Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Berg-en-Dal, ons gemeente hier in die ou Tempevallei aan die noordekant van Bloemfontein, voltooi vanjaar haar sewentigste rondte om die son. Gestig op ’n Saterdagaand in September 1956, die 22ste, juis toe die dag-en-nag-ewening gebeur het. In hierdie eerste helfte van ons gedenkjaar word die verhale uit die ou tyd dus opgediep, soos oor ons eerste leraar, dr Tienie Zeeman. Gereformeerd, Calvinisties, Christelike Hoër Onderwys, dáár het jy hom gevind. In sy afskeidspreek op 1 Desember 1974 haal hy Abraham Kuyper aan: “God roep elke Christen om op alle lewensterreine die grondmotiewe uit te werk en uit te dra – in die huis, skool, universiteit, wetenskap, politiek, handel, fabriekwese, arbeid, kuns, letterkunde. Geen terrein is daar waarvan die Here Jesus nie sê: ‘Myne!’ nie.”
Twee rigtings in die NG Kerk: Murrray versus Kuyper? Vroom versus regsinnig?
Die bronne sê ánders. Terwyl die NG Kerk in die sestiger- en sewentigerjare in die fleur van haar volkskerkdae was, laat hoor Tienie Zeeman ’n ánder stem. Gereformeerd, deur en deur, diep veranker in die Skrif, gevoed uit die ryke tradisie van die Reformasie, krities oor die “christus van die kultuur.” Getroue pastor, selfstandige denker, toegewy aan ’n breë visie op die koninkryk van God. Daar wás ander sulke stemme ook in die NG Kerk destyds. Lidmaat Herman Strauss, professor in Staatsleer aan die Universiteit van die Vrystaat: “In die huidige verwarring onder Afrikaners word daar ten koste van die Protestants-Christelike beginselkoers ’n nuwe konserwatisme met erns by ons aanbeveel” (1967). WJ de Klerk, in Junie 1968: “… die Afrikaner (word) bedreig deur ’n volkstotalitarisme. Die Calvinistiese binding van ons Afrikaanse lewens- en wêreldbeskouing waarborg beginselbehoudendheid asook vernuwing en verandering.” Nogeens, Kuyper: ’n Eeu tevore, in sy afskeidsrede in die gemeente Utrecht, waarsku dié Nederlandse hervormer teen ’n “valse behoudsug”; soveel so dat die historikus George Harinck tereg opmerk dat Kuyper in sy eerste publikasies oor die Calvinisme die “Christelijk liberaal beginsel” daarvan beklemtoon het.
Maar goed, terug na Tienie Zeeman in ’n jong gemeente in die hart van die Vrystaat. Wie is hierdie Afrikaanse Christenmense? “Hulle is eerbare, hardwerkende mense wat ’n voorbeeldige lewe voer, hulle Christelike beginsels in huis, kerk en samelewing probeer indra en uitlewe en die Here opreg dien. Daar is nog baie wat huisgodsdiens hou, die eredienste gereeld bywoon, die sakramente gebruik, die Rusdag heilig,” so skryf hy in 1969. Dit was in hierdie gemeenskap – en gemeente – dat hulle dominee konkreet uitgespel het wat dit is om “Christelik-gereformeerd” te wees.
Drie voorbeelde:
Berg-en-Dal se eerste dekade lê tussen die optog van 20 000 vroue na die Uniegebou op 9 Augustus 1956 en die sluipmoord op dr Hendrik Verwoerd, 6 September 1966. Die tyd van Paswette en Groepsgebiede, en dit raak ook die plaaslike gemeente, binne wie se grense die “Retreat Sendingskooltjie” val; swart kinders en hulle Sotho-onderwysers in ’n wit hoewegebied. Toe stem die Sendingkommissie van die kerkraad onder leiding van dr Zeeman, “nee” téén die beplande sluiting en verskuiwing van die skooltjie. En toe die jong, blanke Republiek verdwaas steier oor die “dolksteek gemik op die lewe van ons volk” (aldus Die Kerkbode) en die moderatuur van die Algemene Sinode ’n dag van rou in die NG Kerk afkondig met gebedsdienste daardie Vrydag ná die Dinsdag, roep dr Zeeman die ouderlinge van die gemeente byeen. Dr Verwoerd se heengaan is ’n tragedie en ons tyd vra om verootmoediging, maar ons moet waak teen “mense-verheerliking”; ’n erediens gaan oor God. Die kerkraad besluit dat nie Vrydag nie, maar Sóndag die gemeente sal verenig in gebed oor ons landsomstandighede.
