Ons gesels oor misdaad. Marius Schoombie is geen polisieman of ’n kriminoloog nie – hy is ’n dominee by Stellenberg-gemeente – maar hy het dit al aan sy eie lyf gevoel. ’n Paar keer. En hy het stories om te vertel! Van hulle tragies en wreed, maar dan is daar ook ’n inspirerende misdaadverhaal. ’n Verhaal so beautiful dat dit ’n mens weer hoop gee.
’n Groot draaipunt in sy lewe was toe sy oudste broer, Johan, ’n tweedejaar teologiestudent, oorlede is in ’n motorongeluk. Dit was ’n Sondagaand, hy het gepreek by Elarduspark-gemeente, op pad terug jaag ’n dronk ou van voor in hom vas. Sy broer is vandag steeds ’n groot inspirasie in sy lewe.
“Behalwe vir dit, het ek eintlik baie min van die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika in my grootword- en studentejare aan my eie lyf gevoel,” sê Marius. “Maar toe kry ek ’n beroep na Amanzimtoti! Ons was seker twee weke in ’n woonstel ingetrek, toe ons een oggend verslaap en besef ons selfone is van ons bedkassies af gesteel. Daar was nog soortgelyke voorvalle en ek is ’n paar keer ge-mug.”
En toe kom die grootste skok.
Hy en sy vrou Pauline was in 2021 met vakansie in Koffiebaai in ’n tent, toe hy ’n oproep van ’n kerkraadslid kry.
“Sit jy?” het die persoon gevra.
“Nee, moet ek?” het Marius geantwoord.
Die kerkraadslid het die slegte nuus met hom gedeel. Sy kollega, Liezel de Jager, is pas buite haar pastorie vermoor.
Dit was ’n verskriklike tyd. Getraumatiseerde gesins- en gemeentelede, deurmekaar emosies, die begrafnis, die polisieondersoek, die media … Liezel de Jager se man het in 2024 sy eie lewe geneem terwyl hy in aanhouding was.
“Sy was so ’n mooi sagte mens wat altyd net aan die goeie in mense geglo het,” sê hy.
Marius vertel van die groot effek wat dit op sy eie lewe gehad het. Ook op sy manier van dink oor kerkwees. Hy is vandag meer as ooit bewus daarvan dat dinge in die lewe dikwels baie meer kompleks is as wat dit mag voorkom, en dat daar dikwels ’n veel dieper storie is agter die tragiese goed waardeur mense gaan.
Waaraan hou jy vas as dit rof gaan? vra ek.
“Ek vind myself eintlik ’n bietjie meer tuis in die donker as in die lig. So as dit té goed gaan, begin ek wonder … Die lewe moet so ’n bietjie rof wees. My idee van pret is om berge uit te klim en te hardloop tot my lyf opgee. Dit is terapeuties en bring my, letterlik, weer aarde toe. Anders as dit doen ’n goeie drukkie van my seuntjie en my vrou wondere! Ek het so ’n rukkie terug die gedagte teëgekom om delight te microdose. Om klein oomblikke van verwondering te vier. So ek wandel graag in my tuin of park of berg en raak kinderlik opgewonde oor die blommetjies en goggas en die misterie van die lewe, wat my dan help om tuis te voel in die misterie van die Lewegewer self,” sê hy.
Daar is soveel tragiese misdaadstories, maar nou die dag – in die swembad by die predikantesaamtrek by Goudini – vertel Marius my sy inspirerende misdaadstorie! Wat ’n uitdaging om helderder te skyn as dit donkerder word! het ek gedink, and it had a Jesus-ring to it.
Dit het gebeur kort na die ergste Covid-beperkings gelig is. ’n Vriend en kollega het hom genooi om saam met hom ’n trailrun te gaan hardloop – om hulle vryheid te vier!
Hy vertel self:
Ons het minder as vyf kilometer gehardloop, toe ons ’n geritsel in die bosse hoor. Toe ons omkyk, kyk ons vas in ’n pistool.
Die ou agter die pistool het ons beveel om alles wat ons het te gee. Hy het ons letterlik kaal laat uittrek, net om seker te maak ons het nie nog iets wat hy kan vat nie! Ek onthou hoe hy daar gestaan het met ’n selfoon, ons horlosies en sonbrille in sy een hand en die pistool in die ander.
Uiteindelik tevrede dat hy alles het, sê hy ons kan nou maar gaan. Maar ’n gedagte kom by my op en ek sê: “I’ll pray for you.” Ek kon sien hy het dit vreemd gevind en toe vra ek: “Can I do it now?”En hy stem toe wraggies in.
Ek en my kollega bid toe vir hom daar in die bos en na ons amen gesê het, staan ons seker nog vir ’n halfuur en gesels. Een van die mees fassinerende gesprekke van my lewe.
Die arme ou het gedurende Covid sy werk as kelner verloor. Uit desperaatheid het hy begin steel. Maar hy is eintlik ook ’n Christen, vertel hy ons. Toe hy sy geweer gekry het, het hy byvoorbeeld eers daaroor gebid.
“I don’t just shoot people, only if they make trouble,” het die ou gesê. “And even then, I don’t kill them, I shoot them in the leg.”
Alles wat hy van ons gevat het, het hy weer teruggegee, behalwe die selfoon – want sy gesin moes eet en hy kon dit nie in sy hart kry om ons te vertrou om hom te help nie.
Teen die einde van die gesprek sê ek, hy moet asseblief ook vir ons bid, met die gedagte dat hy dit dalk een of ander tyd op sy eie sou doen.
Hy het anders verstaan. Dadelik sit hy sy geweer neer. Toe vra hy dat ons ons oë toe maak, en toe, terwyl hy sy eie oë toemaak, bid hy vir ons!
Marius sê hy dink nog gereeld aan daardie man. Oor hoe hy en sy kollega-vriend hulle vryheid daai dag wou vier en die man steeds gevange gehou is deur sy omstandighede. Aan die ou wat aanvanklik net soos ’n vyand voorgekom het, maar op ’n manier ook ’n broer was, iemand wat ook sukkel om Jesus te volg.
Terwyl hy praat kom die Engelse uitdrukking by my op: It is better to light a candle than to curse the darkness! Die lewe maak jou bitter of beter, hy het beter gekies. Hoe anders sou die wêreld wees as meer mense wat hulleself Christene noem die evangelie soos Marius Schoombie kon verstaan.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbedieninge en die NG Gemeente Villieria.
