“Dissipelskap is diensbaarheid”.
Só sê prof Malan Nel, emeritusprofessor in Praktiese Teologie by die Fakulteit van Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy het die ekumeniese sentrum in 1992 gestig en voel die jaarlikse Lentekonferensie is een van die aspekte van sy lewe en nalatenskap waarvoor hy die dankbaarste is.
LEES MEER: Disciple-making: What is it all about?
Nel is gebore op ’n plaas in die Calvinia-distrik. In daardie jare kon hy matriek reeds op 16 voltooi en op die kampus van UP word hy 17 tydens sy eerste jaar as Siviele ingenieurstudent. Teen die einde van daardie jaar kry hy duidelik die roeping tot leraar en nie lank daarna nie volg ’n loopbaan van meer as 50 jaar in die bediening. Op 87 is hy steeds voltyds in diens van UP, ’n gerespekteerde baanbreker en visionêre teoloog – plaaslik en internasionaal.

Daar is vandag steeds soveel mense wat getuig hoe hulle geloofstorie begin het by die ingrypende Jeug-tot-Jeugaksie van 1974. Dit was die jaar waarin 32 000 jongmense opgelei is om hulle geloof met mekaar te deel. Nel het die aksie help organiseer en vertel steeds met ’n vonkel in sy oog oor die 350 000 jongmense wat in stadions saamgetrek het later daardie jaar. “Lewe vir Christus” was die jaartema en hulle enigste doelwit. Dit het ’n herlewing onder die land se jongmense gebring en was ook die inspirasie vir latere jeugbedienings soos Diensjaar vir Christus en die huidige #Imagine-beweging. Die rimpeleffek daarvan word vandag nog gesien.
LEES MEER: ‘Dit was die Here se jaar’ – Prof Malan Nel vertel van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974


Nel is ook steeds aktief in gemeentebou en -toerusting buite die akademie en dien as raadgewer, skrywer en aanbieder. Sy pennevrug sluit om en by 60 boeke en boekdele in, 60 akademiese artikels, ses meer populêre artikels en tallose navorsingsprojekte, en -optredes in. Dit is ’n reusegeskenk aan die kerk wat baie jare se bedieningsondervinding en navorsing omvat. Sy nuutste boek getiteld Lewedraende kanale: Gemeentestrukturering is pas uitgegee en is die derde boek in sy reeks oor gemeentebou.
Luister gerus na die hele gesprek tussen Prof Malan en Annabelle Lombard om meer oor die Dissipels maak dissipels-kursus uit te vind.
Malan se lewe word gevier en geëer vir sy bydrae
Nel is tydens die laaste dag van die Lentekonferensie in 2025 deur die Kuratorium van die Universiteit van Pretoria (UP) vereer vir sy bydrae oor die afgelope 45 jaar. Die Verbi Dei Minister vir diensbaarheid is aan hom toegeken vir die buitengewone manier waarop hy sy roeping in die vorming van bedienaars van die Woord gehoorsaam het. Hy het ’n ingrypende aandeel gehad in die opleiding, die ontwikkeling en die vorming van bedienaars, diensleraars en leraars in die groter teologiese omgewing van die NG Kerk en ook in ander kerke. Dr Wikus van der Merwe, hoof van Kerklike opleiding van die Kuratorium van Transvaal het gesê dit word gegee uit dankbaarheid vir sy lewe en om sy loopbaan te vier. Van der Merwe het die orderede voorgelees:
Hierdie buitengewone toekenning erken dat Nel oor besondere kennis en vaardighede beskik en dat hy hierdie kennis en vaardighede in teologiese opleiding ingespan het; dat hy deur persoonlike handhawing en voorbeeld en in begeleiding van studente met ’n koninkryksvoorbeeld in leer en lewe bedien het; dat hy die veld van teologiese opleiding voortdurend resent en dinamies bevorder het deur deeglike navorsing en ontwikkeling van akademiese en kerklike literatuur. En dat hy ver bo die verwagting van sy pos en ander verantwoordelikhede gedien het.
’n Trofee gemaak deur die beeldhouer Sanna Swart is aan hom oorhandig. Dit is ’n beeld van ’n leermeester wat ontvang en ook gee.

Nel was merkbaar emosioneel en erken na die tyd dat die onverwagse eerbetoning hom totaal onkant gevang het. “Mense kry dit selde reg om iets vir my geheim te hou, ek kan nie glo hulle het my so verras nie!” Hy is nogtans baie dankbaar en erkentlik teenoor die Here wat hom soveel genadejare in sy diens gegun het.
”Oor sy liefde vir die kerk hoef niemand te twyfel nie, sê Nel. Hy droom oor ’n kerk wat as eenheid sal opstaan en saamwerk om die goeie nuus van die verlossing uit te dra. “Jy kan nie vir my sê jy is lief vir die Hoof van die liggaam van Christus, maar dan is jy besig om die liggaam van Christus te verdeel nie. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbind.”
Matteus 28-teks
In sy nuwe gemeentereeks “Dissipels maak dissipels” wil hy gemeentes toerus en inspireer om praktiese geloof te deel. “Dit is die bestaansdoel van die kerk.” Hy is lief vir die woord “algaande”, want in die Matteus 28-teks beteken “gaan” ook nie net ver nie, maar na jou gesin, jou kinders, jou kleinkinders, jou klasmaats en jou kollegas. Die reeks is in sy wese ’n kursus wat jou herinner om mooi te luister en fyn ingestel te wees op mense. Dit oefen die praktiese vaardighede in om ’n aanknopingspunt by mense te kry en die kans om jou eie geloofstorie te deel op ’n manier wat nie-konfronterend is en mense innooi.
Die kursus is ’n kulminasie van 30 jaar se betrokkenheid by die kursus in Diensevangelisasie: Getroue Getuies – en hy kon dit onlangs tydens sy navorsingsverlof in Princeton, New Jersey bywerk – met die toestemming van die uitgewer. Die negeweekkursus word deur die NG Kerk se Taakgroep vir Evangelisasie met groot entoesiasme aanbeveel vir gemeentes. Opleiding vir leraars het reeds in alle erns begin en dit beloof om weer ’n groot stuk energie los te maak in die kerk.
Tydens ons onderhoud beleef ek Malan Nel as iemand wat self ’n lewende voorbeeld is van ’n innemende dissipel, iemand wat algaande moeite doen om netwerke te bou en die roeping en potensiaal sien in elke mens wat hy ontmoet. Hy is ’n regte mense-mens uit die Hantam – met sy voete stewig op die aarde. Hy sê: “As jy na iemand luister, gee jy hom jou aandag en tyd en dit is diens en dít is dissipelskap. Dit was die grootste voorreg om my lewe te kon wy aan die opleiding en toerusting van nuwe dissipels. Dit is interessant dat Jesus nie gesê het maak die mense my volgelinge nie, maar ‘maak dissipels’. As geredde mense is ons lewenslange leerlinge wat meer en meer soos Jesus wil word. Dissipelskap as ’n pad sonder ’n eindbestemming waar jy kan arriveer.”
Waar kry ek Nel se gemeentereeks?
Prof Nel se gemeentereeks is beskikbaar vir persone wat die werkswinkels vir opleiers bygewoon het. Daar is ’n proses van registrasie en bestelling. Dit is nie in handel beskikbaar nie. Kontak prof Nel by malannelup@gmail.com
Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van Skuilkrans-gemeente.
