Kerkbode trek hiermee die publikasie van die artikel ‘Elkeen het ’n storie’ – oud-onderwyser sterf kort na hy sy eie storie van heelword na onverwerkte trauma vertel’ terug. Dit kom nadat dit ná publikasie aan die lig gekom het verskeie sentrale feite was onwaarhede wat as ware lewenservaring aan Kerkbode sowel as ’n hulporganisasie voorgehou is.
Ten einde aandag te vestig op die werk wat MES doen tydens die jaarlikse Winterhoop-veldtog, wou Kerkbode ’n profiel skryf oor iemand wie se lewe deur hierdie NRO aangeraak is.
Op 9 Junie het ons verslaggewer ’n onderhoud met Juan Odendaal, ’n MES-werknemer, in Bellville gaan voer nadat sy ook by ’n vorige geleentheid hom sy lewensverhaal hoor deel het.
Enkele dae voor publikasie is Juan, wat met gesondheidsprobleme gesukkel het, oorlede. Die storie is aangepas om sy afsterwe te vermeld en op 18 Junie gepubliseer op Kerkbode se digitale platform, in die gedrukte Junie-uitgawe van die koerant, en op Bybel-Media en LiG se sosialemediaplatforms gedeel.
Ná publikasie is Kerkbode deur ’n familielid gekontak en ’n aantal sentrale feite in Juan se lewensverhaal is weerê.
- Juan het nie ’n suster gehad nie, hy was nie getroud nie, het nie ’n kind gehad nie. Verder het sy broer nie selfdood gepleeg nie. Kerkbode was in gesprek met die einste broer. Juan was ook nie ’n onderwyser nie, al was hy in ’n stadium werksaam by ’n hoërskoolkoshuis.
- MES, Juan se werkgewer ten tye van sy afsterwe, het intussen bevestig dat sekere inligting wat Juan met verskeie gehore gedeel het – insluitend geloofsgemeenskappe – nie sy werklike lewenservaring akkuraat weerspieël nie.
Gegewe die omvang van die teenstrydighede, en die feit dat die verhaal se sentrale getuienis nie geverifieer kan word nie, trek Kerkbode die profiel in sy geheel terug. Ons betreur die publikasie van onakkurate inligting en bied ons verskoning aan Juan se familie en lesers aan.
Juan se rol by MES en sy betrokkenheid by die organisasie se werk met kwesbare mense was eg. Ons erken dit, terwyl ons die res van die verhaal soos gepubliseer terugtrek.
Kerkbode aanvaar verantwoordelikheid vir die versuim om die inligting voor publikasie te verifieer. Ons het ook kennis geneem dat MES sy interne prosesse rondom die deel van begunstigdes se verhale hersien. Hierdie saak het ons eie redaksionele prosesse rondom die verifikasie van persoonlike getuienisse onder die loep gebring, en ons sal ons prosedures dienooreenkomstig versterk.
Verklaring: MES
Ilse Maartens, MES-takbestuurder (Kaapstad) skryf op 23 Junie 2026: MES erken met hartseer die afsterwe van een van ons voormalige begunstigdes wat later ’n werknemer van MES geword het. Ons betuig ons opregte medelye aan sy familie, vriende, kollegas en almal wie se lewe deur sy lewe en reis binne ons organisasie geraak is.
Gedurende sy tyd by MES het Juan aspekte van sy persoonlike verhaal en getuienis met verskeie gehore gedeel, insluitend met geloofsgemeenskappe. Ná sy afsterwe, en in die lig van kommer wat daarna geopper is, het ons bewus geword dat sommige van die inligting wat voorheen gedeel is, nie sy werklike lewenservaring akkuraat weerspieël nie. Ons is tans besig om na te dink oor die teenstrydighede wat aan die lig gekom het, en ons erken die kompleksiteit en sensitiewe aard van hierdie saak.
MES betreur die aangeleentheid asook enige leed, misverstand of skade wat moontlik ontstaan het as gevolg van die deel of verspreiding van ongeverifieerde inligting wat verband hou met sy verhaal. As ’n organisasie wat met kwesbare individue werk, erken ons die belangrikheid van sorg, akkuraatheid en waardigheid in alle verhale wat deur ons programme gedeel word. Ons bly verbind daartoe om uit hierdie situasie te leer en ons interne prosesse waar nodig te versterk.
Op hierdie tydstip kan MES net werk met die inligting wat tot ons beskikking is. Ons versoek eerbiedig begrip terwyl ons hierdie moeilike situasie navigeer en terselfdertyd dié binne ons sorg ondersteun. Vir enige verdere navrae, kontak asseblief vir Ilse Maartens per e-pos by ilse@mes.org.za
