Dr Johannes Mouton van Table View-gemeente skryf: Ons het onlangs die voorreg gehad om die Amatola-staproete aan te pak. Ons het dit met die gewone verwagtinge gedoen: mooi natuurskoon, ’n fisiese uitdaging, en ’n bietjie wegkom van die alledaagse. Wat ons nie verwag het nie, was hoe die stap vir ons iets veel dieper sou leer.
Van die eerste dag af was dit duidelik dat hierdie nie net nóg ’n staproete gaan wees nie. Die berge was groen en oop, die woude dig en stil, die koue wind wat soms gewaai het, het alles ’n byna heilige gevoel gegee. Daar is iets aan die natuur wat ’n mens stil maak – wat jou laat luister.
LEES OOK | Kollig-podsending: ‘Ek het weer net liefgeraak vir God, die kerk, myself’ – Pelgrimstog van Hoop se eerste pelgrim wat 800 km aaneen stap
Maar daarmee saam het ons ook ’n ander onverwagse geskenk ontvang. Ons was vier wit Afrikaanse stappers. Saam met ons was daar agt swart Suid-Afrikaners. Ons het nie vooraf van mekaar geweet nie. Ons het mekaar die eerste keer ontmoet die aand voordat ons saam begin stap het. Aanvanklik was daar die gewone beleefdheid, die effense terughoudendheid, die onsekerheid van vreemdelinge wat saam op pad is.
En tog, stadig maar seker, het iets begin verander. Gesprekke het begin vloei, So, met die bietjie Xhosa wat ons ken, die bietjie Afrikaans wat hulle ken, die Engels wat ons almal ken. Eers oor die roete, oor seer spiere en swaar rugsakke. Maar later oor lewens, oor grootword, oor werk, oor hoop, oor die verskille tussen ons. Daar is gelag. Daar is stories gedeel. Daar was oomblikke van stilte wat nie ongemaklik was nie.
LEES OOK | Pelgrimstog van Hoop: Ds Nico Swart word eerste pelgrim wat van Jeffreysbaai tot Agulhas stap (800 km)
Ons het saam geloop. Saam gesweet. Saam geëet. Saam gesukkel teen opdraandes en saam asem geskep op die kruine. En iewers langs die pad het die “ons” en die “hulle” begin vervaag.
Wat vir ons ’n verrassing was, het uiteindelik ’n seëning geword. Dit het ons weer gewys hoe skaars sulke ruimtes in ons alledaagse lewens is – veral vir ons as wit Afrikaanse mense. Hoe maklik bly ons nie in ons eie kringe, ons eie gemeenskappe, ons gemaksones nie – ten spyte daarvan dat ons in die minderheid in hierdie land is. Hoe min geleenthede het ons nie om regtig saam te wees met mense wat anders as ons is nie.
Maar ons het nie net ander mense leer ken nie. Ons het ook iets in onsself raakgesien – ons aannames, ons vrese, maar ook ons vermoë om te groei, om oop te wees, om werklik te luister.
Daar was geen groot, dramatiese oomblik nie. Dit was eerder iets wat stadig gebeur het. ’n Bewuswording dat hierdie tipe saamwees dalk nie so toevallig moet wees nie, maar doelbewus gesoek moet word.
En as gelowiges het dit ons ook laat dink oor die kerk. Oor die NG Kerk, en hoe nodig dit is dat ons juis sulke ruimtes moet skep. Ruimtes waar mense mekaar kan ontmoet, nie net as “ander” nie, maar as mede-gelowiges, mede-mense. Ruimtes waar ons saam kan leer, saam kan luister, saam kan groei. Ons het dit waarskynlik meer nodig as wat “hulle” dit nodig het.
Die Amatola-roete was pragtig. Die berge en woude sal ons bybly. Maar dit wat die diepste spore gelaat het, was nie net die landskap nie – dit was die mense saam met wie ons dit gedeel het.
Miskien is dit die grootste les van alles: dat die pad vorentoe dalk minder oor óns moet gaan, en meer oor saam met wie ons bereid is om te loop.
