Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“Wat kyk jy?” Ek vra my man die vraag want ek hoor ’n geskree terwyl hy ’n video op sy selfoon kyk. “Dis kinders in Kraaifontein,” kom sy kriptiese antwoord.
Ek sien later self van die video’s. Dit wys honderde tieners wat chaos maak. Die kinders het, na wat berig word, van een skool na ’n ander gestap, maar toe ontaard hulle optog in ’n plundery van vrugtestalletjies en klippe wat na motors gegooi word. Die polisie het selfs ’n waterkanon ingespan voor vrede herstel kon word.
Ek lees die kinders het geskree: “Buitelanders moet gaan!”
Ek voel hoe raak ek koud in my hart toe ek dit lees.
Wat as daar van “ons” kinders in daardie skole was? Baie van die kinders in ons kerk se ouers is van ander Afrikalande. Sommige se stories breek jou hart. Van die ouers het dikwels met amper niks gevlug nie van ’n land vasgevang in ’n burgeroorlog wat reeds dekades duur. Hulle hoop was om in Suid-Afrika ’n veiliger plek te kry waar hulle kinders kan skoolgaan en grootword met ’n beter toekoms.
Die meeste is wettig hier. Hulle hou met groot gesukkel hulle “papiere” op datum. Die kinders gaan almal skool iewers in Parow of hier naby in die noordelike voorstede van die Kaap.
Ek dink aan Matthew*. Hy is nog op laerskool met twee ouer sussies. Een is op hoërskool. Hulle ouers kom uit Rwanda en is wettig in die land. Die pa werk iewers op ’n wynplaas en die ma doen naaldwerk. Matthew lyk soms hartseer as ek hom op ’n Saterdag optel vir die kinderprogram by die kerk. Dan sê hy kinders was weer lelik met hom by die skool.
Joy kom gee ’n mens altyd ’n drukkie. Sy is sewe, hou van mooi aantrek en baie maats maak. Haar ouers is van die DRK. Haar pa is ’n elektrisiën en haar ma doen hare. Haar maatjies by die kerk is Marianne en Abigail. Ook hulle ouers kom van die DRK behalwe dat Abigail se ma van Angola is.
Ons het ook Suid-Afrikaanse ouers en kinders wat lidmate by ons kerk is, maar hulle kinders is meestal nog voorskools.
Dit is nou so agt jaar wat ons by hierdie voorstedelike gemeente is. Soos ek elkeen van die “buitelanders” in ons kerk se storie leer ken het, het hulle mense geword waarvoor ek lief is. Mense met name. Mense wat my WhatsApp en vra hoe gaan dit as ek op ’n Sondag nie by die kerk was nie.
Hulle is mense met dieselfde drome en vrese as ons.
Xenofobie beteken om bang te wees vir mense wat vir jou vreemd of onbekend is. Hierdie mense kom van Afrika. Ons deel dieselfde vasteland. So ek verstaan nie hoekom praat ons van “buitelanders” nie. Dit laat dit amper klink asof hulle van ’n ander planeet af kom.
Om te praat van “buitelanders” en “vreemdelingehaat” skep afstand – ’n afstand wat gefrustreerde mense kan laat voel hulle het toestemming om stief of lelik met iemand te mag wees.
Ek sal nooit ons eerste Oujaarsaand hier in die Kaap vergeet nie. ’n Portuguese gemeente het ons genooi. Die meeste van hulle lidmate is van Angola of Mosambiek. Wat ’n kulturele skok om ’n kerkfunksie by te woon waar ’n mens tot middernag toe allerhande hoender- en visgeregte eet terwyl jy na koor op koor luister! Maar wat my regtig bygebly het was die pastoor se woorde aan ons na die tyd. Hy het gesê dankie dat julle gekom het, ons het gevoel iemand sien ons raak.
Ons land het vir seker ’n geweldige uitdaging met onwettige immigrante. Dit moet aangespreek word. Op die regte wettige manier. Maar om mense uit hulle huise te verjaag en hulle besighede te plunder is onmenslik. Ons as Suid-Afrikaners kan beter doen as dit. Verdien die Matthew’s en Joy’s nie ook ’n veilige plekkie om kind te mag wees nie?
- Skuilname is gebruik.
