Ek skuif agter die klavier in. Voor my is my iPad met die bladmusiek vir die aand reeds oop en in volgorde. Tussenin ander papiere en my rooi notaboek lê die beplanning vir vanaand se liturgie. Bo-aan staan die tema: Jesus genees.
Die emosies van die eerste oggend se groot oomblik is nou darem onder beheer. Dit was oorweldigend om die vol saal predikante voor my te sien. Hier is ons nou! Uiteindelik.
Lees ook: Nuwe musiek vir die kerk: Vier vars vrystellings
Ek maak gou seker my mikrofoon werk en stem saam met Lizelle in D-mineur. Almal is vanaand ’n bietjie vroeër in die saal. Hopelik kan ons betyds begin.
Ons sing Psalm 100. Hoe dan nou anders? Daarna Lied 450 oor die Drie-eenheid, gevolg deur ’n Nuwe Lof-lied, Die Here leef in my. En dan is dit tyd vir ’n kinderlied.
Ons het ’n verrassing in die mou: My God is so groot begin tradisioneel in 4/4-tyd, maar skakel dan met ’n groot gejuig oor na ’n 6/8-weergawe met gebroke akkoorde.
Ons trek los.
Ek kan nie vir jou sê hoe hard die SAAMkoms-predikante sing nie. Daar is bewegings en glimlagte, kinderlike opgewondenheid en kollegas wat mekaar geesdriftig in die oë kyk terwyl die dak lig met hierdie eenvoudige woorde:
“My God is so groot.”
En van my sitplek af, die beste een in die huis, kyk ek na die toneel voor my en dink:
Ons Here ís werklik só groot.
Daar het persoonlik baie in my gebeur in die aanloop tot die beplanning van die SAAMkoms se groot byeenkomste. Jy kan jou net indink wat in ag geneem moet word: die verskeidenheid voorkeure, die stemme in my kop wat ek vooraf reeds hoor kommentaar lewer, verskillende spiritualiteite in die kerk, wie waarvan hou en nie hou nie, watter teologiese keuses gemaak word. Om nie eens te praat van al die musiekpolitiek rondom watter liedere, en wie se liedere, gesing word nie.
Dit alles teen die agtergrond van die narratief dat “die kerk ernstig verdeeld is” wat so sterk deur sommige behoudende groepe en briefskrywers gedryf word. Ek was daarom intens bewus van wat in hierdie oomblikke van “saamwees” op die spel was.
Maar terwyl ek kyk hoe ’n saal vol predikante lag, beweeg en kliphard saamsing op die 6/8-orkesweergawe van ’n eenvoudige kindergeloofsliedjie, tref iets my:
Die sterkste narratief in die NG Kerk is nie verdeeldheid nie.
Ek is nie naïef oor die spanning en plekke in die kerk waar dit wel waar is nie. Maar hier vanaand, waar ’n groot en invloedryke deel van ons kerk se predikante bymekaar is, sien ek iets anders:
’n Gedeelde liefde vir die Here.
En ek wonder of dié wat aanhou om net ’n narratief van verdeeldheid te dryf, nie soms vanuit ’n veel kleiner wêreld na die kerk kyk as wat die werklikheid regverdig nie. Want wat hier voor my afspeel, vertel ’n ander, en dalk veel sterker, verhaal van wat in die kerk aan die gebeur is. En as jy nie hier was om dit self te beleef nie, behoort jy deeglik daarvan kennis te neem voordat jy ’n perspektief op die NG Kerk bly verkondig wat dalk meer van jou eie beperkte blik verklap as van die groter werklikheid in die kerk.
Later kom ons by die plek in die liturgie waar elkeen persoonlik voor die Here stil word. Vanaand gaan dit oor olie, genesing en Lukas 5.
Dit was die hele dag op my hart om met my kollegas oor hulle eie genesing te praat. Oor lyding en seerkry in die bediening, in die kerk, dalk persoonlik – selfs dit wat jy moet bely oor jouself. Ego’s. Sonde.
Want dié wat altyd bedien, moet soms self hoor:
Ek is lief vir jou.
Ek vergewe jou.
Ek genees jou.
Daar is genade vir jou.
Predikante sê dit voortdurend vir ander. Maar vanaand moet jy, gestroop van jou titel, jou amp en jou werk, dit self hoor:
Die Here se genesing is ook vir jou.
Ek sien hoe die trane loop. Die Gees wat werk.
Ná die tyd kry ek WhatsApp-boodskap op WhatsApp-boodskap. Mense kom gesels oor hulle seer en hulle dankbaarheid om hier te wees.
En ek besef dit weer: Wanneer die debatte en agendas wegval en ons net as brose, gewone gelowiges bymekaar is, ontdek jy hoeveel ons eintlik in gemeen het. Die begeerte om lief te hê, om gemeenskappe en gemeentes te bedien en om self die Here se genade te beleef.
Dít is die vlak van ontmoeting. Van saamwees, belydenis, gebed en geloof.
Eenvoudig. Menslik. Eerlik.
Ons leer vir hulle ’n nuwe lied.
En ná maande se beplanning en voorbereiding kom lê daar ’n diep dankbaarheid in my hart wanneer ons saam die woorde sing:
As ek eerlik is,
dit is wie ek is.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

Hierdie oomblik by die SAAMkoms was vir my persoonlik ’n merker op my pad as kind van die Here.
Van waar ek op die verhoog gestaan het, het die ligte die predikante se gesigte vir my verblind. Terwyl ons “My God is so groot” gesing het, kon ek nie hulle gesigte sien nie…
Al wat ek kon sien, was arms.
Die arms van byna 700 leraars wat die lug in gaan — mense wat week ná week preek, bid, troos, luister, dra en dien — maar wat in daardie oomblik eenvoudig net kinders van God was wat saam die grootheid van hulle Vader besing.
En daar, tussen die ligte en die musiek, het iets diep in my hart stil geword:
My God ís so groot.
Groter as ons gemeentes.
Groter as ons verskille.
Groter as die uitdagings van die kerk.
Groter as dit wat ons dra en dit wat ons soms moeg maak.
Vir ’n paar kosbare oomblikke het ek iets beleef van die mooi van die kerk van Christus — honderde mense, honderde stories, honderde roepings… maar een Here.
Ek wil hierdie oomblik bêre.
As ’n herinnering vir die dae wanneer bediening swaar raak.
As ’n merker langs my geloofspad.
As ’n getuienis wat my weer sal herinner:
Ons God is groot.
Ons God is goed.
En wat ’n voorreg om Hom saam te dien.