Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Andrew Murray-prys vir teologiese boeke in Afrikaans is vanjaar toegeken aan dr Martin Laubscher vir sy boek 'Publieke teologie as profetiese teologie? – ’n Kritiese beskouing van die sosio-ekklesiologiese implikasies van die drieërlei amp in die teologie van Karl Barth'. Foto: Verskaf

Andrew Murray-prysfonds 2023: Waardige wenboek pak uit wat lesers by Barth kan leer oor Christus as Priester, Koning en Profeet

Publieke teologie as profetiese teologie? deur Martin Laubscher

African Sun Media, 2022

Resensie deur Gideon van der Watt

Die Andrew Murray-prys vir teologiese boeke in Afrikaans is vanjaar toegeken aan dr Martin Laubscher vir sy boek Publieke teologie as profetiese teologie? – ’n Kritiese beskouing van die sosio-ekklesiologiese implikasies van die drieërlei amp in die teologie van Karl Barth. Laubscher is senior lektor in Praktiese en Missionale Teologie aan die Vrystaatse Universiteit se Fakulteit Teologie en Religie. Hoewel die boek diepsinnig nadink oor uiters aktuele temas, is dit heel toeganklik geskryf – ’n waardige wenner van die Andrew Murray-prys.

Die boek is die resultaat van jarelange, omvattende navorsing en baie harde werk. Dit was vir Laubscher belangrik om nie net al die relevante sekondêre bronne oor die tema te bestudeer nie, maar veral ook primêre bronne, soos Barth se omvangryke Kirchliche Dogmatik-reeks en sy Romeine-kommentaar.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg: Ons sal moet deelneem aan plaaslike politieke debatte en strukture

In die titel is sprake van twee begrippe: publieke teologie en profetiese teologie. Laubscher verduidelik dat alle teologie uiteindelik ’n publieke karakter vertoon, dit kan nie anders as om in gesprek met die konteks te gebeur nie. Profetiese teologie het egter ’n spesifieke fokus: Dit is ten diepste die kerk se getuienis in en teenoor die wêreld.

In Barth se besinning oor die drieërlei amp van Christus, gaan die priesterlike amp oor Christus se neerdaal aarde toe, sy versoeningswerk aan die kruis. Die koninklike amp handel weer oor Christus se opstanding, sy hemelvaart, die troonbestyging, die uiteindelike volvoering van die verlossingswerk. Die derde amp, die profetiese, is dan die horisontale beweging na die wêreld, die getuienis van hierdie vertikale af-en-op beweging, die napraat van dit wat God in Christus aan ons openbaar het, en steeds openbaar. Die kerk se profetiese stem in die wêreld gaan dus nie bloot oor sosio-politieke kommentaar nie.

Volgens Laubscher verstaan Barth die kerk se profetiese roeping as die vashou aan die drievoudige Openbaring (Woord) van God: Christus as lewende Woord, die Bybel as geskrewe Woord en die Woord wat verkondig word in en deur die kerk. Hierdie openbaring duur voort. En tipies gereformeerd, is dit nodig dat die kerk dieselfde openbaring altyd weer op nuwe, aktuele maniere vir ’n spesifieke tyd en konteks sal verklank. Met ander woorde, dit gaan vir hom nie net oor menslike spreke oor God nie, maar van-Self-sprekend oor God se Self-spreke in Christus, wat ons maar net kan na-praat.

Barth is vir lank nie as profeet in eie geweste geëer nie, veral ook nie in Suid-Afrika nie. Miskien juis omdat hy as eietydse profeet altyd teen die grein van die heersende denke ingebeur het. Laubscher noem drie redes waarom Barth egter ’n toenemend belangrike teologiese gespreksgenoot bly. Eerstens oor hy nie so maklik gekategoriseer of in ’n boksie gedruk kan word nie. Tweedens is hy by uitstek die teoloog vir predikers, wat die teologie in die prediking laat grondvat. En derdens help Barth ons ook verstaan dat teologie nooit in isolasie beoefen kan word nie. Barth se eie teologie kan nie los van sy profetiese kritiek op Nazisme en as reaksie op die Tweede Wêreldoorlog verstaan word nie. Veral in sy latere werke is daar ’n duidelike “wending na die wêreld”.

Te midde van die uitdagings van ons tyd, het kerk en teologie ’n onvervreembare profetiese roeping. Die gesprek met Barth bly vir ons as geloofsgemeenskappe in die hedendaagse Suid-Afrika dus uiters waardevol.

Die wen van die prys was vir Laubscher ’n verrassing, wat hom diep dankbaar stem. En dit was uiteindelik vir hom lekker om dit in Afrikaans te skryf. Die boek is inderdaad in keurige, beeldryke Afrikaans geskryf – die seggingskrag van Afrikaans klink hier klokhelder … en kontekstueel.

Die boek is aanlyn te koop by African Sun Media teen R280. Kliek HIER.

Dr Gideon van der Watt is pastor van St Paulus Lutherse Kerk, Bloemfontein.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top