Dit is nie ongewoon om by ’n sinodesitting mense met wysheid en grysheid raak te loop nie. Wat vandeesweek se vergadering van Hoëveld Sinode by Weesgerus naby Modimolle anders maak, is die kombinasie van Flip Roos (87) en Eunice-Mari de Jongh (sewe weke oud) in dieselfde vergadering.
Eunice-Mari se ouers (Trunette en Danie) is albei predikante wat die sinodesitting bywoon en dis oom Flip, van Nigel-Suid Gemeente, se eerste keer by ’n sinode. Hy is die oudste afgevaardigde en Eunice-Mari stellig die jongste in die vertek waar die vergadering sedert Sondag plaasvind en tot Woensdag 28 Oktober duur.

Flip se ervaing tot dusver is positief. Hierdie oud-melkboer en veteraan van meer as 140 Parkruns is fier en fiks en hy praat maklik oor sy lewe en geloof (sien die kort video-onderhoud). Maar toe ek hom vra of ons ’n foto van oud en jonk kan neem – van hom tesame met ds Trunette se baba – stem hy dadelik in. Hierdie foto spreek boekdele van waaroor kerk gaan. Die verlede en die toekoms, teenwoordig in die hede. – Annelize Botes
