Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Min mense sal verskil van dr Nioma Venter dat predikante ondersteuning en kollegiale bemoediging nodig het. Die beginsel van “care for the carers” is inderdaad belangrik, veral in ’n bediening waar mense daagliks blootgestel word aan verlies, trauma en die emosionele laste van ander.
LEES OOK: PredikanteSAAMkoms (24-28 Augustus 2026): Wat word beplan?
Tog laat haar brief ’n ongemaklike vraag onbeantwoord: Wie word as “carers” beskou, en wie word uitgesluit van hierdie sorg? Terwyl daar tereg kommer uitgespreek word oor die welstand van predikante in diens van die kerk, is daar ook leraars wat hulle ampsbevoegdheid verloor het onder omstandighede wat hulle as onregmatig en onkerkordelik beskou. Sommige van hierdie sake dien steeds voor die hof. Hierdie persone was ook vir jare die “carers” van gemeentes. Hulle het ook mense deur rou, trauma, konflik en lewenskrisisse begelei. Hulle het ook hulle roeping ernstig opgeneem en hulle lewe aan die bediening gewy.
Wanneer die kerk nou praat oor versorging van predikante, ontstaan die vraag of hierdie versorging ook na hulle uitreik. Indien nie, word “care for the carers” ’n beginsel wat selektief toegepas word – beskikbaar vir dié wat binne die grense van die instelling bly, maar nie vir dié wat deur die instelling se eie optrede gewond is nie.
LEES OOK: Hooggeregshof stel tugsaak teen Marius Coetzee ter syde; nuwe ondersoek gelas
Die pyn lê nie bloot daarin dat mense hulle werk verloor het nie. Dit lê daarin dat sommige van hulle van mening is dat hulle onreg aangedoen is en dat hulle steeds vir geregtigheid moet veg. Solank hierdie ervarings nie erken word nie, bly gesprekke oor genesing en ondersteuning vir baie moeilik om sonder voorbehoud te ontvang.
Ware pastorale sorg kan nie losgemaak word van geregtigheid nie. Om mense te versorg terwyl die oorsake van hulle pyn geïgnoreer word, is soos om ’n verband oor ’n wond te plaas sonder om die besering self te ondersoek. Die kerk se roeping is nie net om te troos nie, maar ook om eerlik na haar eie optrede te kyk wanneer daardie optrede moontlik bygedra het tot mense se lyding.
Die vraag is dus nie of predikante versorg moet word nie. Natuurlik moet hulle. Die vraag is of die kerk bereid is om dieselfde deernis, luister en pastorale omgee uit te brei na dié predikante wat vandag buite die kring van aanvaarding staan, veral waar daar ernstige vrae oor prosedurele en kerkordelike billikheid bestaan.
Indien die PredikanteSAAMkoms werklik die versorging van diegene wat die kerk dien ten doel het, behoort daar ook ruimte te wees vir selfondersoek oor die wonde wat binne die kerkverband ontstaan het. Anders loop ons die gevaar dat “care for the carers” ’n mooi slagspreuk word wat nie die volle werklikheid van alle leraars se ervaring aanspreek nie. Die geloofwaardigheid van pastorale sorg word nie net gemeet aan hoe goed ons diegene ondersteun wat nog binne die stelsel funksioneer nie, maar ook aan hoe ons omgaan met dié wat meen dat hulle deur die stelsel te na gekom is.

Dankie Henrietta. Jy kyk nie eenogig na die situasie nie. Dit gaan nie vir jou om kliekvorming nie. Laat waarheid seëvier.
Ek sluit aan by die gedagte “Terwyl daar tereg kommer uitgespreek word oor die welstand van predikante in diens van die kerk, is daar ook leraars wat hulle ampsbevoegdheid verloor het onder omstandighede wat hulle as onregmatig en onkerkordelik beskou.”
Voorbeeld hiervan is leraars wat deur jaloerse medeleraars op slinkse wyse en met die hulp van die kerkraad en die Ringskommissie dit reg gekry het om hulle kollegas geskors te kon kry uit die bediening. Een leraar moes in Die Kerkbode lees dat hy die NG Kerk bedank het. Tot en met vandag het hy nie bedank uit die NG Kerk nie. Sy status en lidmaatskap is net opgehef.
Die bloedspoor wat hierdie leraars agterlaat as gewondes as gevolg van onregmatige en onkerkordelike optrede word nie deur die kerk opgevang vir berading nie. SKULDIG! DAAR GAAN JY! Die teleurstelling en bitterheid word met ‘n kunsmatige rofie bedek.
Twee versoek aan die leraars van die kerk:
Beraad asseblief ook predikante wat uit die bediening tree, hetsy vrywillig of verplig; hetsy skuldig of onskuldig. Dit bly ‘n hartseer situasie.
Watter pad tot genesing kan ‘n predikant stap in die kerk wat moontlik later in sy lewe tot “bekering” kom en besef wat hy ‘n medeleraar aangedoen het. Sou daar vir so ‘n persoon ook kerklike berading moontlik wees.
Moontlik kan julle by die PredikanteSAAMkoms daaroor gesels. Kanse is goed dat van julle dit gaan nodig hê in julle bediening!