In ’n tyd waarin Plet Rage en Margate die toon aangee as dié plekke waarheen matrieks na hulle eindeksamen stroom, is daar alternatiewe wat jy met vrymoedigheid vir ’n matrikulant kan aanbeveel. In die Wes-Kaap is daar nog twee oor: by Heroldsbaai en Noordhoek. Ds Faani Engelbrecht vertel meer.
Ek wonder of jy weet wanneer die eerste “skoolverlaterskampe” gehou is? Ons het regtig nie ’n idee nie – maar het jy geweet dat daar slegs ’n paar oorgebly het? Die verste wat hierdie idee nagespoor kon word, is 1966. Dalk ken iemand die geskiedenis beter? Baie dinge het oor die jare verander, maar een ding staan vas, dit is ’n reuse-avontuur wat vir matrieks wag! En nee, die woord ‘kamp’ word nie hier gebruik nie! Kamp is iets wat jy met ’n tent doen! Hierdie week is ’n volwaardige 5-ster wegbreek, ’n vingerleklekker fees slegs vir die Klas van 2022!
Volgens ds Scherlize van der Merwe is een van die geheime van die Fees dat die personeel en aanbieders, almal self as matrieks daar was! “En daar is nie ’n program wat deur ’n fluitjie wat blaas, gejaag word nie – dis eerder die skep van ruimtes en geleenthede waar ons saam kan ontspan na die jaar van spanning en druk wat verby is, waar ons die Here se teenwoordigheid kan beleef!”
Noordhoek Beach Matriekfees (7-14 Des)
Michael Beukes is vanjaar een van die leraar-aanbieders op die Noordhoek Beach Matriekfees-span 7-14 Desember 2022. Hy was self in 2002 as matrikulant op die Fees! Daarna was hy vir 10 jaar lank die kospa en vanjaar is hy vir die eerste keer deel van die leraarspan. “Dis net ’n ongelooflike week. Jy ontmoet mal baie nuwe vriende – en almal is net so bang soos jy vir die toekoms wat wag … Dit het my lewe verander. Dis nie ’n klomp lesings nie – dis ’n week waar ons vakansie hou soos kinders van die Here, terwyl ons die kans het om lekker te gesels oor dinge wat nou vir ons saak maak.”
Ds Johan Engelbrecht, leier van die die Heroldsbaai Matriekfees, sê die oorgang van skool na die volwasse lewe is een van die opwindendste maar terselfdertyd uitdagendste oorgange in ons lewe. “Dis ’n wonderlike geleentheid vir die kerk om jongmense te herinner aan die vaste bakens vir hulle onbekende en onseker toekoms. My ervaring is juis dat die Matriekfees die geleentheid by uitnemendheid is om op ’n informele wyse ons skoolverlaters te herinner en te begelei om die onbekende toekoms toe te vertrou aan ’n bekende God.
Besonderhede:
Beide Noordhoek en Herholdsbaai is 7-14 Desember en kos R2 000.
Noordhoek Beach is 7 nagte in Noordhoek Beach.
Herholdsbaai is 4 Nagte op Heroldsbaai en 3 nagte op Hartenbos.
Kontak Faani vir meer inligting, by reimaginematriekfees@gmail.com
Dalk is die Matriekfees die ideale geleentheid vir die matrikulant in jou lewe? As jy wil inskryf, gebruik hierdie skakel: https://forms.gle/ndZBqwiStWnLY2Q38
