Evangelisasie is meer as die “redding van siele”, maar wat presies is dit? Heléne Meissenheimer doen verslag.
Dr Frikkie Coetzee, ’n 64-jarige predikant van Pretoria, is teologies gevorm deur onder meer die middestadsbediening by Straatwerk in Kaapstad. Vandag lei hy die Algemene Taakspan Evangelisasie wat aan die hand van 12 punte graag aan predikante en gemeentes wil oordra hoe die NG Kerk evangelisasie teologies verstaan.
Coetzee en die taakspan se werksaamhede geskied in die konteks van ’n NG Kerk wat die afgelope jare wyer oor evangelisasie begin dink het. ’n Verhaal wat ooreenkomste met hierdie taakspanleier se eie storie het. Temas wat leef is ’n holistiese kyk na wat evangelisasie is, regstel van wanpersepsies en ’n entoesiasme rondom hierdie Goddelike avontuur.
Die woorde ‘vertel vir iemand’
Coetzee vertel hy was ’n verwarde jongman uit Lichtenburg in Noordwes toe iemand hom gehelp het om by die Here uit te kom. Dit was hierdie persoon wat vir hom gesê het “vertel vir iemand wat met jou gebeur het”.
Só het om met mense oor sy geloofservarings te praat deel van sy geloofsreis geword.

Hy het ’n duidelike roeping ervaar om teologie te studeer om predikant te word. Eers by Tuks in Pretoria en toe na Stellenbosch om sy studies te voltooi.
Tussendeur het hy betrokke geraak by middestadbedieninge. Eers in Pretoria en daarna twee jaar voltyds by Straatwerk in Kaapstad. Hy het ’n wye verskeidenheid mense leer ken, straatmense, hawemeisies … dit was vir hom, ’n plaasseun wat beskermd grootgeword het, grensverskuiwend.
Twee dinge het met hom gebeur. Hy sê hy het besef mense se gebrokenheid is kompleks. Hy wou dit beter verstaan. Om hom hiermee te help, het hy by prof Daniël Louw van Stellenbosch ’n meestersgraad in pastoraat gedoen.
Dit wat hy geleer het, het hom oortuig dat evangelisasie en pastoraat bymekaar hoort. Missionale teologie vat dit verder en integreer woorde en dade van omgee saam. Dit wys dat God in sy liefde op verskillende wyses na almal uitreik om aansluiting te vind by hulle nood. Coetzee sê Jesus se voorbeeld wys dit eintlik ook vir ons, dat Hy geïntegreerd gewerk het. Dink net aan die saligsprekinge, die kosgee vir duisende en al die siek mense wat Hy gesond gemaak het.
“Die avontuur van die evangelie is dat dit geïntegreerd werk en dat ons saam met die Here onderskei wat in ’n situasie gepas is,” sê dié 64-jarige predikant van Pretoria.
Missionale kerk
Intussen was die NG Kerk na 1994 ook in ’n proses van soek en vra na rigting. Die ou bedeling van mag was verby, ook vir die NG Kerk van weleer, die “onaantasbare, Nasionale-Party-in-gebed”, soos vele spottend daarna verwys het. Dit was ’n kerk wat haar plek moes vind in ’n “Nuwe Suid-Afrika”.
Lees meer: NG Kerk: ‘Kleiner, verder van mag … gesonder’
In 2013 kies die Algemene Sinode amptelik vir ’n missionale ekklesiologie (verstaan van kerkwees). Coetzee verduidelik dit as ’n oortuiging dat die kerk moet luister en deel word daar waar God reeds besig is. So word die kerk deelnemers van God se missie, die Missio Dei.
Vir hom en vele ander was dit musiek in hulle ore. Met so ’n amptelike onderskrywing van ’n missionale uitkyk, het hulle gemeen “dit is ondenkbaar dat die saak van evangelisasie dan nie tot sy reg sal kom nie”, het Leon Westhof later in 2022 vir Kerkbode geskryf. Hy was saam met Coetzee op die sinodale taakspan wat in 2019 getaak is om ’n raamwerkdokument oor die NG Kerk se teologiese verstaan van evangelisasie op te stel.

