Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Wat is die béste uitkoms vir die leser van comments onderaan berigte oor veral Afrikaanse kerke met apartheidbagasie?
Gestel vir ’n oomblik daar is ses winspunte daarin?
- Die verskeidenheid van stemme help my om die subjektiwiteit van my eie oortuigings raak te sien.
- Dit stel my gerus dat ander mense ook noukeurig deur die teks is omdat die kollektiewe twak-alarm meer betroubaar as my eie is.
- Ek kan myself intyds plaas op ’n reaksiespektrum wat selfinsig oplewer.
- Die kommentaarblad lok spesialiskundiges met aanvullende perspektiewe en op Reddit-agtige wyse word die artikel meer as die som van sy bestanddele.
- Comments skep ’n soort boere-“midrash” wat vir my sê hoe om te dink as ek nie wil dink nie en dit laat my geborge voel.
- Dit help my om in die middel van die kudde of aan die rand van konsensus te bly en verminder sodoende die kans dat ek my persona weerspreek.
Indien alle of enige van hierdie kognitiewe bonusse teenwoordig is, hoekom vóél die lees daarvan so goor? Wat gaan aan? Wat skuil onder die negatiewe plesier daaraan verbonde om die kommentaarafdeling by kerknuus te lees?
- Verwoord die gedisinhibeerde anonieme deelnemer my eie church hurt beter as wat ek self kan?
- Voel ek self slegs lekker wild as iemand anders iets wilds kwytraak?
- Skud die vrolike post-teïs my vir ’n wyle uit die trance waarin ek sedert my doop loop en sien ek meteens die kulturele erfgoed wat my siel in die naam van godsdiens kerker?
- Voel ek ongeregverdigd meerderwaardig?
- Voel ek ’n veer én skuldig daaroor?
- Skep die geheelbeeld van al die blaaie en blaaie en blaaie se comments wat die beriggie verdring ’n soort teologiese Kamp Staaldraad … ’n uithou-naweekagtige belewenis waarná ek die rekenaar kan toeklap en in die woorde van die digter William Stafford finaal kan sê:
ask me what difference
their strongest love or hate has made.
Die josie in
Kommentaar-afdelings is met goeie rede dikwels ’n rowwe buurt. Soos Tobias Rose-Stockwell uitmuntend verduidelik in Outrage machine word heelwat van die internet aangedryf deur negatiewe emosionele reaksie. Dit is ’n doelwit, nie ’n glips nie. Dit dryf deelname en “engagement” as kroonprins van maatstawwe in die webekonomie. En die woede-boere is nie bots of ’n paar vrot appels iewers in ’n kelder nie. Dis algoritmes wat op skaal werksaam is in hoofstroomplatforms én in die storie-struktuur-konvensies wat daagliks vorm aanneem in hoofstroomnuuskantore op grond van watter inhoudsoorte klieks kry. So daar is steeds ’n menslike hand in alles. Dit is nie net die blikbreine wat ons die harnas injaag nie. Ons kies invalshoeke op stories en reageer comment vir comment daarop op wyses wat strook met wat ons aanvaar as die orde van die dag, die norm, toelaatbaar, cool. Die skrywer haal die tegno-etikus Tristan Harris se kleurvolle beskrywing van die dinamika aan as synde “a race to the bottom of the brain stem.” En daar, vanuit my reptielbrein, reageer ek op die kommentaar van ander of bedink ek die invalshoek van my volgende artikel en ’n opskrif wat my ’n magdom klieks en aandag sal besorg.
LEES OOK: Mediarubriek | Wat’s nuus? Wanneer die leser nie jou stem mis nie
Enter, die kerk …
“Mense het nie energie vir sulke tjol nie,” hoor ek ’n man onlangs na aanleiding van ’n kerkdebat wat wyd buite die betrokke kerkverband bespreek is, sê.
Sy vrou, wat langs hom sit, beaam dit en vertel van ’n kennis wat aan haar gesê het: “Dis hoekom ek nie by die kerk wil wees nie. Want julle stry nog (hieroor).”
Maar dan voeg die vrou iets by. “Dis die reaksie van mense wat church hurt het.”
Haar punt is dat kerkdebat op Potch, Benoni of in Rome die kerkwonde van vele binne en buite die kerk oopkrap en dat ’n mens dit moet verstaan om baie van die reaksies te verstaan.
Wat is Church hurt?
