Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Onlangs op ’n nat lenteoggend het ek en vier grootmense saam met 11 tieners deur ’n digte bos aan Tafelberg se hang ’n staproete probeer raak stap.
Dit was koud. Bo die hoë bloekom- en denneboomtoppe was grys wolke wat ons af en toe nat drup. Onder ons tekkies en stapskoene was rotse en boomwortels en iewers ’n afdraai na die regte paadjie …
Die oggend het begin met almal wat by die kerk moes bymekaarkom. Teen vertrektyd was vyf tieners nog nie daar nie. Drie van hulle bly reg langs die kerk.
Ek het hulle skel-skel gaan oplaai, maar nog voor die M5-afdraai na Rondebosch was my kwaai op. Hulle geesdrif het my aangesteek. Ons was saam bly om te sien hoe boomryk is hierdie deel van die stad … so anders as die digter beboude omgewing wat hulle as huis ken.
By Nuweland se bos aangekom was die parkeerterrein en die berg se hange al vol mense met honde.
Dit was vir die kinders te wonderlik. Hulle gesels met die mense wat by ons verby stap. Vra of hulle hul honde se koppe mag vryf. Lag en giggel.

Foto: Kerf Mambueni
Ons stop dikwels. Hulle wil die stroompie afneem wat vrolik verby kabbel. Die hoë dennebome. Mekaar. Kerf draai sy kamera op homself en vertel sy Tiktokkies waar hy is. Ander neem van alles foto’s en video. Skaars tien minute in die stap sê Abigail sy dink sy het al klaar te veel foto’s en video geneem. Ek sien sy en haar vriendin stap altwee met wit tekkies. Hulle het waarskynlik nie ander nie. Dit pla min – hulle geniet net die saamwees buite met maats.
Niks kon hierdie groep tieners se entoesiasme demp nie. Nie die koue, die gedrup van reën of dat ons toe nooit die kontoerpad kon kry nie. Hulle opgewonde gesels het saam met die gekwetter van voëls tussen die bome weerklink.
Hulle energie was soos lekkergoed. Dit het my herinner aan wat regtig belangrik is met hierdie uitstappie. Vir hulle is hierdie veel meer as ’n jeugaktiwiteit op ’n kerkkalender – hierdie stap is vir meeste van hulle ’n rare kosbaarheid. Hulle is vry om te wees wie hulle is. Tieners. Meeste is na skool en oor naweke beperk tot die beknopte woonstel of kamers wat hulle ouers huur. Dikwels is daar jonger sibbe waarna hulle moet omsien, terwyl ander klasmaats sport kan doen of in malls rond hang. Die omgewing waar hulle bly is ook te onveilig dat veral meisies alleen selfs net na speelparke kan stap. Meeste se ouers werk te hard of is te arm om hulle op sulke uitstappies soos hierdie te neem.
Wat maak ’n bietjie verdwaal dan saak?
Ek het opgelet die laatkommers en die gesoek na die regte pad was iets wat eintlik net ’n paar van ons grootmense baie gepla het. Dit het my weer laat besef ons kies wat ons ontstel.
Dit het my ook herinner aan wat Jaco Strydom skryf in Eendag is te ver, sy eerste boek wat spesifiek vir jongmense geskryf is. Hy sê daarin hy glo “die kerk het nie net baie om vir jongmense te leer nie, maar ook baie om by jongmense te leer. Jesus het nie vir die kinders gesê word groot nie; Hy het vir die grootmense gesê word klein …”.
Jaco sê ook hy dink ons maak ’n fout om vir jongmense te vertel hulle moet eers groot word voor hulle ’n verskil in die wêreld kan maak. Dink aan Dawid en Goliat maar daar is ook die meer onlangse storie van die tienermeisie wat braaf genoeg was om die tegnologiereuse soos Meta aan te vat oor die verslawende elemente wat hulle doelbewus ingebou het in hulle sosiale mediaplatforms soos Facebook en Instagram … .
In Maart vanjaar het ’n Amerikaanse jurie vir Meta gelas om $6 miljoen uit te betaal aan ’n 20-jarige vrou bekend as KGM of Kaley in hofdokumente. Sy het in 2023 as 17-jarige tiener in die hof beweer die manier hoe hierdie sosiale platforms ontwerp is met kenmerke soos onbeperkte duimrol (infinite scroll), autoplay, algoritmiese opwipkennisgewings en mooimaakfilters (beauty filters) het haar van ’n baie jong ouderdom af aan sosiale media verslaaf gemaak, het The Conversation berig.
Haar saak word beskou as een van ’n paar rigtinggewende hofsake teen tegnologiemaatskappye. Die rippeleffek kring klaar baie wyer met hordes hofsake wat intussen ook gevolg het.
En Meta het intussen aangekondig hulle gaan kyk hoe om hulle produkte aan te pas om dit veiliger vir jong kinders te maak … ons sal maar sien of hulle dit kan regkry.
Intussen dink ek ons grootmense kan by Kaley leer dat te veel tyd op sosiale media ook vir ons geestesgesondheid sleg kan wees (ook ek sukkel soms om my duim te laat rus). Dink net hoeveel minder angs en wrewel sal ons grootmense kan geniet sonder die gestres oor likes en volgelinge en kommentare … en dan het ons ook boonop meer tyd vir goed soos om buite te gaan stap en regte gesprekke te hê met mense.
