Só klink twee van die baie soorte gesonde maar uitdagende terugvoer wat ’n joernalis by ’n publikasie soos Kerkbode mag ontvang:
- Julle moes nie hieroor berig het nie.
- Julle moes hieroor berig het.
Die eerste bevraagteken beriggewing en / of die uitwerking wat dit mag hê. Die tweede bevraagteken die gebrek aan beriggewing en / of die uitwerking wat dit mag hê.
In gewone taal klink dit dalk so:
- Julle blaas die ding aan.
- Julle swyg die ding dood.
Dit is uiteenlopende aanklagte wat ’n mens apart moet bekyk. Maar dit berus op dieselfde beginsel. Beide aantygings kan benader word as uitnodigings tot redaksionele deursigtigheid, wat eerlikheid en ’n mate van weerloosheid verg. En die vrug van sulke deursigtigheid is konteks vir besluitneming eerder as konsensus.
Kom ons begin by ’n punt.
Scenario A: Klag teen bestaande beriggewing
Vier vinnige toetse help ons. Wat is fout in die berig? Hoekom is dit nuus? Wie het jou toestemming gegee om hieroor te berig? Waarmee is julle besig?
Elk het so ’n bietjie meer om die lyf.
Wat is fout in die berig? Die beginsel van akkuraatheid
Was daar feitefoute in die berig? Is iemand verkeerd aangehaal in ’n direkte aanhaling? Is ’n naam verkeerd gespel of ’n persentasie verkeerd bereken? Is daar ’n nul te veel of te min in ’n taakspan se begroting geplaas? Was als in die berig, kom ons noem dit, kleinletter-reg?
Daarna, wat van grootletter-Reg: Is vals konteks geskep vir iets in die berig? Het die joernalis gesê “dit gons in die NG Kerk” wanneer jy voor jou siel weet dit is onakkuraat of gewoon lui om dit so te stel? Is ’n bron se argument onjuis aangebied? Is noodsaaklike stemme weggelaat uit ’n berig? Is iets uit proporsie gehaal: Byvoorbeeld, ’n kantopmerking tydens ’n vyf-uur-lange vergadering oorheers die wesentlike eerder as om dit aan te vul in die berig.
’n Mens kan dalk reeds aanvoel daar is vele maniere om ’n ding verkeerd te kry op hierdie gebied! Maar dit is by die meeste publikasies ten minste herstelbaar met die belangrike meganisme van ’n regstelling en / of verskoning: Mnr So-en-so is in ’n vroeëre weergawe van hierdie berig as volg aangehaal, maar sy woorde was inderwaarheid: …
Die gebruik, met toestemming, van ’n stemopnemer is terloops hier belangrik omdat dit ook soms gebeur dat die spreker met nalees van sy / haar eie woorde veel groter omsigtigheid en nuanse eis as wat hy / sy self aan die dag gelê het.
Hoekom is dit nuus? Die beleid rondom nuuswaardes …
Die mees algemene nuuswaarde is die een wat die meeste deur digitale media ontwrig is, naamlik nuwigheid. Het dit pas gebeur en stel lesers belang? Die spoed waarteen inligting beweeg en die magdom roetes wat sosiale media daarvoor moontlik maak, maak dit egter moeilik vir selfs die mees gevestigde nuusplatforms om deesdae werklik “eerste” met algemene nuus te wees (daarom die groot belegging in ondersoekende joernalistiek in SA, waar die ontdekkingswaarde nog hoog en bemarkbaar is). Met dit als gesê: as jy iets eerste weet, tel dit. Dan is daar die groot nuuswaarde van presedent: Hoe gaan dinge nou verander? Hoe raak hierdie die status quo?
Dit klink alles baie rasioneel. Maar ons leef in ’n era waar sosiale media die mens se hipersosiale filters (ons kyk uit vir hoe ander oor iets voel) inspan om klieks te kry. So dit is ook moontlik dat jy as inhoudskepper (wetend of onwetend) fokus op twee ander deurwinterde nuuswaardes: konflik en prominensie. Die gevolg is dat jy ’n “storie” definieer as dit waaroor twee groepe stry. “Dit gons” oor X, Y of Z. Alles van ’n oueraand tot ’n sinode en elke kontingente gebeurtenis tussenin gaan oor stryd met twee ywerig-beskikbare woordvoerders aan weerskante. Ook dit is ’n manier van aktualiteit benader en gehore bou.
’n Publikasie soos Kerkbode het deur baie jare probeer om nuwigheid en presedent ernstig op te neem as nuuswaardes en nie mense wat aan die rand gestel is, af te skeep ter wille van vergaderings in hoofstede nie. Die gonswoord daarvoor is “human interest”. Wat konflik betref, kyk Kerkbode of die vuisreël van “meer lig as hitte” ’n mens help om langdurige debatte sinvol te beskryf. Waar word die narratief rondom ’n onderwerp oorvereenvoudig? Dit is vir vele die inleivraag in ’n gepolariseerde wêreld? Bewegings soos die Solutions Journalism Network werk met vrae soos “watter deel van ‘die ander posisie’ maak vir jou sin?”
