Volharding en die regte ondersteuning kon in hierdie geval ná jare hereniging bring, vertel Christine Shaw, ’n Kerkbode-storievennoot.*
’n Paar jaar gelede is Jordan (skuilnaam) en sy jonger sussie uit hulle ma se sorg verwyder en in pleegsorg geplaas. Terwyl sy sussie in ’n stabiele plasing gebly het, was Jordan se pad meer kompleks. Nadat sy eerste plasing misluk het, het hy tyd in ’n kinderhuis deurgebring voordat hy na ’n tweede pleeggesin verskuif is.
Hierdie plasing het nuwe geleenthede gebied, maar ook die diepte van sy trauma blootgelê. Jordan het gesukkel om aan te pas. In plaas daarvan dat sy sterkpunte raakgesien is, sy intelligensie en goeie skoolprestasie, was die fokus op sy gedrag.

Hy is gereeld vertel dat hy weggestuur of aangemeld sou word as hy nie saamwerk nie. Met verloop van tyd het hy begin glo dat alles wat verkeerd loop, sy skuld is.
Dit is nie ongewoon nie. Kinders wat onstabiliteit of langdurige stres ervaar, internaliseer dikwels skuld. Navorsing toon dat wanneer kinders nie konsekwente, gerusstellende verhoudings ervaar nie, hulle geneig is om verantwoordelikheid te aanvaar vir omstandighede buite hulle beheer. Dit kan hulle selfbeeld, verhoudings en gedrag vir jare lank beïnvloed.
Intussen het ’n ander verhaal ontvou.
Jordan se pa het, terwyl hy in ’n ander provinsie gewoon het, ses jaar lank probeer om sy kinders op te spoor en weer kontak te maak. Hy het uiteindelik na Pretoria verhuis in die hoop om nader aan hulle te wees. Ten spyte van herhaalde pogings om besoeke te reël, was kommunikasie met die kinders se ma inkonsekwent. Hy is dikwels meegedeel dat die kinders nie beskikbaar is nie of by vriende oorslaap, terwyl hulle in werklikheid reeds uit haar sorg verwyder was.
Dit weerspieël die diep skadelike dinamiek van ouervervreemding wat plaasvind wanneer ’n kind se verhouding met een ouer ontwrig of belemmer word, hetsy doelbewus of weens gebrekkige kommunikasie. Selfs sonder duidelike bedoeling kan die uitkoms neerkom op ’n vorm van ouerlike vervreemding – waar ’n kind grootword, afgesny van ’n ouer wat bereid en in staat is om teenwoordig te wees. Die emosionele gevolge kan ingrypend wees en kan lei tot lang termyn emosionele en sielkundige skade. Kinders lei dikwels aan depressie, angs, ’n lae selfbeeld en oormatige skuldgevoelens. Dikwels sukkel hulle as volwassenes om sinvolle verhoudings te kan bou.

Teen die einde van 2025 het die pa se volharding begin vrugte afwerp. Met die ondersteuning van maatskaplike werkers van CMR Gauteng-Oos, is ’n herenigingsproses aan die gang gesit. Dienste is in plek gestel om hom te ondersteun, terwyl sorgvuldige beplanning verseker het dat Jordan se behoeftes sentraal bly.
Toe die tweede pleegplasing misluk, het dit beide dringendheid en nuwe moontlikhede geskep. Jordan het duidelik laat weet dat hy met sy pa herenig wil word. Met die regte voorbereiding en ondersteuning het daardie hereniging ’n werklikheid geword.
Op ’n stil Vrydagoggend, ná jare van skeiding, het pa en seun mekaar weer omhels. Oorweldig, verlig en gereed om weer te begin.
Jordan se storie eindig nie hier nie. Hereniging is nie ’n eindpunt nie, maar die begin van ’n nuwe hoofstuk. Een wat geduld, konsekwentheid en volgehoue ondersteuning verg.
Dit bly egter ’n kragtige herinnering dat selfs in komplekse gevalle, ná jare van onsekerheid, positiewe uitkomste met die regte ondersteuning, moontlik is.
Hoop neem soms tyd maar dit bly altyd die moeite werd om na te streef.
Meer oor Kerkbode se *storievennote
By die Christelike Maatskaplike Raad Gauteng-Oos glo ons dat elke storie van hoop die potensiaal het om ander te inspireer. Daarom deel een van ons personeellede elke maand ’n verhaal wat haar diep geraak het, ’n oomblik wat haar laat stilstaan en anders laat kyk het, en wat ons herinner aan die veerkragtigheid en menswaardigheid wat in elke gemeenskap leef.
Meer oor ons: As ’n nie-winsgewende organisasie lewer ons al meer as 40 jaar lank omvattende maatskaplike dienste wat daarop gerig is om mense sosiaal, emosioneel en ekonomies te bemagtig – ongeag ras, ouderdom, geslag of agtergrond. Met sewe kantore wat ’n wye gebied bedien, raak ’n toegewyde span van 15 maatskaplike werkers en vyf maatskaplike hulpwerkers daagliks lewens aan op maniere wat nie altyd in woorde vasgevang kan word nie.
