Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Psalms is die eerlikste lirieke wat ooit geskryf is, woedend, hartseer, hoopvol, alles in die teenwoordigheid van die Here, en dit is heeltyd. Die naam ‘Zoid Psalms’ gaan oor eerlikheid, vertel Karin Zoid aan Annabelle Lombard. Foto's: Verskaf

Karen Zoid aan gemeentes: Dankie dat julle julle deure oopmaak, nie net vir die heiliges nie, maar vir die soekendes

“My pa het my geleer dat jy nie geloof verduidelik nie, jy leef dit.” Karin Zoid gesels met Annabelle Lombard oor kerkorrels en broosheid in haar nuwe opvoering wat sy beskryf as “nie ’n gospelkonsert nie”.

Zoid sê: “Dit gaan oor ’n kunstenaar wat haar storie vertel in ’n ruimte wat daarvoor gemaak is. My gunsteling? Psalm 42:2. ‘Soos ’n wildsbok wat smag na waters smag my siel na U, o Heer.’”

“Dis veral mense wat seergekry het in die kerk, of dalk kwaad is vir die Here: Jou woede en jou seer is welkom hier, sonder verwagting en sonder druk en dalk gebeur iets in jou wat jy nie beplan het nie. Musiek doen wat woorde nie kan nie.”

Zoid Psalm

“In Bloubergstrand se kerk het iets in my gekliek: die argitektuur, die stilte, die geskiedenis. Ek het geweet ek wil hier sing in die mees onverwagse en onvergeetlike omgewing. ’n Kerk se mure wat al alles gehoor het, vreugde, rou, twyfel, hoop. Daar sing jy saam met generasies.

“Ek het ook besluit om vrede te maak met die orrel – die instrument wat vir my persoonlik baie onderdrukking veroorsaak het, die lae klanke het my as kind bang gemaak en my herinner dat môreoggend weer Maandag is. Die orrel weier om te verdwyn en ek hou van dinge wat bly. Die eerste optrede saam met die orrel, was ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Dit is imposant, majestueus, en dit gryp jou in jou borskas.

“Die plaaslike koor word ook deel van die belewenis. ’n Koor is die evangelie en collaboration in aksie, verskillende stemme, verskillende stories, een klank.

Oor geloof, lof en aanbidding

“My pa het die aflosstokkie van geloof aangegee en verder terug: die oumense in ons kerke wie se name ons vergeet het, maar wie se liedere ons nog ken. Ek probeer net hardloop met die aflosstokkie, op my eie manier. Met Zoid Psalms bring ons respek, energie, ons eie persoonlike lofoffer en danksegging.

“Lof gebeur wanneer iets so mooi is dat jy nie kan stilbly nie. Aanbidding vind plaas wanneer jy jou ego neersit. Vir my gebeur dit in enige liedjie wat die waarheid praat. Musiek vir die Here is iets wat in die hemel ontstaan het wat op aarde soveel genot bring.”

Wat beteken dit vir jou om jou getuienis op hierdie manier te deel?

“Psalms is die eerlikste lirieke wat ooit geskryf is, woedend, hartseer, hoopvol, alles in die teenwoordigheid van die Here, en dit is heeltyd. Die naam ‘Zoid Psalms’ gaan oor eerlikheid.

“Dit is die mees kwesbare ding wat ek nog op ’n verhoog gedoen het. Geen masker. Net ek, my stem, my storie en ’n pyporrel wat ouer as my ouma is. Dit is nie ’n preek nie, dit is ek wat my hart oopmaak deur die musiek wat ek ken. As dit iemand raak, was dit die moeite werd. Die band sê dit voel anders as enige ander verhoog. Ons ry na elke vertoning weg in ’n goeie stilte.”

’n Boodskap aan gemeentes

“Dankie dat julle julle deure oopmaak, nie net vir die heiliges nie, maar vir die soekende, die skeptiese, en dié wat al lankal wou terugkeer maar nie geweet het hoe nie. Ons bring ’n kulturele erfenisviering aan mense wat dalk nog nooit julle drumpel oorgesteek het nie. Dit is die geskenk.”

 

Koop kaartjies

Karen Zoid tree op by Skuilkrans NG Gemeente se Winterkuiermark op Vrydagaand 31 Julie en Saterdagaand 1 Augustus.

Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van die NG Gemeente Skuilkrans.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top