Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die saamkoms van predikante wat in Augustus op Goudini plaasgevind het, is verby. Net die geskiedenis sal leer wat die impak van hierdie byeenkoms op die NG Kerk gaan wees. Wat wel nou reeds hoorbaar en sigbaar is, is dat meer as 700 predikante begeesterd, vol energie en opnuut opgewonde oor hulle roeping na hulle gemeentes teuggekeer het. Natuurlik was alles nie volmaak nie en het kritici baie te sê oor die saamkoms. Spreekwoordelik het daar egter nuwe wyn uit Goudini na die NG Kerk gevloei. Die vraag is of die kerk weer vir meer as twintig jaar moet wag voor dit weer gebeur? Die vorige byeenkoms het mos van 20 tot 22 Junie 2005 op die Kovsiekampus in Bloemfontein plaasgevind. Die antwoord hierop is ’n dawerende nee! Daarom is dit dalk nodig om te droom oor ’n nuwe sak vir hierdie nuwe wyn.
In so ’n droomscenario sou die Algemene Sinode dalk vervang kon word met ’n saamkoms van predikante van die kerk wat elke vier jaar plaasvind. Die wordingsgeskiedenis van die Algemene Sinode en die ontwikkeling daarvan sedert 1962 bevestig dat die vergadering en vorm van eenheid nie pasklaar uit die hemel geval het nie. Nadat die NG Kerk in 1862 deur die bekende Loedolff-saak verdeel is, het drie nuwe streeksinodes, naamlik Vrystaat (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866) tot stand gekom. In ’n strewe na nuwe en groter eenheid is die Raad van Nederduitse Gereformeerde Kerke in 1905 in die lewe geroep. Die eenheid van die NG Kerk het daarmee in ’n federale liggaam gestalte gekry. In 1962 het die Algemene Sinode tot stand gekom, nie as ’n sinode van gemeentes nie, maar as ’n sinode van sinodes. Sedertdien het die grootte en funksionering van dié vergadering oor jare verander en gewissel. Die Moderamen van die Algemene Sinode is intussen ook vergroot om amper soos ’n mini-sinode te funksioneer.
In ’n droomscenario sou besluitnemingsbevoegdheid dalk weer aan die streeksinodes gegee kon word soos voor 1962. Dit sou die groot diversiteit in die kerk respekteer en besluitneming vergemaklik (dink Belhar). Sake van gemeenskaplike belang sou deur streeksinodes na ’n vergadering soortgelyk aan die Raad van Kerke, saamgestel soos die moderamen, verwys kon word en wie weet? Miskien sou dit dan moontlik wees om elke vier jaar ’n saamkoms van predikante te reël.
Min goed in Suid-Afrika lyk en funksioneer nog soos in 1962. Min gemeentes lyk en funksioneer soos toentertyd. Miskien is dit tyd vir ’n totaal nuwe sak vir die nuwe wyn?
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.