Miskien is die punt van die nuuswaardes nie om die bestes te kies nie, maar dit wel geïntegreerd en bewustelik te benader by jou inhoudskeppingsproses en om dit op die naam te kan noem wanneer iemand jou vra: hoekom is iets nuus?
Wie het jou toestemming gegee om hieroor te berig? – Oor riglyne en rolkonsepsie.
Joernalistiek is “history in a hurry”. Nog steeds. Ons doen haastige, dikwels akkurate en altyd onvolledige geskiedskrywing deur die lens van “pas bekend”. Is dit rede genoeg om die media “toe te laat”?
Lesers se aandrang op deursigtheid wanneer dit by politici kom, lyk dikwels anders wanneer dit kom by vergaderings en prosesse waarby hulle self betrokke is. Dan skop nuanse en beheersug in wat nie altyd aan ander gegun word nie. Maar die minimum-vereiste (buiten die domein van Gotcha!-joernalistiek) is dat alle rolspelers weet jy is in die vertrek, hulle is by verstek “op rekord” en jy is aan ’t skryf en sal na goeddunke na jou platform publiseer tensy daar ’n soort embargo (reëling rondom wanneer tydsensitiewe inligting mag verskyn) bestaan of ander prosesmatige sensitiwiteite is wat in berekening gebring moet word ter wille van die langtermyngesondheid van die verhouding tussen bron en verslaggewer.
En daar sit jy nou. “Ampshalwe” word dit soms in die kerk genoem … Jy doen jou job. Die Latynse woord diurna vir dagverhaal het ons beroep sy naam geskenk. En hoewel daar seker kontinuïteit te vinde is tussen die vroegste berigte oor oeste en vloede tot en met “newsfluencers” met mussies wat vandag vir ons AmaBhungane-scoops met die lepel voer, is die sosio-kulturele posisie van die joernalis allesbehalwe staties.
Reeds in 2003 skryf prof Ian Hargreaves van Cardiff Universiteit: “Journalism entered the twenty-first century caught in a paradox of its own making … journalism is also under widespread attack, from politicians, philosophers, the general public, and even journalists themselves.” So ook in die NG Kerk.
In ’n demokrasie waar burgers stemreg geniet en inligting hulle bemagtig om by die stembus besluite te neem wat inderdaad politici tot verantwoording roep, is daar groot waardering vir joernaliste wat leiers se voete teen die vuur hou. Nuuswerkers wat boek hou van beloftes en wat primêr as “lastige” gewete dien, selfs al is hulle nie amptelik verkies tot hierdie rol nie. Daar is die houding ingelig skepties. (Soms ooridentifiseer joernaliste met die hardekoejawel-argetipe en moet hulle heelwat van hulle medemens se multidimensionaliteit onder die mat vee om hulle eie reg-wees-projek onverhinderd te laat voortleef).
Wat joernaliste egter onderskei van die magdom inhoudskeppers wat kollektief nuuskantore se sakeplan (wees eerste en staan uit in die mark) opgefrommel het, is die navolg van ’n etiese kode wat nie deur sosialemediaplatforms se gebruiksreëls bepaal word nie, maar deur een of ander wêreldbeskouing wat ’n antwoord op die laaste vraag kan probeer bied …
Waarmee is julle besig? Die joernalis en die inhoudstrategie van die publikasie.
Hierdie vraag (Waarmee is julle besig?) duik soms ook by Kerkbode op en is kennelik een van daai retoriese mortiere wat nie ’n antwoord vra nie, maar here goes. Indien die joernalis se teenwoordigheid bekend is, die bona fides van die joernalis aanvaar word, die publikasie se meganismes van regstelling verstaanbaar en betroubaar is, en die vlak van mediageletterdheid toelaat dat lesers weet hier gaan nie ’n stenografiese verslag van gebeure volg nie, maar ’n verantwoordbare interpretasie (’n ryke skakering van die werklikheid, soos Piet Cillié gesê het), dan staan ons op vaste grond.
Die patroon van gedrag wat die joernalis by ’n publikasie openbaar, bied ’n leidraad, indien nie konkrete bewyse nie, van ’n breër konteks. Speel ’n bepaalde styl ook uit waar ander onderwerpe op die tafel is? Sluit dit kundigheid in en laat dit nuwe inligting binne?
En nou, wanneer die antwoorde op die vier vrae hierbo byderhand is, besef jy dikwels die klaer wou inderwaarheid nie weet ‘Hoekom het julle hieroor berig?’ nie, maar eerder ‘Hoekom het julle só hieroor berig?’ En die fokus verskuif na wat die gevolg van die beriggewing was. Of daarin ook ’n storie lê.
Dit bring ons by …
Scenario B: Klag teen nie-bestaande beriggewing