Reeds in die vroeë sewentigerjare maak dr Zeeman die kerkraad en gemeente bewus van die konteks waarin hulle woon; die “enigste werklike redding van mense, en van ons volk” lê in evangelisasie; die volle konsekwensies van die Christelike boodskap (hoor wéér Kuyper). Hy roep Berg-en-Dal op: “Ons sal nie meer kan stilbly nie, maar met blydskap die deure oopgooi en uitwaarts beweeg om aan mede-Afrikaner, anderstalige, Jode en nie-blankes die blye boodskap te bring!” Berg-en-Dal se eie deure moes oop: Op Sondag, 6 Februarie lei Tienie Zeeman die eerste Engelse erediens in Berg-en-Dal (vir 330 kerkgangers!); ’n bediening wat sou uitgroei tot ’n selfstandige wyk in die gemeente en vier jaar later die “Andrew Murray”-gemeente in Bloemfontein sou word.
Toe kom die Algemene Sinode van 1974: “Ras, volk en nasie” in die NG Kerk (en die Jeug-tot-Jeugaksie). Maar daar was nóg ’n saak voor die sinode. Reeds in die sestigerjare het dr Zeeman begin praat oor “die swakkere wat die sterkere is”. Twee maande vóór die sinode verskyn ’n artikel uit sy pen in Die Kerkbode, onder die opskrif “Die vrou in die kerklike amp”, ’n bondige beredenering van die belangrikste Skrifgegewens hieroor. Uit die Ou Testament haal hy drie beginsels: Die vrou is anders, maar gelykwaardig aan die man geskep; sy het ’n rol buite die huis “in diens van die Godsryk” te speel; en getroude vrouens was in die eerste instansie geroep tot die liggaamlike en geestelike versorging van haar man en kinders. Maar: Jesus het “haar openlik waardeer, beskerm, gehelp en van veragting bevry”, en vroue het van die begin af “’n groot rol in die uitdra van die Evangelie gespeel” – met teksverwysings uit Handelinge, Romeine, én verklaar dr Zeeman die “swyggebod” van 1 Korintiërs 14:34-35 binne die kulturele konteks van Paulus se tyd. En dan: “Wat betref die kerklike ampte kan allereers gesê word dat vroue prinsipieel nie daarvan uitgesluit is nie. Inteendeel wil dit voorkom asof veral die ampte van lering en diakonia vroeg reeds vir die vrou oopgestaan het.” Tienie Zeeman se voorstel – 1974! – is egter deur die Algemene Sinode van die NG Kerk verwerp. Die sinode se besluit was “baie beslis en nie vir misverstand vatbaar; enige propaganda vir die toelating van die vrou in die lerende en regerende amp is in stryd met die besluit van die Sinode en ongeoorloof”, het dr Koot Vorster, die assessor, dit uitdruklik gestel.
Daar’s ’n veelheid van stemme in die gereformeerde wêreld (en geskiedenis, geduldig). Vandaar die slagspreuk ecclesia reformata semper reformanda, maar nooit te vergeet dat dit voluit lui: “… secundum verbum dei.” Ooreenkomstig die Woord van God: Skeppingswoord, Skrifgeword, Vleesgeword, Geesverklaar. ’n Bevrydende Woord!
Só herinner die bronne uit ons eie kerkverhaal ons, en stuur ons nederig, maar moedig verder op weg.
Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
