Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kersgebed vir stilte en vrede

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tagtig jaar, twee maande, negentien dae en drie ure later, klim ons uit die trem, digby die brug. Op een foto staan daar ook so ’n trem. Uitgebrand, in ’n gans verwoeste landskap vol puin en swart boomstamme wat soos verskroeide vingers stom hemelwaarts wys. Op ’n ander foto, ’n horlosie waarvan die wysers vir altyd op kwart oor agt gaan staan het. Onderaan, teen die donker muur: “August 6, 1945”. Rondom die trem, toe ons uitklim, ís daar ander verkeer wat stil verbygaan. Fietsryers en voetgangers vleg versigtig deurheen; groepies kinders en toeriste, gedempt aan’t beduie. Dis ’n bewolkte dag, en dadelik val dié stilte my op. Onder die brug deur vloei die breë Motuyasu-rivier, asof in swygsame herinnering aan 78 000 mense wat daardie verskriklike Maandag die verskiet in is…

LEES OOK | 2025: Jaaroorsig by monde van uiteenlopende onderhoude

Ná die 27ste vergadering van die World Communion of Reformed Churches (WCRC) in Chiang Mai, Thailand, is ons as afvaardiging van die NG Kerkfamilie na Japan. Benewens ontmoetings met ringe en kommissies van die Reformed Church in Japan (RCJ), ook om hul sinodesitting by te woon – ’n historiese geleentheid; die RCJ gedenk hul 80ste bestaansjaar as kerkverband. Stephan en Carina van der Watt en hul gesin, saam met Tobie en Annalie de Wet van Missie Japan, het ons gasvry by die Kobe Theological Seminary ontvang. En, … ons die Saterdag na die plek van Groot Stilte geneem.

LEES OOK: In Memoriam | Oorsig: Hulle sterf in 2025

Die halte waar ons trem stop, is by ’n hoek van die gedenkterrein in die hart van Hiroshima; ongeveer reg onder die punt waar die atoombom op 6 Augustus 1945 bokant die stad ontplof het. ’n Paar tree verder, die ikoniese Genbaku Koepel, een van min betonstrukture uit die ou stad wat redelik staande gebly het; al die werknemers binne die gebou is daardie oggend op slag dood. Nou heet die gebou: Heiwa Kinenhi – Vredesmonument. Die hele gedenkterrein adem dit: Vrede, en ’n eerbiedige stilte. In die museum, ’n derde foto: Teen 11:00 die oggend het oorlewendes op die brug versamel, baie onherkenbaar verbrand, baie verblind, smagtend na koue water vir hul dorstige kele, verdwaas. Niemand weet wát gebeur het nie – nog nooit, só iets! Net dít: ’n Moment van ondenkbare stilte in die gewone Maandagoggendgedruis in die strate, net ’n oomblik, asof iets verdwyn; toe die verblindende wit ligflits, alles wit, alles; toe die oorverdowende knal en toe die windstorm en vlammehel. Elia op Berg Horeb, óók só: God nié in die rukwind, die verbryselde rotse, aardbewing of vuur nie, maar toe kom daar ’n stilte, en ’n wete. “En Elia het sy gesig met sy mantel bedek.” Oorgawe.