Church hurt is ’n informele term vir die soort verwonding wat kerkleiers of mede-kerkgangers ’n mens kan aandoen. Die Sondagskoolonderwyser wat bedreig voel deur ’n slim vraagstellende kind en kwetsend reageer. Die onervare pastor wat smart of skuldgevoel lompweg vererger en vergroot. Die oorentoesiastiese kringleier of televangelis wat nie weet wat hy nie weet nie en met sy hansworsskoene oor iemand se heilige grond ploeter. Die goed gebeur en die boekrakke en comment sections is oorlaai van mense wat spesifiek hiervan getuig. Ongeag wat die afgesproke onderwerp is, daai is ’n immergroen tema. Want jare, dekades ná die voorval lê die pyn nog vlak, die woede is gekrop in die stembande. Dit het ’n reus geword.
Gif van godsdiens
Wyle prof Willem de Klerk, om maar een te noem, het met sy sielkundige insig helder geskryf oor die wyse waarop godsdiens ook “gif” kan wees. Dit gebeur volgens hom as godsdiens die kwaliteit van nugterheid verloor. Angstige preokkupasie met skuld, infantiele eise aan God, ’n oordrewe, ongebalanseerde beheptheid met spesifieke leerstellings … Dit is van die kenmerke wat hy lys in Die vreemde God en sy mense, wat in 1998 by Human & Rousseau die lig gesien het. Die predikant en hoogleraar skets die skade wat godsdiensverkondigers kan doen as volg: “Hulle skep Godsbeelde en mensebeelde en sondebeelde en strafbeelde en ewigheidsbeelde, wat vir die mense nagmerries word. En dan grond hulle dit nog eensydig met vers en kapittel op die Bybel.”
Leaving the fold
So church hurt klink met ander woorde eenvoudig na die logiese uiteinde van Bible-bashing. Maar dit is ook ’n breër idee, as ’n mens die broodkrummels van navorsing volg en weldra by die Amerikaanse sielkundige Marlene Winell uitkom. Sy bied ’n uiteensetting van godsdienstraumastoornis (Religious Trauma Syndrome) en beskryf dit as “the condition experienced by people who are struggling with leaving an authoritarian, dogmatic religion and coping with the damage of indoctrination.” Sy voer aan dat beide traumatiese gebeure binne die betrokke sisteem asook die proses van wegbreek daarvan, swaarkry en selfs lyding kan veroorsaak.
Winell probeer met werke soos haar boek Leaving the fold insig bied tot hoekom dit dikwels nie ’n “skoon breuk” vir iemand is wat probeer wegkom van, byvoorbeeld, ’n kerk of gemeente nie.
Hier is my afleiding: As daar wesenlike lyding buite die kerk maar weens die kerk heers, verklaar dit heelwat van hoe gesprek oor die kerk neig om uit te speel in kommentaarafdelings op die web.
Waarheen gaan ’n mens immers met verwyt teenoor ’n vergeldingsgod en die gevoel van teologiese verraad wanneer jy ’n geloofsisteem of geloofsgemeenskap verlaat? Wie moet dit aanhoor indien nie die geloofsgemeenskap self nie? Dit sal glib wees om hierop bloot te sê hurt people hurt people, maar dit verklaar tog iets van die “gekruisde lyne”-gevoel wat dikwels comment threads deurspek: “Ek weet julle praat dáároor, maar hoor my seer!”
Die leser voel dalk dat comments 80% van die tyd “van die punt af” is, maar ’n ander perspektief is dat dit 80% van die tyd wond-sentries is. Veral in Afrikanergeledere.
- Niemand gee afname in morele gesag toe nie (dit verwond my sanity).
- Julle predik eenwording maar beweeg weg van mekaar (dit verwond my integriteit).
- My suster / broer en dié se Charismatiese vrinne bid vir my ongeloof terwyl ek nie myself as ’n gebedsaak beskou nie (dit verwond my selfbeeld).
- Ek verwerp my ouers se geloofsantwoorde en vrees my eie geloofsvrae (dit verwond my lojaliteit en selfvertroue).
Dalk geld dit net vir ’n sekere generasie (Boomers en Gen X) en uiteraard net vir ’n persentasie van hulle, maar die kollektiewe subteks wat my interesseer uit ’n uiters onwetenskaplike steekproef van comments wat ek op platforms soos Netwerk24 en ’n aantal Facebookblaaie gelees het, is die een wat só klink: Ek is kultureel ontredderd, familiaal geïsoleerd en onseker oor my wêreldbeskouing nie ten spyte van Sondagskool en die kerk nie maar weens Sondagskool en die kerk.
