Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Winnie Rust se dood laat ons armer

Die skokmoord op 11 Mei van Winnie Rust, skrywer van verskeie Christelike boeke en romans, het die Bolandse dorp Wellington tot stilstand geruk. Sy was ’n oopkop-Christenvrou met diep wortels in die Boland, ’n weldoener in eie reg, iemand wat groot deernis met agtergeblewenes gehad het en op verskillende maniere probeer het om hulle te help.

Hiervan getuig ook haar belangrikste roman, Martha, wat in 2004 verskyn het. Hierdie werk oor Martha Solomons, “Countess of Stamford”, is in literêre kringe gunstig ontvang en is die romanmatige weergawe van ’n merkwaardige stuk geskiedenis. Dit vertel die verhaal van Martha Solomons, ’n eenvoudige vrou, die dogter van ’n vrygestelde slaaf, en Harry Grey, ’n gewese priester uit die Britse adelstand wat weens wangedrag na die Kaapkolonie gestuur is. ’n Sonderlinge liefdesgeskiedenis ontstaan tussen hulle. ’n Groot deel van die verhaal speel in Wellington af waar Martha en Harry die ontwikkeling van dié kerkdorp meemaak – van die godsdienstige “revival” en die optrede van die Wederdopers, tot die koms van Andrew Murray as gemeentepredikant. 

In die verhaal speel godsdienstige motiewe deurgaans ’n rol, en die rassekwessie is altyd in die agtergrond. Op die ou end is daar “revival” in die verskillende karakters se lewe. En Martha stel in Wynberg grond beskikbaar vir ’n skool vir wit en bruin: “Geen kind mog weggewys word nie.”

Rust het nog ’n roman, Trek, geskryf en ook Bybelstudiegidse vir vroue en dogters, waaronder Vrou 2000: Voluit vrou vir vandag, en Liewe Dagboek. Daarby het sy ’n aantal van Andrew Murray se werke in Afrikaans vertaal.

Winnie Rust se dood laat haar dorp en die breë Afrikaanse gemeenskap, wit en bruin, armer. FMG

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top