Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Is Christelike nasionalisme werklik Christelik?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Christelike nasionalisme is nie noodwendig Christelik net omdat dit Christelik genoem word nie, skryf Nadia Marais. 

 

In die fliek Nuremberg (2025), ’n historiese drama wat die verhaal vertel van die bekende Neurenberg verhore van hooggeplaaste Nazi’s vanaf 1945 tot 1949, word Herman Göring gevra wat die aantrekkingskrag van Adolf Hitler – ’n mislukte kunstenaar, ’n swak soldaat – was. Göring se antwoord is veelseggend: “He made us feel German again. The war had seen Germany crushed. Along comes a man who says we can reclaim our former glory. Would you not follow a man like this?”

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Frikkie Coetzee ‘Ons het nou leiers nodig wat polariteite in die kerk kan hanteer’

 

Ons leef in ’n opbloeityd vir nasionalismes die wêreld oor, maar veral die (her)opkoms van sogenaamde Christelike nasionalisme. Hierdie is egter geensins ’n nuwe verskynsel nie. Dink maar aan die rol wat Geloftedag (voorheen Dingaansdag) sedert 1910 sou speel om ’n spesiale plek en rol vir Afrikaners in hierdie land teologies te regverdig. Ons sou kon dink aan die Ossewabrandwag-toesprake van eerste minister BJ Vorster en sy NG predikantsbroer Koot Vorster in die 1940’s, waarin Afrikanernasionalisme uitdruklik “Christelike nasionalisme” genoem word. 

Dit wil blyk asof Christelike nasionalisme nie net in Amerika nie, maar ook in ons eie land weer ’n greep op ons publieke verbeelding verkry het. Veldtogte en optogte teen immigrante is wydverspreid. Geloftedag word weer met nuwe ywer gevier. Vanwaar die hernude dryf na selftrots, selfliefde, en selfhandhawing? Hoe behoort ons oor Christelike nasionalismes te dink en hoe behoort ons dit te beoordeel? Hoe behoort ons ons te posisioneer – as landsburgers, as Christene, as lidmate van die NG kerk, in so ‘n tyd?

LEES OOK: ‘Die Bybel bly tydloos’: Gesprek met skrywerpredikant wat eeue-oue Bybelorganisasie deur uitdagende tye moet lei

In Augustus 1974 – kort voordat die Algemene Sinode in Kaapstad in Oktober 1974 die dokument Ras, Volk, en Nasie aanvaar – skryf Willie Jonker in twee Kerkbode-artikels oor selfliefde en selfhandhawing: (van) die pilare waarop nasionalisme berus.

In sy eerste bydrae (14 Augustus) waarsku hy dat ons liefde vir onsself en ons eie – óns mense, óns kultuur, óns land – ons liefde vir ons naaste kan begrens en verdring. Calvyn noem diesulkes wat so argumenteer – dat ons éérs onsself lief behoort te hê vóórdat ons God en naastes kan liefhê – “esels wat self geen greintjie liefde besit nie.” Jonker, soos Calvyn, beskou die drang tot selfbehoud as bloot ’n gegewe, ’n “natuurlike drang”. Wat hy noem “die Bybelse liefde” vra egter van ons om juis nié ons eie belang te soek nie (in verwysing na 1 Korintiërs 13:5), om juis gemeenskap met ander op te soek en uit te soek, en om onsself juis met die belange van ander te vereenselwig – asof dit ons eie belange is, asof dit nét so belangrik is. Enigiemand kan nét na hulleself omsien.

Christelike liefde vra egter méér van ons: “die ongereserveerde gerigtheid op die naaste,” skryf Jonker – en hierdie kan selfverloëning en selfkruisiging vra. “Om Christus werklik te kan liefhê, moet ’n mens jouself verloor” en dit is juis wanneer ons onsself verloor – wanneer ons gerig is op Christus en ons naaste, nie onsself nie – wat ons onsself in Christus vind, argumenteer Jonker. Hy waarsku dat ons versigtig moet wees vir diegene wat praat asof dit bybels en Christelik is om éérs na jouself en jou mense te kyk: “wie selfliefde en selfhandhawing aan ons voorhou as ’n Christelike plig, praat in ’n ander idioom as die Bybel.”

LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Op pad terug van Noorweë bid ek ’n vreemde gebed

In sy tweede bydrae (21 Augustus) beklemtoon Jonker dat bybelse, Christelike liefde niks anders is as liefde vir ons naaste nie. In die verhale van die barmhartige samaritaan (Lukas 10) en die ryk jongman (Lukas 18) is dit vir Jonker duidelik dat naasteliefde nie begin nadat “ek eers in my selfliefde vir myself gesorg het en myself gehandhaaf het nie.” Trouens, Christus self – skryf Jonker – het homself juis nié gehandhaaf of sy eie belang gesoek nie (in verwysing na Fillippense 2). Ons herken die Christelike liefde – soos vergestalt deur Christus self – dat dit wégwys van ditself. 

Binne die liefde wat ons as ’n geskenk van Christus ontvang “is daar geen plek vir selfliefde en selfhandhawing nie,” herinner Jonker. Maar nie net is selfliefde nié Christelik nie – dit is “juis die wese en innerlike kern van sonde,” skryf Jonker, want “wie sy naaste nie kan of wil aanvaar nie, toon daarmee onteenseglik dat hy nóg God, nóg sy naaste liefhet, omdat hy in ‘n dodelike liefde net in homself ingekeer is.” 

Christelike nasionalisme is nie noodwendig Christelik net omdat dit Christelik genoem word nie. Wanneer dit vrees en haat vir ons naaste – immigrante, vreemdelinge, vroue, transgender persone, enigiemand wat anders lyk of praat of dink – aanhits, wanneer dit alles en almal wat oënskynlik sterk en groots is najaag en diegene wat weerloos en siek en swak is vertrap, wanneer dit oorlogsugtigheid en onverdraagsaamheid regverdig en aanprys, verloon dit die Christelike evangelie en is dit niks minder nie as sondige selfbeheptheid. Dan is dit ’n verdraaiing van die evangelie en ’n misbruik van die goeie nuus.

Is daar enigsins énigiets Christeliks aan Christelike nasionalisme? 


Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Is Christelike nasionalisme werklik Christelik?”

  1. Dankie Nadia. Hierdie debat moet nog wyd gevoer word. En ons sal by die Bybel se idee van die koninkryk van die hemele moet begin.

Comments are closed.

Scroll to Top