’n Gemeentepredikant van Pretoria sê haar dogter met Downsindroom het haar hele verstaan van mawees verander. Sy kyk ook met ’n nuwe bril na wat mense se lewe waarde gee. Lizl-Louise Schoeman het haar storie in Moedersdagmaand vir Heléne Meissenheimer vertel.
Danielle is 21 jaar gelede vroeggebore met ’n noodkeisersnee op haar pa Pieter se verjaardag.
Lizl-Louise was toe 33. Hulle eersteling, Rohan, was net minder as twee jaar oud. Voor hom het hulle lank gesukkel om swanger te raak.
Sy onthou die pediater het dadelik vir hulle gesê dat hulle pasgebore babadogtertjie Downsindroom het. Chromosoomtoetse het ’n paar dae later bevestig klein Danielle het Trisomie 21. Dit beteken dat sy ’n ekstra chromosoom het wat haar fisieke en intellektuele ontwikkeling sou vertraag. Downsindroom Suid-Afrika beraam dat ongeveer een uit elke 600 babas in ontwikkelende lande met hierdie genetiese aanpassing gebore word.
Lizl-Louise vertel dit was moeilik om hierdie nuus te hoor én om dit met die familie te deel. Almal was hartseer. “So, jy het hierdie paradoks, hier is nuwe lewe maar almal huil,” onthou sy.

Hulle het ook die gemeente vertel waar sy toe al vir ’n paar jaar medeleraar was. Die reaksie was sag. “Net liefde en omgee. Dit het regtig vir ons ’n tuiste gegee om deur hierdie goed te werk,” vertel sy.
Omdat sy gevoel het haar baba het haar nou nodig, het sy die kerkraad gevra om haar werkverpligtinge minder te maak.
Kyk sy terug hoor ’n mens by haar dat dit ’n wyse besluit was. “Ek glo daaraan dat ’n mens jou emosies moet hanteer,” sê sy. Hulle as ouers het moes leer wat verg ouerskap van ’n kind met spesiale behoeftes. Onder meer moes sy haar verwagtinge as ouer van hierdie dogtertjie aanpas. Lizl-Louise vertel “ek het in absolute rou gegaan. Ek moes die kind groet wat ek nie gekry het nie sodat ek kon lief raak vir die kind wat ek gekry het – sodat ek haar kon omhels en die lewe saam met haar kon deel.”
Iemand het in hierdie tyd gesê sy moet nuwe drome vind vir haar kind. “Dit het my gehelp verstaan jy hou nie op met droom nie, jy kyk met ’n amper nuwe bril na wat sy kán regkry.
“Daardie het vir my ’n lewenswyse geword. Om so te kyk na mense. Ek sê altyd die regte helde is nie dié wat die voorblaaie haal nie, dit is mense wat elke dag opstaan against the odds of ten spyte van wat hulle gekry het,” voeg sy by.

Onder haar helde tel ook hulle seun, Rohan. Sy sê sy wil vir ouers sê dis verskriklik belangrik dat die sibbe ook raakgesien word. Hulle lewe verander ook. Dikwels gaan die meeste van die ouers se aandag in die kind met spesiale behoeftes.
‘My hele verstaan van menswees is verander’
Twee jaar later, in 2006, toe haar kollega ’n beroep na ’n ander gemeente aanvaar, het sy gevoel sy is gereed en gesond genoeg om na voltydse bediening terug te keer. Sy pos is nie weer gevul nie, so sy was vir sewe jaar die enigste leraar van die NG Gemeente Valhalla in Pretoria. In 2014 het sy ’n beroep aanvaar na die NG Gemeente Monumentpark.
In hierdie tyd is Danielle skool toe. Sy was die kleinste dogtertjie in haar ouboet Rohan se laerskool. Die skool het spesiaal minder kinders in haar klas geplaas asook ’n hulponderwyser aangestel.

Haar ma sê hoewel dit nie aldag maklik was vir Danielle nie (sy kon agterkom sy is anders), dink sy tog hierdie blootstelling aan hoe die lewe regtig is was vir hulle dogter goed. Danielle het ook ’n goeie vriendin gemaak. Dié het op die eerste dag wat hulle ontmoet het vir haar ma vertel haar maatjie het “dancing dream”. Die twee vriendinne het vandag nog kontak.
Teen graad 3 was die leertempo te vinnig. Die Schoemans het intussen gehoor Izelle Els, ’n universiteitsvriendin van Lizl-Louise, het ’n leersentrum begin vir kinders met Downsindroom bekend as Club 21. Dié organisasie sonder winsbejag het toe net een kleinerige skool gehad in Pretoria, maar het sedertdien na sewe kampusse dwarsoor die land uitgebrei.
Lizl-Louise vertel wat vir hulle as ouers belangrik was is dat hulle dogter gevoel het sy is deel van die groep. Sy was nie meer die een wat anders is nie. “Ons het besef daar is min goed soos hierdie geborgenheid – dit is ’n belangrike deel vir hulle heelwees en menswees,” sê sy.
Danielle het haar hoërskool daar klaargemaak. Sy is nou besig om te leer hoe om ’n klashulp te wees by dieselfde leersentrum se naskool. Haar ma lag: die kinders luister vir haar, want sy is kwaai. Die sentrum het ook ’n werkprogram. Dit beteken Danielle kan sommige dae in plekke soos Spar saam met ‘werk coaches’ gaan werk.

