Kerkbode

Kopiereg Β© Kerkbode 2026

Kom uit self-isolasie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die week nadat ons na Vlak 1 van die Covid-19-ramptoestand beweeg het, vra ek orals waar ek kom: β€œEn wie was Sondag in die kerk?” Die antwoord was: byna niemand nie. In die sewe maande sedert die inperking begin het, het ons al meer op skerms begin leef: TV, rekenaar en slimfoon. Mense kla dat hulle moeg is vir aanlyn werk en Zoom-vergaderings, maar in die regte lewe is dit net soveel gemakliker om die erediens te β€œlivestream” as om uit jou huis te kom en kerk toe te gaan.

Ons leef in ’n wΓͺreld waarin mense al hoe meer self-isoleer. Covid-19 het dit nie veroorsaak nie, dit het net die groot kragte wat lankal aan die werk is, versnel. HoΓ« misdaad het hoΓ« heinings gebring, betaaltelevisie het sport en vermaak na ons woonkamers gebring, slimfone het jou vriende en winkels in jou handpalm geplaas, dit is makliker om aan tafel na jou foon te kyk as om te gesels. Op ’n groter skaal het ons in Suid-Afrika ’n regering wat mag en funksies uit die hande van gemeenskappe haal en dit sentraliseer, wΓͺreldwyd die tendens na al groter individuaΒ­lisering.

Peter Block skryf in sy boek Community, the structure of belonging dat hierdie tendens meebring dat gemeenskappe al minder in staat is om hulle eie uitdagings te hanteer en probleme op te los. In Suid-Afrika moet ons baie deeglik hiervan kennis neem.

Ervaring en navorsing wys dat groot sosiale probleme, waarvan ons oorgenoeg in Suid-Afrika het, nie deur programme van sentrale regerings of hulpΒ­organisasies opgelos word nie. BlyΒ­wende oplossings kom wanneer ’n gemeenskap self verantwoordelikheid neem vir hule sake.

Na afloop van die Algemene Sinode van 2019 het die NG Kerk die skep van versoenende ruimtes en plaaslike netΒ­werke as hoogste prioriteite gestel. HierΒ­die is nie sentimentele goedvoel-projekkies nie, dit gaan oor ’n nuwe manier om oor onsself te dink: as brugbouers, as deel van die gemeenskappe in Suider-Afrika. En dan nie as die ryk en bekwame kerk wat hulpelose mense gaan help nie, maar as ’n kerk wat saam bou aan nuwe gemeenskappe.

Moenie hiervoor skrik nie, dit gebeur reeds op plekke. In Vlak 1 en 2 van die inperking het ons gesien hoe gemeentes wat reeds netwerke in die gemeenskap het, baie vinniger en meer effektief kon optree. Dit gebeur reeds en dit is moontlik. Wat nodig is, is dat gelowiges en gemeentes uit hulle self-isolasie tree en deel word van God se beweging in die wΓͺreld. Die God wat ons dien, is ’n gemeenskapstigter.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder gΓ³Γ©ie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wΓͺreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top