LEES OOK: Tussen verlies en vooruitskoue: Die ASM in November

Teen Desember daardie jaar, het bykans 140 000 mense – ’n derde van Hiroshima se inwoners – omgekom; òf die Maandag òf deur weke van helse lyding daarná. Wat ek nie geweet het, is dat die Amerikaanse besettingsmag van 1945 af vir sewe jaar alle inligting oor die voortgaande uitwerking van die atoombom – die dodelike effek van massiewe radio-aktiewe bestraling in Hiroshima – stilgehou het. Eén só ’n geval, die dogtertjie Sadako Sasaki, wat as tweejarige die slag oorleef het, het ’n dekade later leukemia gekry. ’n Japanese legende het gelui dat as jy ’n duisend origami kraanvoëls uit papier kon vou, ’n wens jou gegun sou word. Sy’t begin en gevou en gevou, 1 300 kraanvoëls in haar hospitaalkamer. Haar wens: Nooit weer ’n A-bom. Nooit weer 38 000 kinders wat só sterf. Oral op die gedenkterrein lees jy die spreuk: “No more Hiroshimas”. Oral kom daar op ons oggend duiwe aangesweef en gaan sit op die gedenkteken vir gestorwenes, waar ’n vlam dag en nag brand. Langs een wandelpaadjie neergesit, bring ’n blommekrans van blou en geel my tot stilstand: “From the Delegation of Ukraine”. Oorkant die brug staan die Kindervredesmonument ter herinnering aan Sadako, ’n inisiatief van haar skoolmaats. Oral onder die bome daar, hang origami kraanvoëls – van oraloor die wêreld deur kinders gevou en aangestuur, drome van ‘n toekoms sonder kernwapens. Bó, op die spits, ’n bronsfiguur soos Sadako Sasaki, wat in haar arms, heelbo, ’n kraanvoël vashou. Daar hang ’n klok wat jy kan lui. Eers toe ek die inskripsie mooi bekyk – want my oë het wasig geword – besef ek: Dis Saterdagoggend, 25 Oktober; dit is haar sterfdag, sewentig jaar tevore, 1955. Die klok lui, en beier deur die stilte my versugting: “Here, skenk ons vrede.”

LEES OOK: The holy and the broken + How not to mess up online

“Welkom, o stille nag van vrede… Hoor jy hoe sag die klokke beier… Kyk, selfs die nagtelike swye…” sing ons gemeente in die Kerssangdiens ‘n maand later. Daar was nóg sulke momente van ‘n diep stilte wat jou tot besinning roep, dié afgelope tyd. Toe ’n kerkleier uit Myanmar vooraf in ’n WCRC-werkswinkel sê: “Don’t come to the camps. It will disturb you, but it will not help us. You can send food or money and it will help us survive another day, but nothing will change. Only God can stop this, please pray.” Ons hét na die vlugtelingkamp teen die grens van Myanmar gegaan; ons hét die mense se verhale van verlies gehoor; ek hét die graffiti by die watertenk gesien, “God is love”; ek hét Shwe ontmoet, die twaalfjarige dogtertjie met haar notaboek, potloodtekeninge en kinderglimlag. Toe sê een vrou deur die tolk: “Thank you that you came to us and that you didn’t ask whether I’m a Christian or a Budhist, but that you shared God’s love with us all.” In die stilte van die lang busrit terug na Chiang Mai, blý haar woorde my by.

Drie weke later by eMseni, Kemptonpark: Dis die ASM-vergadering; ons praat oor die kanker van korrupsie. Pas het prof. Anton van Niekerk – die vader van Bouwer, die prokureur wat sy lewe gegee het in hierdie bloedige stryd in ons land – hul verhaal as treurende ouers gedeel, en die gebed van Guido Gezelle: “O leert mij, arme dwaas – hoedat ik bidden moet.” Ons almal steek ’n kers aan, op elke kers die foto van ’n fluitjieblaser wat vermoor is. Deur die wasigheid van my oë sien ek voor my op dié kers, die gesig van Babita Deokaran. Een van die stilste oomblikke wat ek ooit in ‘n kerkvergadering beleef het.

Foto: DJ Muller

In dié soort stiltes, onverwags, ontmoet God mens. Sien jy jouself skielik soos Hý jou sien. Word ’n voorneme gebore oor jou lewe tussen ander, in ’n donker tyd, soos nou. Daarom, as ons dan Woensdagaand of Donderdagoggend “Stille Nag” sing, laat ons vir vrede bid. Oral. Dít was die engelekoor se lied (Lukas 2:14); dít was Jesus Christus se groet: “Vrede vir julle!” (Lukas 24:36).

Geseënde Kersfees! 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top