Coetzee het hom intussen in 2014 as predikant by Lux Mundi-gemeente in Pretoria aangesluit, volgens hom ’n missionale gemeente wat hulle roeping “Lig vir die wêreld” ernstig opneem en uitleef.
Wyer verstaan van evangelisasie
Al was daar baie gemeentes wat aktief in hulle gemeenskappe uitgereik het, het dit egter geblyk dat dit tog was, soos Westhof dit stel, “asof hierdie proses (van evangelisasie) oor ’n breë front binne gemeentes tot stilstand gekom het”.
In 2022 bied die taakspan twee sessies by Hugenote Kollege aan oor die teorie en praktyk van evangelisasie met die tema. ‘Die verleentheid van die e-woord’. Westhof skryf hieroor dat dit ’n “poging (was) om predikante en gemeentes opnuut bewus te maak van die belang van evangelisasie in die lewe van ’n gemeente”.
Hierna volg ’n artikelreeks in Kerkbode waarvan Westhof se genoemde artikel die eerste was. Coetzee skryf in sy bydrae, die boodskap wat hulle by gemeentes wou tuisbring is dat evangelisasie nie moet leef as ’n “byvoeging in oorvol programme” nie, maar “gewortel is in die hart van ons missionale identiteit en roeping”. Hy sê dit beteken dit vorm deel van die gemeente se kultuur en almal is betrokke.
Hy praat van “die missionale gemeente as evangelis”. Dit bedoel “die hele gemeente en elke lidmaat is dan ’n gestuurde wat die goeie nuus in al sy dimensies deel met mense wat dit nie ken nie of daarvan vervreemd is,” het Coetzee onder meer geskryf.
Van nege bladsye na 12 punte
Hy voltooi in 2019-2022 sy PhD in Evangelisasie by prof Malan Nel (medeleier van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974) en prof Hannes Knoetze by die Universiteit van Pretoria.
Dit is in hierdie tyd wat hy ook saam met die taakspan gewerk het aan die teologiese raamwerkdokument oor evangelisasie. Hierdie dokument van nege bladsye is eenparig by die Algemene Sinode van 2023 aanvaar.

Saam met Coetzee, is op die taakspan ook: proff Hannes Knoetze en Malan Nel, di Johan van Zyl, Leon Forsman, Joe Muller, Eldré Bester, Jan Grobbelaar, Neels Loots en drr Hein Wiegand, Lourens Bosman, Roedolf Botha en Nioma Venter.
By hierdie selfde vergadering van kerke kry die taakspan twee hoofopdragte: 1. ontwikkel praktiese toerustingmateriaal gegrond op die raamwerkdokument en bied dit vir gemeentes aan in werkswinkels, en, 2. integreer evangelisasie met ander missionale aksies, spesifiek hulpgee (diakonaat) en sosiale geregtigheid. Hieroor moet hulle met die volgende sinode in 2027 terugvoer gee.
Na twee jaar se werk wil hulle die raamwerkdokument prakties en lesersvriendelik met predikante en gemeentes deel. Coetzee vertel hy het ’n toetslopie van die geïntegreerde benadering vir evangelisasie, soos die dokument voorstel, vir drie aande by ’n gemeente gedoen en na die tyd by verskeie mense gehoor dat dit bevrydend was.
Dit is wat hulle taakspan meer wil sien gebeur.
Ds Danie Mouton van die Oos-Kaaplandsinode het die raamwerkdokument in 12 lesersvriendelike punte opgesom en in die Grens.Pos-nuusbrief van 23 Mei met hulle gemeentes gedeel. Dié opsomming was ook op sosiale media deur ander gedeel. Coetzee vertel hulle beplan om aan die hand van dieselfde 12 punte asook hulle eie opsommings meer sulke praktiese leservriendelike toerustingmateriaal te ontwikkel om met gemeentes te deel.
So vind jou gemeente meer uit
Die taakspan is beskikbaar om met sinodes, ringe en gemeentes te kom gesels.
Ook in die oog is VBO-opleiding asook digitale kursusse vir predikante en lidmate.
Dr Frikkie Coetzee kan by e-pos fcoetzee@luxmundi.org.za / frlcoetzee@gmail.com gekontak word om meer uit te vind.

Is Evangelisasie en Sending dieselfde?
Hoekom word daar nou nog, na baie jare oor hierdie onderwerp gepraat, dit is tog die kern van kerk wees? Hoekom ‘n taakspan, weet ons nie meer hoe om die Here se werk te doen nie?
Hoekom sien ons omtrent geen uitreik aksie op groter vlak nie? Moet gemeentes alleen met beperkte bronne hierdie werk doen?