In die vorige rubriek het ons geskryf oor klagtes oor bestaande beriggewing. Maar wat as ’n nuuspublikasie se stem gewoon verdwyn?
Die krag waarmee die stringe kleinformaat-stories op Instagram, YouTube Shorts, Facebook Reels en TikTok ons oë boei en ons duime mesmeraais dui op ’n radikaal nuwe nuus-dieet op die globale spyskaart en joernaliste sit lank nie meer aan die hoof van die nuustafel nie.
Natuurlik doen sommige nuuskantore se joernaliste steeds puik werk en blink uit via sosialemediaplatforms se spesifikasies en voorgeskrewe gedaantes. Maar die joernalistiek as geheel skuif weg van die middelpunt.
LEES OOK: Mediarubriek | Wat’s nuus? Wanneer joernaliste se keuses tot konflik lei
Joernaliste dien toenemend as “een bepaalde interpreterende gemeenskap”, volgens prof Herman Wasserman. “Instead of reasserting the authority of journalism and media professionals … we would seek to redefine journalists’ and media practitioners’ relationship with their publics and use their technical skills to find new ways of building connections,” het Wasserman tydens sy intreerede as hoof by die Departement Joernalisitiek aan die Universiteit Stellenbosch in Julie 2024 gesê.
Wat beteken hierdie insig vir ’n publikasie soos Kerkbode? Eerstens, aanvaarding.
Vir ’n koerant is daar een ding erger as om ’n prominente storie te mis. Dit is om agter te kom dat lesers nie jou publikasie se stem in die gesprek daaroor mis nie. En tog is dit ’n belangrike les om te leer oor die nuwe, meer beskeie posisie waarin die nuuskantoor hom vandag bevind. Vir ’n kerknuuskantoor is daardie waarheid dubbeld waar, omdat ook die kerk se gesag aan die rand gestel word. Die NG Kerk se koerant beklee uiteraard ’n gans ander posisie in die Suid-Afrika van 2025 en op ’n sekere vlak dink ’n mens aan die woorde van Churchill en wil sê, ons het baie om oor beskeie te wees. Maar twee goed kan tegelyk waar wees. Daar is wel ’n sinvolle rol wat ’n 176-jarige publikasie soos Kerkbode met waardigheid kan speel. En dit het nie te make met ’n terugverlange na die hoofkarakter-energie van weleer nie. Dit het te make met die bou van die soort konneksies waarna Wasserman hierbo verwys. Maar hoe?
Likes en klieks en woede
In Outrage Machine draf Tobias Rose-Stockwell die leser deur die geskiedenis van die moderne mediamasjien en bied ’n soort tegno-sosiaal-sielkundige uiteensetting vir die redes waarom hy aanvoer groot dele daarvan ontwerp is om jou die harnas in te jaag. Algoritmes bepaal watter inhoud jy sien, maatstawwe soos aantal “likes” of “shares” vorm jou denke en morele emosies (dink gesiggie-ikone) vorm kettingreaksies waar een persoon se verontwaardiging die volgende persoon s’n aanpor.
Die boek is 363 bladsye lank en bied daadwerklike insig en selfs wenke vir enige een met ’n slimfoon en twyfel oor sy / haar eie leesgewoontes daarop. (Teen die einde van die boek lys Rose-Stockwell byvoorbeeld vier vrae as jy vind dat sommige inhoud jou “trigger” tot langdurige emosie-warboele.
- Is dit waarna ek kyk iets wat ek kan gebruik om my eie of iemand anders se lewe te verbeter?
- Raak dit waarna ek kyk iemand wat ek persoonlik ken?
- Is hierdie ’n regte probleem of is dit aanbieding buite proporsie?
- Voel ek beter oor myself nadat ek ’n beduidende tyd op hierdie diens deurgebring het?)
Maar ons dwaal af! Die vraag is waar die kwynende middelpuntligging van joernalistiek ’n reeds nispublikasie soos Kerkbode laat?
Toe gehalte-dagblaaie en hulle webwerwe lank gelede ’n sentrale stem in die gesprek oor nuus was – was dit ’n verleentheid om “agter” te wees met groot nuusgebeure … Deesdae is dit algemeen vir joernaliste om gewoon aan te sluit by bestaande stories. Sommige nuuskanale gee ’n bietjie van hulle eie nuus en lees dan gewoon voor wat op sosiale media “trend” en probeer ’n bietjie vleis om die been sit. Ander steun fundamenteel in hulle beriggewing op die veelsydige invalshoek: “Dit gons op sosiale media oor …” Hierdie trending stories het natuurlik inherente nuuswaarde (of ten minste kliekwaarde), maar wag op geen manier vir koerante om dit nuus te doop nie. Selfs Kerkbode het daar gaan draai met ’n “Elders gesien”-afdeling, waar ons ter wille van die ewige vraag na vars – maar vinnige – inhoud, meer aandag gee aan waarmee ander besig is.
Dit is in só ’n wêreld, waar jy selde eerste is met nuus, waar ons gewoon sê: As alles nuus is, is niks nuus nie. Die kriteria mag verander en tred hou met die tye, maar kriteria moet daar wees. Sommige stories gaan ons geheel en al mis. En om ander gaan ons heerlike wye draaie stap.
Rose-Stockwell herinner lesers aan die soort dienskneggestalte wat joernaliste kan inneem in gemeenskappe.
Het dit gebeur? Wat is belangrik? Wat maak dit saak? Hy verwys na Corroboration, Curation en Critical Opinion. Dit vervang nie nuuswaardes nie (dit gaan jou nie help besluit of ’n storie ’n storie is nie), maar dit is iets om aan vas te hou wanneer almal langs jou op die piesangskille van fopnuus en vals konteks gly. Dit is vrae waarmee jy ’n band met ’n leser kan bou.
