Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In gesprek met Coenie Burger: ‘Ons dink ons verstaan vir Jesus … Dit is waar ons die fout maak’

Soos ’n goue draad is die betekenis en verkondiging van die evangelie deur dr Coenie Burger se lewe en werk vervleg. Dit is ook duidelik in die geval van sy nuutste boek getiteld Ons wil Jesus sien. Marileen Steyn vind meer uit.

Ongeveer 40 jaar gelede het Coenie Burger sy PhD-tesis oor die verhouding tussen die wet en die evangelie ingehandig. “Vroeg in my lewe was die vraag na hoe ek mense kan help verander en hoe ek self kan verander vir my ’n groot vraag,” vertel Burger.

Hy gaan dan voort om te sê dat mense nie verander deur aangesê te word om te verander nie, maar slegs verander wanneer hulle die heerlikheid van die Here aanskou (2 Korintiërs 3:18). “Evangelieprediking is dat ons probeer om mense te help met daai moment waar jy meer sien van Jesus,” sê hy.

Twintig jaar later in 2003, voer dr Frits Gaum met Burger ’n onderhoud waarin hy vra: “Wat is die belangrikste dinge waaraan die NG Kerk in die volgende vyf jaar aandag moet gee?” Burger antwoord dat dit oor ’n verdieping in geloof moet gaan. “Ons moet onsself kans gee om God en sy evangelie op ’n nuwe manier te leer verstaan. Ons moet in ons geloof by ’n nuwe plek uitkom, nie maar weer waar ons was nie. Ons moet kan sê: ‘Hier was ons nog nie gewees nie.’ Ek glo dat die Here ons nou roep tot ’n dieper verstaan van Hom. Die vraag is of ons daarvoor kans sien?” 

Nou is dit nóg 20 jaar later en ek en Burger gesels wéér oor die belang van die evangelie en om gedurig nuwe kante van Jesus raak te sien. In die nuwe boek Ons wil Jesus sien staan Burger en prof Marius Nel by ses stasies in Jesus se lewe stil om te sien dat daar meer is aan Jesus as wat ons gedink het. Jesus, meen Burger, is soveel méér as nét die gekruisigde en opgestane Here. Hy is ook die geïnkarneerde en dienende Jesus. Die Jesus wat opgevaar het en wat weer gaan kom. So ook kom die verlossing uit die volle wese en werk van Jesus en nie net uit een aspek nie.

Lees ook: In gesprek met Marius Nel Om Jesus te sien voor jy ‘eendag in die hemel kom’

Dit is nie ses verskillende “Jesusse” nie, maar een Jesus, maak Burger duidelik. Hierdie Jesus kan egter eers werklik begin verstaan word wanneer ons by elkeen van hierdie verskillende stasies stilstaan. “Jy kan nie altyd al ses gelyk vashou nie,” brei hy uit. In seisoene wanneer ’n mens meer fokus op een spesifieke deel van Jesus, word mense genooi om ook bewus te bly van die ander fasette van Jesus. Want selfs in lydenstyd, byvoorbeeld, is die opgestane Jesus ook Here.

Hoekom het Burger die boek help skryf? Hy verwys na Luther en Calvyn se onderskeid tussen sake wat as kern tot die geloof staan en sake wat belangrik is, maar nie sentraal tot die geloof staan nie. Hy bekommer hom dat die kerk so op die tweede groep sake fokus, dat hulle die kernsake miskyk. Die gay-debat, meen hy byvoorbeeld, is nie ’n saak wat sentraal genoeg tot ons geloof is dat dit ons oorloof om daaroor te skeur nie. “Die ironie is dat ons tweede orde sake die beste hanteer as ons dit deurentyd bedink en beskou in die lig van dit wat sentraal staan,” voeg hy by.

“Die sentrale saak van die geloof is Jesus,” bely Burger keer op keer. Die Bybel is nie die evangelie nie. Jesus is. “Ons glo nie die Bybel kan ons red nie. Die Bybel is belangrik omdat die Bybel vir ons die storie van Jesus vertel.” Hierdie storie moet oor en oor vertel word; oor en oor moet Jesus en sy veelsydigheid raakgesien word.

“Die sad storie is,” gaan Burger voort. “Ons is baie houtgerus: ‘Ons verstaan vir Jesus.’ Dit is waar ons die fout maak.” Hy verwys na die vele stories in die Nuwe Testament waarin mense, selfs tot aan die einde, nie Jesus verstaan nie. Tog, meen hy, is mense vandag vinnig om te sê dat hulle Jesus verstaan.

Vanuit die onderhoud besef ek dat dit nie net gaan oor die feit dat ons dink dat ons Jesus in ons hand het nie, maar ook dat ons nie eens dit wat ons wel verstaan, glo nie. Burger verwys na die Italiaanse filosoof, Giorgio Agamden, wat vir die kerk uitgewys het dat hulle (of ons) nie eens meer hulle (ons) eie storie glo nie. “My worry is amper dat ons ons eie storie onderskat en ons storie is die storie van Jesus.”

Word ons as Christene meer ingetrek in die verhaal van die wêreld of trek ons ander in by die verhaal van Jesus, wonder hy. “Ons het ’n storie met power … Ons verwag partykeer meer van ander soorte boeke en ons dink ons sal slim wees om dit toe te pas, want ons glo nie meer dat ons boek power het nie.”

Dit is duidelik dat Burger self steeds bevange is deur die krag van hierdie storie en die Jesus waarvan hierdie storie vertel. Ons wil Jesus sien blyk iets te wees wat spruit vanuit Burger se jare lange belangstelling, nee liefde, vir die evangelie en vir hierdie Jesus wat soveel méér is.

Bestel die boek (R200 by Bybel-Media) aanlyn via hierdie skakel.

Dr Coenie Burger is ’n voormalige moderator van die NG Kerk.


  • Prop Marileen Steyn is ’n PhD-student in teologie by die Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie skrywe word aangebied as deel van die So What-reeks, in samewerking met en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top