Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Cas Wepener vertel hoe sy werk met studente hom energeer, voordat die gesprek draai na sy publikasies. “Dit is ’n verskriklike voorreg en baie lekker om met [studente] te werk. Hulle het ’n unieke stuk energie wat nie almal in die lewe het nie.

Rethie van Niekerk gesels met Cas Wepener: Paradokse, liefde en vismotte 

“Caspaaaaaruuuus”, hoor ek nog vir prof Johann Cook (ons dosent in Semitiese tale) roep in die gange van die Universiteit Stellenbosch. Vandag is Cas Wepener self ’n professor in Praktiese Teologie (spesifiek preekkunde) aan dieselfde universiteit, asook ’n kranige skrywer. Na die publikasie van sy jongste werk, Halfpad deur die lewe (’n besondere refleksie en gids oor die boek Prediker, uitgegee deur Bybelkor in 2026 – sien resensie), besluit ek verdere gesprek is nodig.

Wepener vertel hoe sy werk met studente hom energeer, voordat die gesprek draai na sy publikasies. “Dit is ’n verskriklike voorreg en baie lekker om met [studente] te werk. Hulle het ’n unieke stuk energie wat nie almal in die lewe het nie. Dis ook lekker om al die studente van 17 of 20 jaar gelede vandag te sien. Ek ken so baie van daai studente. Maar om dan te sien wat hulle doen en wat geword het van hulle, dit gee nogals vir my die meeste energie.”

LEES OOK | Cas Wepener: Imagine there’s no bodorp

Wanneer ons gesels oor sy skryfwerk, beskryf hy hoe hy dink aan sy skryfwerk as verskillende vlakke: Daar is natuurlik die akademiese skryfwerk. Dan is daar wat hy noem “professioneel skryf”, vir predikante en gemeentes. Daar is ook die populêre skryfwerk, wat hy waarskynlik die meeste geniet. Die vryheid van fiksie skryf gee vir hom energie. “Daarsonder sal ek nie oorleef nie”. Wat die fiksie betref, het hy “een kortverhaalbundeltjie en vier romans” onder die belt, maar “die laaste een lê nou al ver in die verlede. Ek wil graag weer daarby uitkom.”

Ek kan nie die versoeking weerstaan om te vra oor sy liefde vir Karel Schoeman nie – iets wat dikwels in sy werk deurskyn. Sy wenkbroue lig vir ’n oomblik, voordat hy sy rekenaar se kamera draai. Daar, op die muur van sy studeerkamer, pryk twee groot kunswerke van Schoeman. “Ek het hom ontdek in ons studentejare. Daar is ’n misterie en ritme in sy werk wat ek nog nie by die ander raakgelees het nie. Ek het net besef, sjoe, hier is iets heeltemal anders. Dit het verskriklik met my geresoneer en by my gebly.” Oor tyd werk Wepener deur Schoeman se hele oeuvre. Hy vertel dat Schoeman aanvanklik ’n priester wou word en verbind dit aan ’n roepingslyn wat deur Schoeman se werke loop. “Dit is amper asof in hom en in sy tekste liturgie en letterkunde saamloop. Jy kan dit optel in sy sinne. Hy het sulke lang sinne, maar as jy dit lank lees soos in Die uur van die engel, raak dit amper soos ’n inkantasie. Dit vorm jou. Jou asemhaling verander. So goed is hy. Hy vat vir jou so in die ritme in. Dis ’n liturgiese lees.”

LEES OOK | Cas Wepener: ‘Om só in ons wêreld teenwoordig te wees, is ʼn moeilike opdrag’

Nadat ek wys hoe ’n paar van Wepener se skrywes oor liturgie altyd binne reikafstand van my lessenaar staan, draai ons gesprek na Halfpad deur die lewe. Ons gesels oor die aangrypende etse deur Wessel van Dyk. “Dit het veral begin met die vismot,” verduidelik Wepener. “Ek het vir Wessel gesê hierdie vismot het my nou onkant gevang. Toe sê ons: hoekom maak jy nie vir ons ’n vismot nie? Ek het gedink dit kan baie lekker werk saam met die tekste. Dit is so ’n dun boek, die tipe inhoud wat ek self so vinnig sal deurlees en dat ek nie eens oormôre gaan onthou ek het dit gelees nie. Maar ’n vismot en ’n vlieg kan my dalk help om net so ’n bietjie vas te hou, op ’n Prediker-manier.”

Ek vra oor die dubbelsinnigheid van die lewe, een van die temas in Halfpad. “Van Wyk Louw het dit mooi gestel: dit gaan oor die kuns om ironies te leer lewe, maar ten spyte daarvan die liefde te behou. So Prediker doen presies wat Van Wyk Louw sê. Kyk, hy weerspreek homself kort-kort en daarvan hou ek. Hy sê die lewe is sinloos en dan sê hy: geniet dit voluit! Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ’n vrolike hart, laat jou klere wit wees. Maar dis alles sinloos. As jy die teks mooi kyk, sê hy die lewe is eintlik ’n reeks paradokse. Ek dink as jy so ’n paar halfpadmerke beleef het, dan weet jy die lewe is ’n klomp paradokse, maar indien ’n mens kan leef te midde van die paradokse, is dit vir my persoonlik van die diepste hoop wat daar is. Om dit te kan omhels en om ironies te kan leer lewe. Wat ek uiteindelik by Prediker hoor is dat die sin van die lewe is om te lewe, maar om terwyl jy dit doen die liefde te behou.”

Ek haal ’n sin uit Halfpad aan: “Pyn kan ’n geslote wêreldbeeld perforeer en meer sakramenteel maak.” Wepener verwys na die boek wat hy oor Karel Schoeman geskryf het (Die reis gaan inwaarts). In dié boek het Wepener onder andere gekyk wat Schoeman doen met sy dominee-karakters, waarvan daar heelwat is. “In Schoeman, elke keer as dominees die dood hanteer, reis hulle dieper inwaarts. Hy gebruik ook die woorde. Dan begin hierdie halfpadmerk in die lewe en begin hulle dieper reis en ontdek hulle eintlik die sakramentele tekstuur van die lewe.”

Natuurlik wil ek ook praat oor die vismot. In Halfpad sê Wepener dat hy die boek skryf vir vismotte. “As jou werk vergaan vir vismotte, wat hoop jy om agter te laat?” wil ek weet. “Die vraag wat die ou prof Prediker in die laaste deel van die boek vra: wat bly uiteindelik,” antwoord Wepener. “Dan is die antwoord: Sy boeke gaan deur die vismot opgevreet word en sy PhD-student kan nie wag om sy werk te vat nie. Al wat gaan bly, is die monumente van liefde. Ek dink al wat gaan bly is hoe het ek toe op daai Woensdag daai derdejaarstudente hanteer. Dis al wat saak maak.”

Terwyl ek my waardering uitspreek vir die besondere werk wat Halfpad is, wonder ek ook hoeveel die afdrukke van Wessel van Dyk se werk kos. R450 elk, R4 500 vir die stel van 12, vind ek later uit.


Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Gemeente Driehoek in Vanderbijlpark en redakteur van Kerkbode se boekeblad.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top