Boompie alleen – Herinneringe van ’n sendinggesin saamgestel deur Coenraad Brand
Uitgewer: CLF, 2025
Resensent: Cecile Murray-Louw
CLF Uitgewers se Boompie alleen is veel meer as bloot ’n bundel familieherinneringe. Dit is ’n sendingverhaal wat oor drie geslagte strek – van Andrew Louw se pionierswerk op Morgenster Sendingstasie in 1891 tot die Brand-gesin se dekades lange bediening in Suid-Rhodesië (Zimbabwe).
Die titelbeeld van die “boompie alleen” – verwronge maar steeds staande op ’n granietkop – funksioneer as ’n kragtige metafoor vir ’n roeping wat deur storms bly groei. Die boek verweef persoonlike herinneringe, dagboekinskrywings en historiese artikels tot ’n geleefde geskiedenis. Die vertellings van Ouma Ettie laat die sendingwêreld met besondere varsheid lewendig word: die natuurskoon van Morgenster, kinderavonture, die gemeenskapslewe, maar ook die uitdagings van isolasie, siekte en politieke onrus.
Wat hierdie bundel besonders maak, is die eerlikheid daarvan. Die sendingverlede word nie geromantiseer nie. Daar is verwysings na hiërargieë, koloniale werklikhede en taalgebruik wat vir moderne lesers ongemaklik mag wees – bewustelik behou ter wille van historiese integriteit. Ook die pynlike gebeure van die 1970’s word met nugter geloofsperspektief hanteer.
Lees ook: ‘Mudiwa wangu’ / My geliefde … Sendingpioniers se liefdesbriewe in boekvorm
Coenie Brand se redaksionele insette en oordenkings bied samehang sonder om die outentieke stemme te oorheers. Die boek dra terselfdertyd ’n historiese en ’n geestelike gewig: dit getuig van Bybelvertaling, gemeenskapsbou en volharding in roeping, terwyl dit ons innooi in die geskiedenis.
Boompie alleen is ’n belangrike bydrae tot die NG Kerk se sendinggeskiedenis – nie as triomfverhaal nie, maar as getuienis van mense wat, soos ’n boompie in die wind, bly staan het omdat hulle wortels diep geanker was.
Beskikbaar by CLF.
Ds Cecile Murray-Louw is ’n diensleraar by die NG Gemeente Durbanville.
