PROTESSTEM
Deur Jaap Durand
Uitgegee deur Bybelkor
Resensie deur Frits Gaum
Lees die eerste hoofstukke gratis >>
Jaap Durand is een van die belangrikste Afrikaanse skrywerteoloë van die laat 20ste, vroeë 21ste eeu. Hy behoort tot ’n generasie teoloë wat ’n groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse gereformeerde teologie gemaak het: Johan Heyns, Willie Jonker, David Bosch, Adrio König, Amie van Wyk, John de Gruchy …
Soos De Gruchy al gedoen het (I have come a long way), vertel Durand hier van belangrike momente in sy lewe. Anders as meeste van die ander teoloë hierbo, was hy en De Gruchy aktief betrokke by die struggle in die 1970’s/1980’s.
Durand vertel hoe sy Amsterdamse proefskrif oor die eenheid van die kerk uit sendingperspektief die eerste roeringe van omstredenheid veroorsaak het, en hoe hy op ’n sendingstasie in die Transkei, Cala, insig gekry het in die leefwêreld van plattelandse swart mense. Later het hy ook stedelike swart mense en die haglike omstandighede waarin hulle geleef het, van naby leer ken.
Die verskyning van sy boek, Swartman, stad en toekoms (1970), het wye aandag gekry, want daarin is die swartmense se lewensomstandighede vir die eerste keer uitvoerig vir ’n wit gehoor beskryf. In dié tyd het Durand se breuk met die NG Kerk (waarvan hy steeds ’n gelegitimeerde leraar was) plaasgevind. Hy is gevra om ’n stuk oor die swart mense se lot te skryf vir verslag aan die Algemene Sinode (1974). Uiteindelik is sy bydrae uit die verslag (wat die NG Kerk se beleidstuk, Ras, volk en nasie en volkereverhoudings in die lig van die Skrif, sou word) “gerojeer”.
’n Verdere hoofstuk in sy lewe het aangebreek toe hy na die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) beroep is. Dit is in daardie tyd dat die Belydenis van Belhar ontstaan het – as regstreekse gevolg van gesprekke in die teologiese klas van Durand. Hy en Dirkie Smit was op die ou end die skrywers van die belydenis – in ’n sekere sin was dit sy breinkind en Smit was die formuleerder en woordgewer daarvan.
Vir Durand was dit die kulminasie van sy nadenke oor die teologiese regverdiging van apartheid en sy insig dat apartheid in stryd is met die versoening in Christus omdat die uitgangspunt daarvan is dat mense onversoenbaar is (bl 87).
Jaap Durand het uiteindelik sy moeilikste werkjare as viserektor van UWK beleef. Hy was die teiken van staats-meeluistering, en uiteindelik het hy die spit afgebyt toe die studente-opstande van die 1980’s by UWK ’n haas onhanteerbare situasie veroorsaak het. Durand skryf boeiend oor die skuiwe en teenskuiwe van daardie tyd wat gekulmineer het in ’n rubberkoeël-aanval deur die polisie op betogende studente – en ’n klassiekgeworde koerantfoto van studente wat van die koeëls weghardloop terwyl ’n woedende viserektor die polisie vreesloos tegemoet stap. Durand vertel ook hoe die Moslem-kapel by die UWK in ’n stadium omskep is in ’n arsenaal van petrolbomme waarmee die studente die polisie wou aanval.
Hierdie weergawe van die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis lees soos ’n riller.
’n Eerste opmerking is oor Durand se insig dat apartheid onversoenbaarheid tussen mense as uitgangpunt gehad het. Dit is inderdaad so dat apartheid onoorklimbare mure tussen mense wou bou, van sommige mense tweedeklasburgers gemaak het en gruwelike onreg teen mense gepleeg het.
Apartheid in Suid-Afrika het afsonderlikheid geïdeologiseer. En daarmee saam moet sonder meer gesê word dat rasgebaseerde kerklike apartheid sonde was en is. Terwyl mense se kulture en tale vanselfsprekend in ag geneem moet word as die evangelie aan hulle verkondig word, mag mense nooit, maar nooit, uit ’n kerk geweer word vanweë hulle ras of kultuur of taal nie. In Christus is ons één en dit moet ook in die kerklike praktyk gesien word.
Durand het reg dat die NG Kerk destyds groot, selfs gruwelike, foute gemaak het. Maar hy gee nie genoeg krediet vir wat dié kerk ook “reg” gedoen het nie. Hy vertel van ’n ontmoeting met die Wes-Kaapse moderatuur om hulle te waarsku teen ’n moontlike staatsgreep in Suid-Afrika onder leiding van genl Constand Viljoen en hulle te vra om te help bemiddel, en sê dat die ontmoeting op niks uitgeloop het nie. Dit is nie korrek nie. Die NG Kerk-leiding het in daardie tyd talle en talle gesprekke met leiers van alle groepe gevoer en by Viljoen gepleit om met Nelson Mandela in gesprek te tree (hy wou eers nie; later het hy wel), en die destydse moderator, Pieter Potgieter, het vir Eugene Terre’blanche op sy plaas gaan sien om teen geweldpleging te waarsku. Pres Mandela het dan ook met sy besoek aan die Algemene Sinode van 1994 erkenning gegee aan die rol wat die NG Kerk gespeel het om ’n redelike kalm oorgang te help bewerkstellig. Wat ek in Protesstem mis, is ’n evaluasie van die huidige stand van sake in Suid-Afrika. Terwyl apartheid ’n verwerplike, onregverdige stelsel was, word Suid-Afrika nou geteister deur korrupsie, misdaad, armoede, bendegeweld en werkloosheid – en studente-opstande! – op ’n haas ongeëwenaarde skaal. Dit was sekerlik nie die Suid-Afrika waarvoor Durand en ander gestry het nie?
Jaap Durand is een van die groot Afrikaanse denkers en “protesstemme” wat in ons land se verhaal, en in die Afrikaanse teologie, ’n eie, onvervangbare plek inneem. Hierdie boek – ’n eerlike, sonder-doekies-omdraai, soms onthutsende vertelling – bevestig dit weer eens.
Protesstem is beskikbaar by Bybel-Media se winkel. | Ook beskikbaar as ‘n e-boek.

