Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Frikkie Coetzee en sy vrou, Rayline, saam met hulle dogter, Andreia. Foto: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Frikkie Coetzee: ‘Ons het nou leiers nodig wat polariteite in die kerk kan hanteer’

Frikkie Coetzee het pas aftree-ouderdom bereik en is vandag meer opgewonde oor die bediening as ooit.

“Ek wil soos jy lyk as ek 65 is!” sê ek, en hy lag en vertel van die lesse wat hy geleer het en sy groot drome vir die kerk.

Ons gesels oor die pad wat hy gestap het tot hier. Hy het die voorreg gehad om by van die NG Kerk se mees uiteenlopende bedienings betrokke te wees.

Jare gelede was hy onder andere vir vyf jaar betrokke by Straatwerk in die middestad van Kaapstad.

“Ons het uitgereik na hawelose mense in die middestad, onder andere meisies wat vasgevang was in prostitusie in Kaapstad se hawe. Dit was ’n grensverskuiwende ervaring wat my geleer het dat die liefde van Christus ons dring oor alle grense na mense in nood,” sê hy.

Daarna was hy vir lank predikant by twee makro-gemeentes. Eers La Rochelle-gemeente in Bellville en toe Lux Mundi in Pretoria. Met sy aftrede is hy onlangs aangestel in ’n kontrakpos by Riviera-Jakaranda-gemeente.

Lees ook: ‘Die Bybel bly tydloos’: Gesprek met skrywerpredikant wat eeue-oue Bybelorganisasie deur uitdagende tye moet lei

Ons gesels oor die groot waarde van ouer predikante in die kerk; konneksies, wysheid en ervaring.

“Dit is ’n voorreg om steeds diensbaar te wees, nuwe mense te leer ken en saam op reis te wees met God se liefde en ’n verskil te maak! Ek is baie dankbaar,” sê hy.

Hy vertel van persoonlike uitdagings en groei. Vroeg in sy bediening is hy deur ’n egskeiding. Dit was ’n baie moeilike tyd. Hy het dit oorweeg om uit die bediening te gaan, maar toe beleef hy ongelooflike deernis en vind genade en genesing in die gemeente. Die lydensvraag en krisisse het hom gehelp om die hart van die evangelie en God se onvoorwaardelike liefde beter te verstaan.

“Dit is ’n pragtige getuienis van die kerk en ’n gemeente wat God se liefde en genade uitgeleef het!” sê hy.

Later is hy weer getroud en vandag is Frikkie en sy vrou, Rayline, saam in die bediening. Sy is ’n diensleraar met die fokus op kinder- en familiebediening by Lux Mundi-gemeente.

Lees ook: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Op pad terug van Noorweë bid ek ’n vreemde gebed

Andreia, hulle dogter, leef met Downsindroom. Sy is deur twee hartoperasies, het twee keer septisemia en multi-orgaanversaking oorleef en was al verskeie kere gehospitaliseer.

“Sy is ’n groot vreugde en inspirasie in ons lewe,” sê hy en vertel hoe baie hy al by haar geleer het. “Toe sy klein was het sy soms wanneer ek preek met my begin praat vanuit die voorste bank waar sy saam met haar ma gesit het. Soms het sy op die kansel geklim en langs my kom sit en vriendelik vir die gemeente gewaai. Sy was nog altyd ten volle deel van die gemeentes waar ons betrokke was. Die Here het haar al baie gebruik. Sy het ’n manier om grense te oorskry waarmee ons partykeer sukkel. Sy het net ’n absolute gemaklikheid en is vir almal lief.”

Dan is daar Angel, ’n Tshebedi-dogtertjie wat soos ’n kind in hulle huis grootgeword het en met wie hulle steeds ’n pad stap. Sy het vandag ’n dogter wat hulle oupa en ouma noem. “Dit was nogal iets toe hulle klein was om in ’n winkel te wees met die twee dogtertjies!” lag hy.

Frikkie is tans die voorsitter van die Taakspan vir Evangelisasie van die Algemene Sinode. Volgens hom is evangelisasie, pastoraat en diens van barmhartigheid onlosmaaklik van mekaar. ’n Mens kan alleen vir die wêreld vertel van God se liefde, as jy self lief is vir die wêreld en omgee vir mense in nood.

Lees ook: ‘Die avontuur van die evangelie is dat dit geïntegreerd werk’

’n Mens sien hierdie lewensfilosofie in sy lewe. Hy het ’n PhD in Praktiese Teologie en Missionale Studies – gefokus op evangelisasie – en ’n MTh in Kliniese Pastoraat.

Die groeiende verdeeldheid en die kerk en samelewing frustreer hom. “Ons het nou leiers nodig wat polariteite in die kerk kan hanteer sonder om verder te polariseer en juis mekaar en die kerk te verryk,” sê hy. “Die groot gevaar is dat ons wil onttrek en terugtrek en bedreig voel, terwyl die liefde van die Here ons juis oor grense vat. Wanneer ons oor grense beweeg, buite ons gemaksone, ontdek ons ’n nuwe wêreld saam met die Here.”

Frikkie het op ’n plaas naby Lichtenburg grootgeword, perd gery en die dinge gedoen wat plaasseuns doen. Sy oorspronklike plan was om ’n ingenieur te word, maar die Here het ander planne gehad. “Na ek my ingenieurstudies gestaak het en diensplig gedoen het, het ek ’n ontmoeting met die Here gehad en ’n duidelike roeping ontvang om predikant te word,” vertel hy. As kind sou hy hom moeilik die plekke waarheen die bediening hom sou neem kon indink. Vandag kyk hy terug met groot dankbaarheid.

Hoe lyk die toekoms?

“Ek wil graag verder navorsing doen in evangelisasie en so ’n verdere bydrae lewer. Ek wil ook meer tyd met my gesin deurbring. Ek wil solank ek genade van gesondheid ontvang koninkryksgeleenthede wat oor my pad kom, gebruik om ’n verskil te maak,” sê Frikkie.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbedienings en die NG Gemeente Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Jaco Strydom gesels met Frikkie Coetzee: ‘Ons het nou leiers nodig wat polariteite in die kerk kan hanteer’”

  1. Hoffie Hofmeyr

    Frikkie, jy slaan die spyker so reg op die kop: ons het leiers nodig wat polariteite kan hanteer sonder om verder te polariseer. Jammer genoeg het die NGK nie baie van sulke leierskap in die “topstrukture” nie!! Dis by ‘n saak soos hierdie wat die NGK gaan staan of val! En hoe tragies is dit dat ons van “topstrukture” moet praat omdat ons “presbiteriaal-sinodaal” nie meer verstaan nie.

Comments are closed.

Scroll to Top