Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Andrew Murray-prysfonds 2023: Die verweefdheid van die Skotte se invloed op Suid-Afrika se kerklike lewe

The Scots Afrikaners: Identity politics and intertwined religious cultures deur Retief Müller

Edinburgh University Press, 2022

Resensie deur Ruhan Fourie

Ek het skaars my vraag klaar gestel toe Retief Müller spoedig antwoord: “Nee, die prys beteken baie vir my!” Die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir algemene Christelike publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, The Scots Afrikaners, dek die Skotse sending en die invloed daarvan op die NG Kerk.

Om oor die Skotte te skryf, beteken ook om oor Andrew Murray en sy clan te skryf. Hierdie prominente familie word deur sommiges as koloniale skurke gesien, en ander as sendinghelde. Volgens Müller heers daar tans binne kerkgeledere ’n klem op laasgenoemde. “Wat eintlik vreemd is, is dat hierdie ouens vir ’n groot deel van die twintigste eeu baie verdag was. Nie net die familie nie, maar die hele [Skotse] stroom was uiters verdag binne die konteks van die Afrikaner. So, hierdie [hedendaagse verering] is ’n teenreaksie teen daai ouer gedagtes.” Die boek beskryf die Skotse Afrikaner se verweefdheid met beide Afrikanerdom en die Britse Ryk as hibriditeit. Hierdie raamwerk help ook om vandag se kerksake te verstaan. “Ek sou sê, as jy wil praat oor vandag, is daar altyd hierdie geneigdheid tot polariteit – dis ons teen hulle, hierdie teen daai. Maar dit is nie so eenvoudig nie. En baie keer is dié wat op een manier gesien word as ’n ortodokse groepering eintlik glad nie.”

Lees ook dr Ruhan Fourie se boekresensie: Vars, statige interpretasie van Skotse invloed op NGK

Die beoordelaars het die boek getakseer op die gebruik van oorspronklike bronne. “Die NG Kerkargief was die groot faktor wat my in hierdie rigting [vir die boek] gestuur het. Dié argief is ’n skatkis, en absoluut waardevol … Vir ’n lang tyd binne die NG Kerk, binne teologiese navorsing in Suid-Afrika, was dit onpopulêr om kerkhistoriese navorsing te doen, en dit is nog steeds in ’n groot mate,” sê Müller.

Daar is nie twyfel oor The Scots Afrikaners se akademiese waarde nie, maar vir Müller toon die toekenning dat sy werk ook ’n breër leserskap kan bereik. “Dis ’n prys met ’n sekere gravitas binne die teologiese establishment in Suid-Afrika … (Maar) wanneer mense vir my sê die (boek) is leesbaar, dan is dit vir my ’n groot pluimpie en wys dat dit toeganklik is vir mense wat nie noodwendig eksperts is nie. Ek wil toeganklik wees.” Die prys bied ook die nodige aanmoediging vir verdere navorsing, sê Müller: “Dit help ’n mens om te dink dinge is die moeite werd, miskien kan ’n mens nog iets probeer skryf. Hierdie projekte is groot werk, dit vat jare. Maar hierdie soort ding is genoeg aansporing.” Wat is dan volgende uit Müller se pen? “Ek is geïnteresseerd in die Groot Trek, en die religieuse verbeelding daar rondom, en veral rondom die sendelinge.”

The Scots Afrikaners is beskikbaar via Edinburgh University Press.

Dr Ruhan Fourie is ’n postdoktorale navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Internasionale Studiesgroep.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top