Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Veertig jaar ná die oop kerkdeur

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

In die tweede Lydensweek van 2026 – en vanjaar s’n ís swaar: nóg ’n oorlog in die Ou Bybellande; die wit, vuurrooi, swart en vaalgrys perde verwoestend op galop; prof Louise Cilliers wat daardie ou Griekse wêreld en die metafore só goed geken het, sterf; prof Pieter Coertzen wat ons kerk “Gepas en ordelik” help lei het, sterf; ons goeie vriend en dokter Ludwig de Jager sterf onverwags; nóg ’n lidmaat, oom Koos Steyn; kollega Johan Marais se vrou, Lienkie, ernstig siek – en tússen die agtste ASM-vergadering en die Vrystaatse Moderamen se voorlaaste een, lees ek en ons groep M-studente in die seminarium dié sin raak, en vir ’n oomblik is my asem weg: “No-one who believes in Jesus Christ may be excluded from any church on the grounds of his colour or race.” Toe hulle opkyk, vertaal ek dit in Afrikaans: “Die lidmaatskap van die NG Kerk is oop.”

Tussen daardie twee sinne, lê ses-en-twintig jaar. En groot datums, soos 6 September 1966 die moord op eersteminister dr HF Verwoerd en 16 Junie 1976 in Soweto – die tyd van my kinderjare. Tussen genoemde twee sinne lê daar ánder dokumente, wat ek later sou leer lees: “Message to the People of South-Africa” (1968), “Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif” (1974), die “Hervormingsdaggetuienis” (1980) en “Ope Brief” van 123 NG gelegitimeerdes (1982), en die NG Sendingkerk se “Belydenis van Belhar” (1982). Terug na die woorde oor ’n Kerk wat nie mag uitsluit nie, wat “oop” is: Die eerste sinnetjie kom uit die “Cottesloe-verklaring” van Desember 1960, waarby die afvaardigings van die NG Kerke uit die Kaap en Transvaal sowel as die Hervormde Kerk ’n groot rol gespeel het in die formulering van daardie sewentien stellings oor die Christelike Kerk se eenheid en getuienis in ’n gespanne republiek destyds. Agterna het ’n heftige reaksie uit eie geledere in die NG en Hervormde Kerke teen Cottesloe gekom, óók van Verwoerd en die wit Afrikaanse wêreld. Die NG Kerk en Hervormers moes kies, en hulle pynlike pad van isolasie uit die ekumene en swart Christendom in Suid-Afrika het begin …

Lees ook: Johan van der Merwe | Menseregtedag: ’n Uitdaging aan die NGK?

Die tweede sinnetjie – dat “lidmaatskap van die NG Kerk oop is” – kom uit Kerk en samelewing, die beleidsdokument wat in Oktober 1986 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar is. Vandeesweek, in die koel kerkgebou van Stellastraat in ’n veilige buurt in Pretoria, lê dié boekie met sy bruin omslag en wit letters daarop, in my hande oop. Rondom sit daar ’n klompie taakspanlede met swart T-hemde en wit letters daarop: “Kerk sonder samelewing” (vraagteken). Daar wás in 1986 kritiek uit reformatoriese kringe oor dié titel: Kan die kerk homself (!) só uitspreek (teen)oor die “samelewing” asof ons objektief langsaan staan; moes dit nie eerder lui “Kerk ín die samelewing” nie? En terwyl ooggetuies wat daar was en dit als beleef het vertel hoe die pad van die NG Kerk die veertig jaar sedertdien geloop het, vang my oog presies in die middel van die boekie, paragraaf 159: “Christene is kinders van die waarheid en is geroepe om die waarheid in alle omstandighede en verhoudings te soek en te dien. Daarom is gelowiges geroep om in groepverhoudings openhartig en opreg in gesprekke en andersins teenoor mekaar op te tree.

Ook moet ons met mekaar in gesprek tree in die besef dat geen groep ’n monopolie op die waarheid het nie. Die waarheid het baie fasette en juis in die openheid vir mekaar en die luister na mekaar se standpunte leer ons die volle waarheid beter ken.” Ek besef dat soos Johannes Calvyn in die voorwoord tot sy Psalm-kommentaar in 1557 geskryf het – “God brought my mind to a teachable frame” (’n leerbare gees, vertaal ons dit) – hier inderdaad die grond vir die wending op die pad van die NG Kerk lê: dié oortuiging dat “die waarheid” oor God se geregtigheid en trou in alle menseverhoudinge en ons “medemenslike optrede” (opskrif van daardie paragraaf), op geen manier misken of deur wetgewing of kerklike besluite teëgehou kan word nie. Dat ons dié “volle waarheid” – oor onsself, ons kerke en ons land – nét in ’n diep en egte ontmoeting met God en in die gemeenskap van gelowiges ontdek; dít is die eintlike “sáám” in “samelewing”!

