Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Wentzel van Huyssteen aan die woord tydens die jaarlikse Johan Heyns-gedenklesing. Foto: Neels Jackson

Van Huyssteen: Só pak die teologie probleme aan

Die jaarlikse Johan Heyns-gedenklesing van Tukkies se Departement Dogmatiek en Christelike Etiek is vanjaar gelewer deur prof Wentzel van Huyssteen. Die titel van sy lesing was: Is there any hope for “truth” and “progress” in theological thinking today? Prof Danie Veldsman bied ’n oorsig.


Van Huyssteen begin by die vraag wat die jong Stellenbosse dosent Johan Heyns in die vroeë 1970’s aan sy studente gerig het: Wat is teologie?

Dit was die vraag wat destyds op ’n al hoe skerper wyse gestel is oor die wetenskaplikheid van teologiese nadenke wat aanspraak gemaak het op waarheid op grond van die Bybel en die belydenis dat dit God se openbaring sou wees.

Die vraag “Is teologie ’n wetenskap?” het Heyns en sy kollega Willie Jonker aangedurf in hulle boek Op weg met die teologie (1974). Dié boek was ’n eerste oor teologie as wetenskap in Afrikaans in Suid-Afrika. Vir Van Huyssteen het dit die vraag geword wat hom sy hele navorsingslewe ten diepste sou boei.

In 1978 by die byeenkoms van die Dogmatologiese Werkgemeenskap in Stellenbosch het Van Huyssteen hom krities oor Heyns se standpunt in hierdie boek uitgelaat. Hy het ’n stelling van Heyns enersyds gebruik om Heyns se eie standpunt oor teologie as wetenskap te kritiseer en andersyds die stelling te gebruik om sy eie benadering van Filosofiese Teologie as interdissiplinêre dissipline te ontwikkel.

Heyns het volgens Van Huyssteen gemeen dat die inhoud en metodologie van teologiese nadenke nooit afgelei kon word van die “waarheid van openbaring” nie, maar dat – en dit is die alles bepalende kritiese insig – teologiese nadenke altyd gevorm sou word deur ’n algemene teorie van wetenskap.

Enersyds het Van Huyssteen duidelik aangetoon dat Heyns nie die implikasies van sy eie standpunt uitgewerk het nie. Andersyds het Van Huyssteen juis hierdie insig uitgebou in sy benadering van Filosofiese Teologie as interdissiplinêre denke.

Vir Van Huyssteen het interdissiplinêre denke beteken dat die intellektuele konteks van teologiese nadenke – soos enige ander vorm van wetenskaplike nadenke – as kulturele en kontekstuele aktiwiteit verstaan moes word. Dit beteken eenvoudig dat ons nadenke altyd op ’n spesifieke plek en tyd binne ’n besondere taaltradisie voltrek word.

Van Huyssteen het sy eie denke saam met alle ander vakgebiede, veral die natuurwetenskappe, sterk ontwikkel as ’n vorm van openbare teologie waarin gesamentlik oor lewensvraagstukke besin word.

Interdissiplinariteit het transversaliteit meegebring, dit wil sê insigte uit alle vakgebiede is saam “oor mekaar gelê” deur die interpreteerder om tot die beste moontlike oplossing van ’n vraagstuk te kom.

Die dampkring waarin Van Huyssteen sy benadering ontwikkel het, kom uit die oortuiging dat daar geen groot verskil is tussen Bybelse fundamentaliste en natuurwetenskaplike reduksioniste nie. Onderskeidelik beteken dit dat hulle oordele oor alles onkrities vir waar gehou kon word (Bybelse fundamentaliste) en dat hulle hul aan geen grense hoef te steur nie (natuurwetenskaplike reduksioniste).

Beide standpuntinnames is onaanvaarbaar en het die gesprek tussen teologie en natuurwetenskap grootliks verongeluk.

Van Huyssteen noem die vraagstellings en uitdagings wat ons in die lewe tegemoetkom “probleme”. Teologiese nadenke moet gedeelde probleemareas en ooreenkomste oor die grense van vakdissiplines heen identifiseer maar ook verskilpunte, en dit dan deel maak van die teologiese wyse waarop ons nadink oor die lewe en oor vraagstukke.

Probleme kan empiries (byvoorbeeld: Hoe gemaak met slegte gebeurtenisse in God se goeie skepping?), eksistensieel of konseptueel van aard wees.

Konseptuele probleme kan intern (byvoorbeeld: Hoe verstaan ons die verbond in die Ou Testament?) of ­ekstern (byvoorbeeld: Skrifverstaan) wees.

Die belangrike punt is dat die antwoorde op hierdie vrae aan die hand van drie oorwegings voltrek moet word: wat sê die Bybel daaroor; wat het die geloofstradisie daarvan gemaak, en hoe kan ons dit vanuit eie kontemporêre insigte vanuit alle verbandhoudende vakgebiede beantwoord.

Veral die bykomende laaste kriterium van eietydse denke is van besondere belang aangesien Van Huyssteen aanvoer dat die vraagstukke (“probleme”) wat deur die Bybelse getuienis en die lewe opgeroep word, meer en groter is as die bronne van waaruit dit na vore kom en dat ons antwoorde hierop terselfdertyd deur kontinuïteit en verandering bepaal word.

Laasgenoemde insigte kom in besonder vanuit nadenke oor die wyse waarop ons tot kennis en tot ons oordele kom (in wetenskapfilosofiese taal: dit is insigte wat kom vanuit evolusionêre epistemologie).

Hieruit het ons geleer dat ons ten diepste in ons nadenke deur ons biologiese herkoms bepaal word, maar dat ons dit terselfdertyd transendeer as beliggaamde intelligensie in ons kapasiteit vir rasionele denke, morele sensitiwiteit, estetiese en religieuse bewussyn.

Dié insigte lê opgesluit in die verdere uitwerk van die metodologiese implikasies van Heyns se oortuiging dat die inhoud en metodologie van teologiese nadenke nooit afgelei kon word van die “waarheid van openbaring” nie, “maar in teologiese nadenke altyd gevorm sou word deur ’n algemene teorie van wetenskap”.

So byvoorbeeld kan die eietydse etiese vraagstuk oor selfdegeslagverhoudinge met interdissiplinêre integriteit beter beantwoord word vanuit die bykomende insigte vanuit onder andere evolusionêre biologie en genetika.

Op hierdie wyse kan teologiese nadenke in die formulering van verantwoordelike oordele en denkontwerpe met integriteit as wetenskaplike nadenke voltrek word in deelname aan die openbare diskoers oor wetenskaplikheid.

Sy eie benaderingswyse, wat Van Huyssteen tipeer as post-fundamentalisties, beteken dus dat ons op ’n verantwoordelike wyse vraagstukke (probleme) aandurf oor die breedste moontlike lewenspektrum en op die beste geïntegreerde wyse aanbied as oordele en antwoorde op die diepste gedeelde lewensvrae.

Op hierdie wyse meen Van Huyssteen om die vraag te beantwoord wat hy gestel het, naamlik: “Is there hope for ‘truth’ and ‘progress’ in theological thinking today?”

Prof Wentzel van Huyssteen het afgetree as die James I McCord professor of Theology and Science by Princeton, en is buitengewone professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top