jaar gelede – in 1956 – het juis hulle soeke na hierdie regte, Hongaarse studente teen die Stalinistiese bewind uit die USSR laat opstaan. ’n Halfeeu gelede – 16 Junie 1976 – het dit ook in Suid-Afrika gebeur, in Soweto en toe verder deur ons land: eers die skoolkinders en studente uit protes teen Afrikaans as taal van onderrig; die vryheidstryd wat sou ontbrand. Uiteindelik in 1996 – dertig jaar gelede – ons eie grondwet, wat aangrypend begin: “We, the people of South Africa believe that South Africa belongs to all who live in it, united in our diversity.” Vanjaar, 2026, is ’n jaar waarin dit helderheid van denke sal verg en die moed van ons Christelike oortuiging, om in ’n wêreld waarin mag verheerlik word, die reg vertrap en mense gepolariseer, op te staan vir die vryheid, veiligheid en verantwoordelikheid van die individu. Tússen ander, ín ’n diverse samelewing …

LEES OOK: NG Kerk versterk steun aan maatskaplike dienste, vergroot rampfonds en beplan konferensie vir predikante in Augustus 2026

Daar ís ook al hieroor gedink, inderdaad, ín ons kerkfamilie. Veertig jaar terug na 1986, toe ’n beleidsdokument getiteld “Kerk en Samelewing” deur die Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar is, en die “Belydenis van Belhar” deur die destydse Sendingkerk (vandag VGKSA). “Lidmaatskap van die NG Kerk is oop vir almal wat in Jesus Christus glo”, het die NG Kerk dit in die taal van die tyd gesê. “Ons glo aan een heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”, het die NGSK bely; in “die versoeningswerk van Christus”; “in God wat geregtigheid en vrede onder mense wil bring”. Ons sal as ’n familie van kerke uit die één Moederkerk móét vra waarom dié woorde vier dekades oud geword het, en ons steeds so vervreemd van mekaar staan …

LEES OOK: Leiers gee terugvoer van regoor die land: ‘Ons hoor baie identiteitsvrae onder lidmate’

En dan, die afgelope dekade. Tussen daardie buitengewone Algemene Sinode van 2016 (NG Kerk) en die pasafgelope Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika lê verskeie ooreenkomste: die vraag na die vertolking van die Skrif as Woord van God; na die (gelyk)waardigheid én unieke van die beeld van God in álle mense; na hoe presies Christus sy Kerk deur Woord en Gees – en in vergaderinge – regeer; na die vraag of geslagtelikheid jou geskiktheid vir die roeping tot amptelike Woordbediening bepaal; na die verhouding tussen ’n sinode en gemeentes as gestaltes van ons eenheid in Christus. Agter die NG Kerk lê tien jaar van uiters gespanne gesprekke hieroor, die pad waarop die GKSA nou met gemeentes wat van hulle sinodebesluit verskil, wil gaan …

Die waarde van geskiedenis is dat dit ons leer wat mense gedoen het, en dus wie mense regtig ís – aldus Collingwood. Al hierdie datums het vanjaar vir ons iets te sê, en noop ons om diep in die spieël te gaan kyk. Onsself af te vra: Waaroor gaan dit eintlik, waarvoor is ons hier, waarmee behoort ons besig te wees, in 2026?

Wat my terugneem na 3 Januarie en die man en sy hond onder die boom by die ongeluk op die N9. En die twaalf kinders wat op pad skool toe in ’n roekelose taxi gesterf het. En hulle ouers. En die enkelma. En die jongman wat nie werk kry nie. En die boere wie se beeste siek word. En die armes. En dié wat bejaard geword het. En die sterwendes in die Hospice. By ál die groot sake waaroor ’n kerk ’n profetiese getuienis behoort te hê, is dit priesterlike bewoëndheid wat van ons ware medemense maak, en van die kerk, kerk. ’n Ruimte – en mense – wat ánders is. “Volmaak en barmhartig soos julle Vader”, was Jesus se gewigtige woorde (Matt 5:48, Luk 6:36).

Dán loop ons – en ál die ander op die dorp – dié onbekende jaar nie alleen in nie.


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Kerk Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top