Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit is dít waaroor die NG Kerk nou moet getuig en die wêreld moet waarsku: ons het wit nasionalisme in die naam van God probeer, en dit het nie gewerk nie. Dit was (en is) ’n fout en sonde omdat dit lynreg indruis teen die nuwe mensheid in en deur Jesus, skryf ds Rudi Swanepoel (middel bo) hieronder. Foto: Argief

NG Kerk moet aanhou getuig: ‘Ons het wit nasionalisme in die naam van God probeer, en dit het nie gewerk nie’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Kan die Belydenis van Belhar ons tot ons sinne help bring in hierdie tyd waar Amerika konflik in die Midde-Ooste aanvuur? vra Rudi Swanepoel met die belydenisskrif se 40-jaar mylpaal.

 

Dit is vanjaar 40 jaar sedert die Belydenis van Belhar deur die destydse NG Sendingkerk aanvaar is as deel van hulle belydenisgrondslag.

Dit is ook vanjaar 40 jaar sedert die NG Kerk die dokument Kerk en Samelewing goedgekeur het. As wat (verklaring? gespreksdokument? padkaart?) is ek nie aldag seker nie.

LEES OOK: ‘Julle storie is kompleks maar diepgaande’ – Kerkleiers aan SA ná besoek wat op verklaring uitloop

Einde April 2026 tree prof Dirkie Smit vir die tweede keer af (die eerste keer was by die Universiteit van Stellenbosch) na ’n 10-jaar-verbintenis met Princeton Theological Seminary in die VSA.

 

Sy afskeidswoorde is skerp, roerend, ondersoekend, belydend en soms snaaks. Op meer as een oomblik klink dit (vir my) asof sy stem wil kraak onder die gewig van die diepste menslike emosie.

LEES OOK | ‘Ons moes uiting gee oor wat dit beteken om in Jesus Christus te glo, Hom na te volg en wat dit beteken om gereformeerd te wees’ – Prof Allan Boesak oor Belhar-belydenis

Ek hang aan sy lippe. Maar dan, ek het nog altyd, en al kan ek nie die presiese invloed raak genoeg beskryf nie, is hy een van die akademici/leermeesters wat my op die grootste manier gevorm het.

Die gedagte dat iemand soos hy aftree, of uiteindelik gaan sterf, maak my hart swaar.

Maar dan onthou ek dat sy betreding van die ewige lewe ’n unieke nalatenskap sal voortbring.

Dirkie is – en ek weet nooit wat die korrekte/diplomatiese manier is om dit te stel nie – die hoofskrywer, of één van die hoofskrywers van die Belydenis van Belhar.

LEES OOK: NG Kerk praat saam met kerke in Vryheidsdagverklaring oor onreg in Gasa en ‘vals narratief oor wit volksmoord in SA’

Dit is grootliks deur die 40-jaar-herdenking en die invloed van twee Amerikaanse teoloogvriende, wat die toepaslikheid en onbetwisbare relevansie van dié veelbesproke dokument vir die afgelope maande ’n daaglikse, soms uurlikse bewustheid in my kop en hart is.

Kan dit wees dat dié dokument, hierdie woorde uit die grond van Afrika en haar kinders se penne, ’n onmisbare en rigtinggewende hulpmiddel vir die Christelike Kerk van 2026 in die breedste gesien kan wees?

Boodskap aan ’n wêreld vol konflik 

Kan dit wees dat in hierdie oomblik, hierdie bykans ondenkbare tyd waar die magtige Amerika en sy intieme bondgenoot Israel onder andere ’n uiters vreemde konflik in die Midde-Ooste aanvuur in die naam van die Heilige Jesus, dat die Belydenis van Belhar nou die grootste impak kan hê om hulle / ons tot ons sinne te help bring?

Daar word maklik vergeet dat groot dokumente soos die Barmenverklaring en Belhar ontstaan het in direkte reaksie op die blatante waninterpretasie en ongebreidelde misbruik van die evangelie van Jesus Christus, van Jesus sélf deur kerk en staat.

En Suid-Afrika, o Suid-Afrika!

Dit is hier waar ons op bitter pynlike maniere geleer het dat dit teen God se wil en plan en ontwerp is dat mense hiërargies ingedeel en hanteer word.

Dit is hier waar ons probeer het om mense se behoefte aan vryheid en waardigheid en geleenthede te ondermyn of in te perk.

Dit is hier waar ons wéét – ons, die wit Afrikaanses van hierdie kosbare land – dat ons redding en genesing in skuldbelydenis én hande vat en vorentoe kyk, ja in goddelike hoop lê.

Dit is dít waaroor die NG Kerk nou moet getuig en die wêreld moet waarsku: ons het wit nasionalisme in die naam van God probeer, en dit het nie gewerk nie. Dit was (en is) ’n fout en sonde omdat dit lynreg indruis teen die nuwe mensheid in en deur Jesus.

Daarom verbind ons ons tot nederige en opregte navolging van die Here.

Ons besef dat onse kerkie – hierdie klein bietjie sout en handjievol suurdeeg – nie te klein is om ’n rol te speel in God se nuwe wêreld nie.

Ons leef met die realiteit van ons gewigtige verlede en ons put uit die krag van vryspraak en vergifnis.

Ons wil saam met alle mede-dissipels van Jesus bou aan ’n beter Suid-Afrika (en wêreld!) waar mense kan floreer.

Jesus (en Jesus alleen) is Heer.


Ds Rudi Swanepoel is ’n leraar by Aan-die-Berg Gemeente in Johannesburg.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “NG Kerk moet aanhou getuig: ‘Ons het wit nasionalisme in die naam van God probeer, en dit het nie gewerk nie’”

  1. Albin Bowler

    Wat ‘n mooi getuienis en hoopvolle vorentoe kyk. Ons wit-leraars moet juis die Bybelse boodskap, wat ongelooflik beskryf en vervat is in Belhar, aan al ons lidmate, maar ook in die groter samelewing uitdra. Dit is die een helfte van ons taak. Juis vanwee Belhar is ons ander taak om ook die huidige sistemiese geweld en onreg deur die huidige politieke elite aan die kaak te stel, want meer as 40 miljoen Suid-Afrikaners ly daaronder. Hier praat ek van diskriminerende wetgewing, regulasies en praktyke wat wat die regte en waardigheid van miljoene mense vertrap. Ek het gehoop dar die NG Kerk hier ‘n leidende rol sal speel in die SARK. My persepsie is dat die meerderheid leeraars wat in die SARK verteenwoordig word, steun die onreg van die politieke elite weens hul stilbly-benadering.

Comments are closed.

Scroll to Top