Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het op 9 Junie in ’n pastorale brief gesê die kerk kan nie stilbly terwyl mense aangeval, uit hul huise verdryf en van basiese hulp ontneem word nie.
Die brief, onderteken deur SARK-voorsitter, aartsbiskop Sithembela Sipuka, waarsku teen xenofobiese optrede. Die SARK erken terselfdertyd dat baie Suid-Afrikaners werklike frustrasies ervaar oor werkloosheid, swak dienslewering, misdaad en druk op staatsdienste.
Die verklaring volg kort ná onlangse uitsprake deur president Cyril Ramaphosa oor immigrasie en grensbeheer. Hy het Sondagaand 7 Junie, in ’n direkte uitsending, onder meer belowe dat die regering immigrasiebestuur, grensbeheer en die toepassing van arbeidswette sal verskerp.
Die SARK sê egter hierdie probleme mag nie lei tot geweld of die sondebokmaak van migrante nie. Volgens die brief lê die “ware oorsake” van Suid-Afrika se probleme eerder by korrupsie, swak bestuur en ekonomiese ongelykheid.
Die raad doen ’n beroep op gemeentes om ruimtes vir gesprek te skep, humanitêre hulp aan slagoffers te bied en verkeerde inligting op sosiale media teen te werk. “Die vreemdeling by ons hek is nie ons vyand nie; hy is ons naaste,” lui die brief.
Sien die volledige pastorale brief onder.
FINAL_A Pastoral Letter to the Member Churches and All People of God & Goodwill_