Hier lê die hermeneutiese sleutel tot die weg waarop die NG Kerk gekies het om te gaan, vier dekades gelede. In die voorwoord van die hersiene uitgawe van Kerk en samelewing (1990), het prof Pieter Potgieter as moderator van die Algemene Sinode, dit bevestig: “Daar is geluister na mekaar en na advies van buite. Daar is veral wéér geluister na die Heilige Skrif. Die Ned Geref Kerk bied ‘Kerk en Samelewing’ aan as getuienis van sy roeping en uitnodiging tot gesprek met die ekumeniese gemeenskap, met die één gebed in ons hart dat ons ook langs dié weg die koninkryk van Christus dien.” Die NG Kerk het in ’86 omgedraai en ootmoedig en versoenend begin terugstap na die “een, heilige, algemene Christelike Kerk”, na dié land en álmal in die “samelewing” waar die Here haar tot getuienis en diens geroep het. Prof Potgieter se woorde: “Met hierdie beleidstuk het die Algemene Sinode die eerste moedige treë gegee om ’n ongelukkige beeld van die Ned Geref Kerk af te skud.”

Uit daardie wending wég van ’n kerk “net vir sekeres”, het die besluite oor vroue in die amp van ouderling en leraar gevolg, oor dooplidmate by die Nagmaalstafel, oor die Belydenis van Belhar, oor homoseksualiteit en oor álmal wat in ons “samelewing” én elders, ly. Uit dié wending van ’86 oor die lees van die Skrif sáám met ander, het ons treë terug na die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die All African Council of Churches en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke gevolg. Langs die pad ís foute gemaak, en ons “samen op weg” is ver van klaar. Sovele in ons land wag steeds dat die kerkdeure regtig “oop” sal wees vir elkeen wat na Christus en sy heil en hoop, verlang – ’86 was die moedige, moeisame begin. Daarom, net eers, dankie aan hulle wat ons daarin gelei het!

Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Kerk Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Veertig jaar ná die oop kerkdeur”

  1. Carel van der Merwe

    Ongelukkig stop die getuienis voor 2000. Heelwat is gedebatteer oor oop wees na 2000. In 2014 het ek al verklaar dat ek nie kan besluit wie Christus in Sy kerk wil verwelkom en insluit nie.

  2. Ernst Swanepoel

    Jan Lubbe se “nostalgiese” artikel word beide waardeer en skep ‘n paar vrae. Die vrae spruit voort uit of onkunde of bietjie moedswilligheid, dalk?
    Eerstens het “Kerk en Samelewing” nie die kerk se deure “oop gemaak” nie; die kerkdeure was reeds vroeer oop. Daar was net ander reels wat gerespekteer was. (Noem dit “protokol”)
    Ek was ‘n ywerige sendingwerker saam met UP en het (met ‘n permit!) huisbesoeke in Mamelodi, Eersterus, ens gedoen met groot vrug deur die Heilige Gees. Ek het erediense in Saulspoort, Tsilidzini en ander plekke bygewoon met toestemming van die plaaslike kerkrade. Net so het ander “rasse” (ek hou steeds nie van die woord nie) by eredienste in my gemeentes bygewoon. LANK voor die “politieke” gevegte oor Kerk en Samelewing, ens. Ons het gesamentlike byeenkomste met die “dogterkerke” gehou sonder twis! “Apartheid” was buite die hart van Evangelisasie in die kerk bedryf, totdat politici dit ingebring het.
    Tweedens. Die NGK het deure in die werkplek vir nywerheidbediening en later arbeidsbediening toegemaak, sonder rede. (Ek sien steeds die ruines op Johannesburg-Stasie nadat die NGK die arbeidsbediening se deure toegemaak het) Ons wat in die werkplek bybelstudies en samekomste gereel het onder die vaandel van die NGK moes skielik dit staak, of op ons eie aangaan! Al ons besware het op niks uitgeloop nie. Intussen het die Christelike instituut met doelbewuste (onchristelike) erediens – ontwrigting aangegaan (jy kan oa. die Kriel Gemeente se fiasko nagaan – ek het die koerantuitknipsels, maar dit was voor jou tyd).
    In kort: Ek is ‘n lidmaat van die NGK waar die ASM se strategie nou ‘n streep trek deur die werklike, Heilige Gees – geinspireerde kultuur, en dit selfs “rassisme” noem. IN-PAS digitaal vermaan ons self om “nie van Christus as Verlosser” te praat in inklusiewe geleenthede nie!
    Ek het geen deel aan die inklusiewe filosofie en “oopgooi” van kerkdeure aan ander gelowe, verlossertjies en foefies nie. Bring asseblief die werklike geskiedenis van die groei van die gelowiges deur die Heilige Gees in die NGK terug, en nie kunsmatige goed soos die Belhar – belydenis, (selektiewe) “oop” deure, ensovoorts nie.
    Groete

Comments are closed.

Scroll to Top