Winell merk op: “Even in the commonly used list of psychosocial stressors, amidst all the change and loss and disruption, there is no mention of losing one’s religion. Yet it can be the biggest crisis ever faced. This is important for us because people are leaving the ranks of traditional religious groups in record numbers and they are reporting real suffering.”
Vele splinters in die geheelbeeld
Terug by Willem de Klerk. In Die vreemde God en sy mense verduidelik hy die ses “soorte” Christene in Suid-Afrika in ’n gedeelte van die boek wat my help om hieroor te dink en breedvoerige aanhaling regverdig.
De Klerk se lys, opgesom:
- Die toegewydes – Hoewel daar die gevaar is dat hulle kan verval in dwepery of oorentoesiasme, meen De Klerk hulle openbaar ’n suiwer eenvoud en oorgawe aan Jesus as Saligmaker.
- Die vasbyters – Hierdie groep behoudendes word volgens De Klerk as die ruggraat van die Kerk bestempel. Dit gaan vir hulle oor die ordelike weg en die kerk as instituut wat alles deeglik weeg teen die Bybel. Hulle beoefen wat De Klerk beskryf as “geslotesisteemteologie” (rigiede teologie). “In beginsel is hulle oop vir hersiening, as dit uit die Bybel bewys kan word. In die praktyk tree hulle op asof daar vir ewig klaar gepraat is.” Sterk rasioneel, skepties oor innerlike ervaringslewe van self en ander.
- Die neutrales – Hulle gesprekke oor godsdiens is “afsydig en skepties meer as aggressief,” meen De Klerk. Hulle teologie “beweeg in die klimaat van die agnostiek”. Agnotici beskryf hy as soekers wat nie wil vind nie … Die soeke self is opwindend en daarom kry julle hulle ook in kerke.
- Die verwerpers – Godsdiens is ’n “nostalgiese verlange van ’n onvolwasse gees”. Oor hierdie groep merk hy op: “Dit is nie ’n vergesogte vermoede nie dat baie ateïste se name nog op kerkregisters staan. Die kerk en die betrokke persone ontstel hulle blykbaar nie daaroor nie. Hulle ignoreer mekaar baie dikwels. Dit sê nie veel vir albei se eerlikheid nie.”
- Die ekpserimenteerders – As hoofstroomkerke vir hulle passief of vervelig raak, breek hierdie groep nie openlik weg nie, maar ontdek alternatiewe uit ander geloofstradisies om mee te eksperimenteer. Hulle onttrek in die natuur, beoefen helende beweging, voltooi kursusse in selfontdekking. Hulle lees oor New Age en / of leer by Jung.
Hier is die interessante ding. Die sesde groep, wat De Klerk uitlig as herkenbaar in vele kerke, openbaar volgens hom vele onderlinge soorte. Dit wissel van aktiewe gelowiges tot opregsoekendes, van protesterendes tot onttrekkende twyfelaars. Hierdie groep heet die Ondervraers. Vrae handel gewoonlik oor temas soos die Godsbeeld, die Bybel as onfeilbare openbaring, Jesus se maagdelike geboorte, die aard van die hel, God se beheer oor die skepping, gebedsverhoring ens. Twyfel het hier positiewe waarde en vraagstelling kan lei tot groei, meen De Klerk en hy som dit bondig op: “Die vraers soek sekerheid oor presies wat hulle glo en wat hulle nie hoef te glo nie.”
Ek kry meteens die beeld van comments as ’n kaleidoskoop. Of ’n skildery van ’n straatoptog of ’n foto van ’n vol pawiljoen. Iets om ook soms eenvoudig met verwondering te bekyk.

Reeds in 1991 skryf Annes Nel sy boek “Op soek na God… buite die kerk.” Die subtitel is “Wen weer ontnugterde gelowiges se vertroue”. Dis ontstellend om te sien hoeveel tipe kerk-seer daar by mense is, baie meer as wat ons besef. Daar is ‘n “behoefte aan ruimte, sensitiwiteit, integriteit en leiding” by (oud-)lidmate van die kerk. Ons maak mekaar onnodig seer. Lees maar net dieper as die skerp woorde in die “comments”.
Mense reageer emosioneel omdat die kerke oor die jare eindelose hoeveelhede onwaarhede en valshede as die wil God gesmous het. Ek is ook weg uit die kerk vir dieselfde redes. Ons is vertel dat Genesis 1 en 2 historiese feite is by ‘n selgroep. Dit was vir my die heel laaste strooi. Intussen het ek ‘n ateis geword. Die lewe is veel beter so.