Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Resensie | Kobus Meiring se binnekring-staaltjies uit toeka se dae

Agter die skerms – grepe uit die verlede deur Kobus Meiring
Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Kobus Meiring, eertydse adjunkminister van Binnelandse Sake en laaste administrateur van die destydse Kaapprovinsie, gee in Agter die skerms ’n binnekringkyk op die geskiedenis van Suid-Afrika, veral die era van PW Botha en die oorgang na ’n post-apartheid Suid-Afrika.

Vir die leser voel dit soos om by jou oupa te sit en luister na staaltjies uit sy verlede – staaltjies wat nóú verweef en intiem bekend is met die binnewerke van belangrike dele van SA se geskiedenis. As sulks lees dit soos memoires, eerder as koue geskiedskrywing. Soos wat dit sekerlik altyd voel wanneer ’n jonger generasie na hulle oupa se vertellinge luister, is daar plekke waar ’n mens jou voorgangers se verstaan van hulle verlede ongemaklik aanhoor.

Meiring se agting vir PW Botha is duidelik. “Feit bly dat PW Botha die argitek van die nuwe Suid-Afrika was, maar ongelukkig nie by die regte en aanvaarbare plan kon uitkom nie en nie oor die laaste en belangrikste hekkie kon kom nie,” skryf Meiring.

As memoires is die anekdotes persoonlik en eerlik geskryf. Tog mis ’n mens ’n kritiese refleksie oor apartheid-Suid-Afrika. Stellings soos: “Die beleid om rasse apart te probeer hou, was ironies genoeg nie ontdek of uitgevind deur die Nasionale Party … nie. Dit dateer baie langer terug, toe die koloniale regerings in Holland in die 17de en 18de eeue en die Britte in die 19de eeu in hulle kolonies oor die aarde heen presies dit gedoen het. Hulle was egter verstandig genoeg om dit op ’n wyse te doen wat hulle daarmee laat wegkom het” is presies dié wat vra om ’n meer kritiese as persoonlike vertelling.

Lees ook: Resensie | Kritiese selfrefleksie oor wit bevoorregting en genesing

My gemis aan kritiese refleksie ten spyt, is Agter die skerms ’n kosbare binnekring-toevoeging tot ’n deel van ons geskiedenis wat andersins maklik verlore kan gaan.

Die laaste hoofstuk: “’n Ode aan ’n sielsgenoot”, waar Meiring vertel van sy afgetrede lewe saam met sy vrou, Bettie, is ’n waardige kroon op hierdie memoires. Juis hier word bevestig dat Meiring die leser in sy huis ingenooi het. Blaai jy om na die agt bladsye vol foto’s, tref dit jou dat alle geskiedenis – of jy daarvan hou of nie – heilige grond is. Hier het mense geleef, gebid, gedoen.

Beskikbaar by CLF.

 

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top