’n Onlangse peiling onder ’n steekproef van 112 NG predikante toon dat min predikante tans deel is van veelrassige gemeentes.
Onder die predikante wat aangedui het dat hulle nie deel is van veelrassige gemeentes nie, het die meerderheid, ongeveer 67%, getoon dat hulle sou verkies dat hulle gemeentes veelrassig is. Dominees droom dat die gemeentes waarvan hulle deel is, anders moet lyk. Hoe lyk dit wanneer hierdie droom ’n werklikheid word? Marius Schoombie het gaan aanklop by leraars van twee gemeentes wat al ’n ruk lank reis met veelrassigheid om uit te vind wat dit prakties beteken om ’n veelrassige NG gemeente te wees.
Lees ook: Wanneer ’n dominee oor toilette begin droom
Bredasdorp-gemeente
“Ons sê altyd, ons bou die vliegtuig soos ons opstyg. Ons het nie regtig ’n model waarvolgens ons werk nie.” Dit is die woorde van ds Karlie Liebenberg, ’n NG predikant wat in November 2021 in die VG Kerk bevestig is as predikant van Bredasdorp-gemeente.
Bredasdorp-gemeente het in Pinkstertyd 2018 ’n gesamentlike gemeente van die VG en NG Kerk geword.
Die gemeente het beide kerkgeboue as bedieningspunte behou, maar word bedien deur een kerkraad met bedieninge wat as een funksioneer. Vier jaar in die pad af is daar steeds organisatoriese uitdagings, byvoorbeeld finansies, wat nog nie ten volle met mekaar geïntegreer is nie. Die gemeente het ’n ritme om jaarliks hulle eenheidspad te bekyk om te sien wat werk en wat werk nie.

Oor die vraag van wat vir die gemeente werk in hierdie proses, meen Karlie dat verhoudings baie belangrik is: “Ons as predikante moet moeite doen om spasies te skep vir verhoudings tussen ons gemeentelede, waar ons op kreatiewe maniere mense van verskillende rasse bymekaar uitbring om verhoudings te bou.”
“Jy leer baie by mense wat anders as jy is – anders as jy dink, anders as jy lyk. Jy leer baie van jouself en ander mense as jy so ’n spasie skep. Dit is nie altyd maklik nie en soms ongemaklik, maar as dit ’n veilige ruimte is en daar goeie verhoudings tussen die mense kan dit mense help om te floreer en mekaar werklik raak te sien.”
Dit is ook duidelik dat die gemeente nog nie gearriveer het nie. Die tuisblad van die gemeente se webtuiste herinner ons dat, indien ons die droom van veelrassige gemeentes wil bewaarheid, ons moet voorberei vir ’n maraton:
“Bredasdorp-gemeente is op pad na genesing. Ons het ons verbind tot ’n reis van hereniging tussen die NG Kerk en die VG Kerk. Hierdie is ’n lang pad van versoening en die ontdek van nuwe familie.”
Kopanong-gemeente
“Jy gaan nie veelrassig word, as jou doel is om veelrassig te word nie. Dit gaan daaroor om vir Jesus in die gemeenskap rondom jou raak te sien, dat Jesus is en beweeg in normale mense, in die klein alledaagse interaksies. Dit raak die dryfveer – die diepe besef van Jesus se liefde vir die ander, wat ons dryf om te verander,” meen ds Chris de Vries, leraar by Kopanong-gemeente.
Lees ook: Chris de Vries se diverse studentegemeente in die Vrystaat
Kopanong, studentegemeente in Bloemfontein, stap al ’n lang pad met die vraag van wat dit beteken om kerk in Afrika te wees. Die gemeente, wat vroeër bekend was as Studentekerk, het die laaste paar jaar ’n klomp veranderinge ondergaan om ’n gemeente te wees waar die gemeenskap kan tuiskom. Oor die vraag van wat vir Kopanong gewerk het in hierdie transformasieproses, sê De Vries dat die besef dat mense “eenders, maar anders” is hulle gehelp het om intensioneel te wees met die spasies wat hulle skep. By byeenkomste word mense byvoorbeeld uitgedaag om te gesels met die mense wat hulle die minste ken, of eenvoudig met mense wat daardie dag dieselfde kleur hemde dra. Dit gaan daaroor om die klein dingetjies betekenisvol te doen en om geleenthede te skep waar mense wat “eenders, maar anders” is verhoudings kan bou.
De Vries meen om deel te wees van ’n veelrassige gemeente “bring ’n stuk weerloosheid, maar ook unity.” Hierin lê ook die waarde van ’n veelrassige gemeente, met De Vries wat sê dat hulle oë weer oopgegaan het vir hoe ons almal, met al ons verskille, in dieselfde vreugde kan deel.
Hierdie verandering het beteken dat die gemeente kies vir ’n kleiner, meer intensionele benadering, wat beter geleenthede bied om dieper verhoudings te bou. Ds Marius Louw, wat vir vier jaar by Kopanong-gemeente De Vries se kollega was, sê dat so ’n proses nie altyd maklik is nie en dat daar groeipyne is, maar dat dit vir seker die moeite werd is. Gemeentes moet besef dat dit dikwels ’n morsige proses is, maar dat die morsigheid ook geleentheid bied vir kreatiwiteit en nuwe ontdekkings. “Ons ontmoet God in die radikale ander – diversiteit is die hart van die evangelie!” sê Louw.
- Ds Marius Schoombie is leraar by NG Stellenberg.
- Schoombie het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap) in samewerking met Kerkbode.


Ek is predikant in ‘n veel rassige gemeente. Wat ons uniek maak is ons het lidmate uit regoor Afrika. Baie van hulle is in Gereformeerde gemeentes in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi.
DIt is regtig die grootste voorreg om in hierdie gemeente te kan dien. Hier het ons as gesin so baie geleer van genade en omgee.