Hy dra dieselfde naam as die man van Naomi in die Bybel; die pa van Maglon en Giljon in die boek Rut. Ek en hy het twee dae uitmekaar in Lilongwe, Malawi aangekom – hy Saterdag; ek Maandag; ek op besoek; hy as vlugteling.
Ek verskans sy gesig op die foto, omdat ek hom nie wil blootstel nie. Die storie wat ek vertel, het baie met sy klerikale kraag te doen. Dit het ook alles met die huidige spanning met burgers van Afrikalande, sogenaamde migrante, in Suid-Afrika te doen. Hy is ’n gelegitimeerde predikant in die Church of Central Africa Presbyterian, Nkhoma Sinode in Malawi. Hy was in Suid-Afrika om ’n gemeente daar te lei. In al die tyd daar, kon hy ondanks elke moontlike poging, nie daarin slaag om sy dokumente in plek te kry nie. Dit was nie ’n gebrek aan verantwoordelikheidsin nie, inteendeel.
LEES OOK: Immigrante-protes: Gelowiges praat met nuanse, stilte én met dade
Die afgelope paar weke was die NG Kerk, saam met ander kerke, op verskillende vlakke by die onrus rondom ongedokumenteerde persone betrokke. Daar was die besoek van ’n groep kerkleiers op 17 Junie – ongeveer twee weke voor 30 Junie – aan president Ramaphosa. Hier is onder andere ’n beroep gedoen op die regering om leierskap aan die dag te lê rondom dreigende geweld, misdaad en onreg. Op 29 Junie het dieselfde groep kerkleiers, waaronder ds Jan Lubbe, moderator van die Algemene Sinode, ’n perskonferensie in Johannesburg gehou. Vanuit ekumeniese solidariteit is daar in drie verskillende publieke verklarings ’n appèl gemaak, weereens op die regering, maar ook veral op die publiek en gelowiges om met deernis, eerder as geweld, te reageer. Daar is veral drie sinodes wat aktief gemobiliseer het rondom direkte humanitêre hulpverlening. Kerkbode het geskryf oor van hierdie ingrypings. Berig van talle gemeentes wat op verskillende maniere gehelp het, is ontvang – ook van sommiges wat gereed gestaan het om as plekke van veiligheid te dien, sou dit nodig raak. Tog is dit die storie van hierdie een man, die tydsberekening van ons ontmoeting en die egte belewenis om te kon luister en hom in die oë te kyk, wat my op hierdie oomblik die diepste raak. En dit op Malawiese bodem!
Die geskiedenis van die NG Kerk met die CCAP, Malawi, gaan 135 jaar terug na die oorsprong van hierdie kerk in die NG Kerk se sendingwerk in Sentraal-Malawi aan die einde van die 19de eeu. Dit is ’n kosbare geskiedenis. Die spore van die NG Kerk lê diep en duidelik in die werk wat tot vandag toe hier gedoen word. In ons gesprek, vra hy ’n kritiese vraag: “Waarom hier kom besoek aflê as ons julle daar so nodig het?” Ek sien teleurstelling in sy oë; selfs verwyt. Ek verstaan. Hy het pas aangeland. Hy deel ’n paar gedagtes; oor hoe hy dink die ekumeniese verhouding in Suid-Afrika ondersteuning kan bied. Die werklikheid is dat die CCAP ’n hele aantal bedieningspunte (satelliete) in Suid-Afrika het, hoofsaaklik in die Wes-Kaap en ook ’n paar in Gauteng. Hoe dit ontstaan het, is ’n storie op sy eie. In kort het migrasie begin vra vir bediening omdat hierdie mense nie daarin kon slaag om met bestaande kerke plaaslik te integreer nie. Hulle is – of was – vyf dominees uit die CCAP in Suid-Afrika. Al vyf moes vlug. Terugkom Malawi toe. Ons praat omvattend oor die uitdagings en realiteite.
Die ontmoeting vra vir groter gesprek en diep onderskeiding. Afrika het tussen ons kom woon.
Dr Nioma Venter is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
