Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die vakgebied wat prediking bestudeer word die Homiletiek genoem. Dit kom van die Griekse woord “homileo” wat in die oorspronklike Grieks doodgewoon beteken om ’n gesprek te voer, verduidelik Cas Wepener in die rubriek hieronder.

Cas Wepener: Verbeel jou ’n seisoen van preeklose eredienste

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dis Pinkstertyd. En sedert die herlewing onder leiding van ds Gottlieb van der Lingen in die Paarl in 1861, beteken Pinkstertyd ook preektyd. Mense veronderstel dikwels ’n verband tussen preke en die werking van die Gees. Juis ook met Pinkster. So staan daar nog op baie kanselklede in Suid-Afrika: “So Spreek die Here.” In navolging van die Duitse teoloog Karl Barth, sou dit beteken dat die Gees die woorde van ink op die bladsye van die Bybel, in die prediking, die lewende Woord van God maak.

LEES OOK | Getuienis: ‘Ek moes lief raak vir die kind wat ek gekry het’ – Predikantma vertel van haar Downsindroom-kind

Maar hoe weet ek wat in die kerkbank sit en luister ek hoor die Gees? Predikers preek ook wie hulle is en daarom is die gees van die prediker ook daar iewers in die woorde. Daar is dus sprake van beide Gees en gees in die prediking. Om hierdie rede het die Gereformeerde Kerk in Switserland in die 1960’s ’n redelik ongereformeerde eksperiment gedoen. Hulle het vir ’n tyd lank eredienste sonder preke gehou. Hoekom? Daar was ’n algemene gevoel dat die persoonlikhede van die predikers, wat by uitstek tydens prediking na vore kom, ’n raps te veel ruimte opgeneem het. Die gevoel was dat die fyn balans tussen godsdiens en mensdiens in ’n erediens, daardie balans tussen Gees en gees, weer herstel moes word.

Is dit dalk tyd dat ons daardie eksperiment ook in Suid-Afrika uitvoer? ’n Seisoen van preeklose eredienste? Want watter G/gees is dit dan nou in die preekstoel? Dit klink soms asof predikers meen die Gees van Pinkster het ’n bietjie hulp van die gees van die prediker nodig.

LEES OOK | Die ontstaansverhaal van Bediening op Wiele … en die mense daaragter | Jaco Strydom gesels met Henry en Santie Tyrer

Soms hoor ek ’n radiopreek. En ek dink, maar wat gaan nou met sy stem aan? Ja, natuurlik is ons almal ’n paar dinge geleer oor die projeksie en artikulasie. Maar veel meer gebeur by sommige predikers. Verskoning vir hierdie analogie by voorbaat, maar soms klink hulle stemme wanneer hulle oor die radio preek, of ’n oggend- of aandoordenking behartig, nogal sensueel. Luister mooi, die woorde word liggies geaspireer. Daar is ’n raps meer wind in die woorde as wat daar normaalweg sou wees. Dit het my laat kopkrap, die uile van Minerva het begin vlieg, en ’n redelik voor die hand liggende teorie het gevolg. Voorlopig en in drie dele. Ek gaan haal deel 1 in Genesis 1.

Die Hebreeuse woord ruach, beteken asem, gees of wind. Ons kry die ruach in Genesis al waar dit in die mens ingeblaas word. En dikwels word die stem van God en die Gees van God geassosieer met lug wat beweeg. Dit geld ook vir die Griekse woord pneuma in die Nuwe Testament, wat ook asem, gees of wind beteken. Die wind wat met die skepping in die mens ingeblaas is, is die ruach. En die wind wat Christus na die opstanding en as daad van herskepping oor sy dissipels blaas, is die heilige pneuma.

En hier is deel 1 van my teorietjie. Daardie geaspireerde Pinksterstemme op die preekstoel, is besig met klanknabootsing. Predikers probeer dus om die wind (Heilige Gees) in hulle woorde hoorbaar te maak. Soms is dit ’n sagte bries, net ’n ligte heilige suising. En soms tel daardie bries saam met die plot van die preek so ’n paar knope op om op die klimaks soos ’n magtige orkaan te dreun terwyl ek smekend uitroep dat julle moet hoor wat die Heere sê. In Bybelse Grieks is daar ’n tekentjie wat soms bo ’n klinker geplaas word wat so lyk ῾ of so ’. Dit word die spiritus asper genoem. So ’n hooggeplaaste enkel aanhalingsteken. Wanneer daar onder die enetjie wat agtertoe krul ’n “o” (omikron) is, is dit ’n gewone “o” soos in “op” of “om”. Maar wanneer hy vorentoe krul dan word dit “hop” of “hom”. Sommige predikers weet hoe ’n bietjie wind ’n spinnekop laat hop.

LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê

Die vakgebied wat prediking bestudeer word die Homiletiek genoem. Dit kom van die Griekse woord “homileo” wat in die oorspronklike Grieks doodgewoon beteken om ’n gesprek te voer. Dit beteken geensins om die wind te laat suis nie. Die vermaerde teoloog Jean-Jacques von Allmen skryf: “Homileo does not mean to shout oneself hoarse, nor to take on an unctous tone, nor to be hypnotized by a concern for eloquence, but to speak in the tone of ordinary conversation.” Dit is presies wat die Reformasie in gedagte gehad het. ’n Doodgewone gesprekvoering met mense vanuit ’n plek waar hulle jou darem ordentlik kan sien en hoor.

My teorie is toegegee nog ’n bietjie dun. Dus deel 2. Natuurlik kan ’n mens spekuleer oor die feit dat sommige predikers harder praat as wat nodig is, dat ander se liggaamshouding en voordrag baie dramaties word, en dat party daarop aandring dat die Gees nie deur ’n getikte preekteks kan werk nie, en alleenlik deur ’n vry preek wat sonder die bagasie van ’n klomp preeknotas gelewer word. Maar dit is alles dramatiese oppervlakkighede. Dit gaan oor ’n dieper saak, naamlik die Godsbeeld waarmee die prediker praat. Kyk vir my en luister na hoe ek preek en jy weet wie ek dink God is. Elke prediker werk onbewustelik met ’n metafoor oor wie God is wanneer hulle preek – vanaf die verterende vuur wat met ’n magtige dreuning sy wil bekend maak, deur die koning of regter wat ferm en beslis regeer, tot by die herder wat sagkens vermaan en bemoedig.

LEES OOK | Medestappers skenk rykdom aan staptog

En dan deel 3. Ek preek nie net wie ek dink God is nie, ek preek natuurlik ook wie ek is. My eie geite word ook daar in die kansel uitgestal. Beide my persoonlikheid en my karakter. Soos een teoloog tereg opmerk: “Personality shapes pulpit style, sometimes for good and sometimes for ill.” Mense kan maklik sê jy moet net jouself wees, maar dit is nie so eenvoudig nie. Selfs in die mees “natuurlike” prediking is daar toneelspel (performance). Die toneelspel kan gewoon net erken en omhels word. Wat uitgeskakel moet word, is enige vorm van manipulasie deur middel van sulke toneelspel om ’n belewenis by my te induseer. Dit is hier wat karakter en integriteit die deurslag gee.

Beide die Gees van Pinkster en die gees van die prediker is teenwoordig in ’n Pinksterpreek. Ek glo egter nie ons gaan binnekort eredienste sonder preke hou nie. Miskien kan ons net eerlik verder borduur op die kanselklede: So spreek die Here … en die prediker.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top