Haar ma vertel sy kan sien haar dogter is gelukkig. “Sy voel sy maak ’n verskil. Haar lewe het vir haar betekenis,” sê sy.
Lizl-Louise vertel as ma én predikant het sy ’n groot les geleer. “Ons het so grootgeword dat jou waarde eintlik lê in alles wat jy kan doen, wat jy kan regkry en wat jy kan bereik … ek moes daar ontdek God het gekies sodat sy deel sal wees van die lewe en net dit maak haar waardig ongeag wat sy sou kon doen of nie kon doen nie,” vertel sy.
Sy kyk as predikant met ander oë na mense. “My hele verstaan van menswaardigheid is vandag anders. My bediening is verryk op ’n manier wat ek andersins nie sou gehad het nie. My belewenis in my lewe was wit en swart en Danielle het al die kleure van die reënboog kom bysit,” sê hierdie leraar wat ook dien op die leierskap van die NG Kerk se Noordelike streeksinode.

Wanpersepsie regstel: Hulle is kinders, nie ‘engeltjies’ nie
Daar is ’n wanpersepsies oor kinders met Downsindroom wat sy graag wil regstel. Een is dat almal dieselfde is. Sy sê hulle as ouers het ontdek dat as jy een kind met Downsindroom ontmoet het, is dit een kind. Elkeen is uniek en verskil ten opsigte van wat hulle van hou om te doen en wat nie.
Daar was jare terug ’n dokumentêre radioprogram, Die hemelkinders, wat Fanus Rautenbach nog uitgesaai het. Lizl-Louise sê sy hoor steeds mense wat vir haar vertel kinders met Downsindroom is engeltjies. “Dis ’n kind, hoor, met haar eie giere en geite,” is hierdie ma gou om jou te vertel.
“Ek glo nie ons help ons kinders deur vir hulle jammer te kry nie. Jy berei hulle nie reg vir die lewe voor nie,” verduidelik sy. Haar woorde eggo wat ek laasjaar gehoor het in die Afrikaanse teaterstuk, Annie+Helen. Dit is gebaseer op die Amerikaanse een, The Miracle, wat gaan oor die ware verhaal van die eerste ontmoeting tussen ’n wilde doof en blinde Helen Keller op 12 en haar tuisonderwyser, Anne Sullivan. Helen se ouers en ouer broer het haar te jammer gekry om haar tafelmaniere te leer. Anne sou haar nie net maniere leer nie, maar taal wat vir Helen die geleentheid gebied het om later ’n gevierde skrywer te word.
Ook vir Lizl-Louise is dit belangrik om haar dogter nie teen die lewe te verskans nie, maar haar die spasie te gee om te leer en te leef.
Die lewe spaar hierdie kinders immers nie. Hulle ervaar ook teleurstelling en verlies. Hulle probeer ook daarvan sin maak. Danielle se beste vriendin by die leersentrum is verlede jaar dood aan kanker. Soms sê sy haar hart is swaar van die trane. Haar ma sê sy het vir haar dogter gesê haar trane mag maar loop, want dit vertel iets van sy en haar vriendin se liefde vir mekaar.
Sy voeg by: “Sommige mense praat ook van disabled. Ek verkies differently abled want hulle het wel ’n geskenk om te gee – dat hulle die lewe vir ons ryker en dieper maak”, sluit hierdie ma af.

Hierdie merkwaardige mamma en predikant is my sussie. Ek is geweldig trots op haar, vir alles wat sy al in haar lewe bereik het,maar veral vir die mens wie sy is, die sussie wie sy is, die ma wie sy is en vir haar uitkyk op die lewe en haar omgee-hart. Sy het my laat anders kyk na differently abled mense. Danielle is ‘n ongelooflike jong dame (geite en al) en gaan van krag tot krag. Ons is baie, baie trots op haar. Ons is bevoorreg en Blessed om beide in ons lewens te hê
Hierdie artikel het my baie aangeraak. Geseënd dat my sussie hierdie eerste gesien en dadelik vir my aangestuur. Ek het ook n dogter 14jaar oud gebore met n sindroom en gaan by privaat skool vir kinders met spesiale behoeftes. Ek raak ook onsteld as iemand vir my noem dit is die Here se engelkindjie. God het reeds engele gemaak. My kind is n dogter van die Allerhoogste Koning. n Dokter het met sy hand oor sy tafel al die toets verslae weggevee en gese “al wat hierdie kind kort en wat haar sal deurdra is aandag en liefde”. Sy is vrygespreek van alle diagnose wat oor haar gespreek was. Sy is vry en genees van al wat n medikasie wat voorgeskryf was. Haar DNA is Jesus Christus en ek kan soveel ware getuienis gee buite hoe geestelik sterk my dogter groei en lewe spreek oor haarself. Sy bly kind en ek maak haar “normaal” as moontlik groot al het sy ook agtergekom sy is “anders”. Ek het haar geleer YOU ARE CHOSEN deur God wat jou gemaak het en onvoorwaardelik lief het. Ek as n ma het tog uitdagings. Sy het ook “nikke en geite” en alles wat daarmee saam gaan. Ek het gehuil, getantrum: “Here hoeveel nog moet ek deurmaak en verdra? En in n oomblik antwoord Here met net drie woorde: “liefde verdra ALLES”, en bring my by teks 1 Kor 13. Dadelik terug gevat na 13jaar en 6 maande wat ek saam n Dokter bespreek het. Liefde oorwin alles. En wie beter as God homself wat Liefde is!
Uniek geskape in God se beeld! Ek was gesëend om Danielle se klasonderwyser te wees, sy is ń besonderse jong dame🙏🏾