Louis Jonker, professor in Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch (US), is pas op ’n besonderse wyse deur sy vakgenote in die Bybelwetenskappe, plaaslik en internasionaal, vereer. Lambert Jacobs berig.
LEES OOK: Herinterpretasie niks nuuts nie
Die oorhandiging van ’n gedenkbundel, of soos die Duitsers dit noem Festschrift, naby aan die kruin van ’n akademikus se loopbaan, is in Europa en die VSA redelik algemeen, maar in Suid-Afrika kom dit nie so gereeld voor nie. Dit is deels omdat publikasiemoontlikhede van “harde teologie” so duur en skaars is.
Tydens ’n huldigingsgeleentheid op Stellenbosch vir Jonker, het iets gebeur wat selfs in Europese kringe amper ongehoord is. Daar is nie een nie maar twee Festschriften aan Jonker oorhandig!

LEES OOK | Kerksaak: ‘Ook bínne kerk is vele standpunte’
Die eerste bundel is getiteld Multi-levelled identity negotation in the Second Temple Period: Essays in honor of Louis C Jonker en het onder die redakteurskap van Angelika Berlejung en Benjamin D Giffone by Mohr Siebeck in Tübingen, Duitsland verskyn as deel van die gesogte reeks “Forschungen zum Alten Testament”. Hier het Ou-Testamentici van regoor die wêreld in gesprek getree met die navorsing van Jonker oor die tydvak van die Kroniekeboeke, waarin hy ’n wêreldleier is.

LEES OOK | Boekbespreking: Om nie die Bybel ‘te laat buikspreek’ nie
Die tweede is getiteld Living in different worlds simultaneously: Essays on Biblical hermeneutics in celebration of Louis C Jonker en het onder die redakteurskap van Ntozakhe S Cezula, Benjamin D Giffone, Knut Holter en Lerato LD Mokoena by Wipf & Stock in Eugene, Oregon in die VSA verskyn. Kollegas uit die Ou en Nuwe Testament het gereageer op die bydrae deur Jonker oor dekades heen rondom die lees en verstaan van die Bybel.
Die mederedakteurs van die twee bundels het in persoon of aanlyn op die groot skerm lof gebring vir die ongelooflike bydrae van Jonker tot die vakgebied, maar ook tot hulle eie ontwikkeling as akademici. Die gevoel waarmee ’n mens by die geleentheid weg is, kan met die ou Bybelse spreekwoord saamgevat word dat ’n profeet dikwels nie in sy eie land (en kerk!) na waarde geskat word nie.
