Die Algemene Sinode van die NG Kerk vind binnekort plaas. Dit is die tyd van agendapunte en amendemente en missionale kerkordes. In hierdie uitgawe van die So What–rubriekreeks gesels dr Doret Niemandt met dr Antionette Janse van Rensburg oor die waarde van die kerkorde terwyl Marileen Steyn by prof Johan van der Merwe meer uitvind oor die beperkinge van ’n missionale kerkorde. Hieronder vertel Doret Niemandt meer.
Was jy al ooit in ’n kerkvergadering en dan sê iemand: “Volgens Artikel 26 …” of “as ons kyk na Reglement 18 punt 2 …”? Dit is nie ’n geheime kodetaal nie, dit verwys na dele uit ons kerkorde – ’n baie belangrike handleiding vir die kerk. Die kerkorde en kerkreg help gemeentes om hulleself te organiseer en wanneer groot besluite geneem moet word. Dit is dan ook waaroor dr Antionette Janse van Rensburg skryf in haar tesis met die titel “Reformatoriese kerke se besluite oor homoseksualiteit kerkregtelik beoordeel”.
Kerkreg is dalk nie almal se gunstelingonderwerp nie, maar Janse van Rensburg het ’n liefde vir hierdie veld en stel belang in hoe prosesse werk en hoe besluite geneem word in die kerk. En dit is goed dat daar mense soos sy is, want dit is ’n baie belangrike onderwerp. Hoe ons onsself as ’n kerk organiseer het ’n groot invloed op hoe ons onsself in die wêreld gedra – hoe ons die goeie nuus met die wêreld deel.
Lees ook: Die kerkorde maak nie die kerk nie: In gesprek met prof Johan van der Merwe
Wat is die kerkorde en kerkreg
Nou, voor jy begin gaap, dink aan die kerkorde en kerkreg as ’n how to-handleiding of ’n resepteboek vir dominees. Dit bevat al die stappe wat gevolg moet word om ’n heerlike (en geestelik vervullende) ervaring vir gemeentes voor te berei.
Dit is dan waaroor Janse van Rensburg se navorsing gaan. Sy kyk na die stappe wat drie kerke, die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA) met ’n gedeelde Calvinistiese herkoms, gevolg het in die onlangse debat oor homoseksualiteit.
Besluitnemingsprosesse word deur kerkordes bepaal en besluite wat by kerkvergaderings geneem word, is bindend, vertel sy. Dit beteken dat dit ’n invloed het op die lewe en bediening van die kerk en so ook op lidmate van hierdie gemeentes.
In die gereformeerde kerkreg is kerkregering gebaseer op die beginsel dat Jesus Christus die kerk deur Woord en Gees regeer. Met ander woorde, besluite word geneem op grond van die volgende aspekte:
- Die Heilige Skrif,
- Belydenis,
- Kerkorde,
- Vorige besluite van kerkvergaderings en
- Usansie of gebruik.
Besluite word dus glad nie ligtelik geneem nie. En die verwagting is dan, vertel Janse van Rensburg, dat lidmate hierdie besluite sal respekteer. Dit gebeur egter nie so nie. In die 21ste eeu is daar ’n tipe vertrouensbreuk met die kerkregering en lidmate aanvaar nie sommer net wat in ’n notule of memorandum neergeskryf word nie. Lidmate wil vir hulleself besluit wat reg is en gemeentes wil besluit wat vir hulle eie konteks reg is. Janse van Rensburg is onseker of besluite wat deur sinodes geneem word nog enigsins relevant of belangrik is vir lidmate. Sy dink egter dat wanneer besluite bevraagteken word, dit kerkordes kan help om voortdurend hersien te word en dit lei ook tot kritiese denke wat die kerkregering kan stimuleer, bevorder en begelei.
So, hoekom nog vashou aan kerkordes en kerkreg?
Wel, ’n goeie kerkorde help ons met leierskap en besluitneming. Die gereformeerde kerke werk nie met diktators nie, maar met diensbare leiers en verantwoordelikheid. Dit is veral belangrik in die lig van moontlike litigasie wat uit verkeerde optrede kan voortvloei, met gepaardgaande finansiële reputasie en verhoudingskade vir die kerk, vertel Janse van Rensburg.
Tweedens, ’n goeie kerkorde bevorder eenheid in die kerk. Dit is maklik vir mense om te verskil, maar met ’n goeie struktuur kan ’n mens saam vorentoe beweeg met dieselfde doel. Eensgesindheid al is daar nie eenstemmigheid nie. Hierdie eenheid is volgens die Skrif nie onderhandelbaar nie, vertel Janse van Rensburg.
Derdens, ’n goeie kerkorde moet aanpasbaar wees, want die wêreld waarin ons lewe verander die heeltyd. Kerkreg is lewend, vertel Janse van Rensburg, dit beteken dat wanneer die omstandighede verander, kerkreg ook aangepas kan word.
Laastens, ’n goeie kerkorde moet die liefde en die genade van Jesus Christus reflekteer, dis waaroor dit eintlik gaan. Die kerk is geroep om die genade van God aan alle mense te verkondig, vertel Janse van Rensburg. Die kerk staan en val by die genade van God, en daaruit vloei die kerk se optrede. Die genade van God maak dit vir die kerk moontlik om kerk te wees soos wat God bedoel het. En kerklike besluite moet herkenbaar wees aan die wyse waarop dit God se genade reflekteer.

Die kerkorde en kerkreg is ’n staf om mee te stuur en nie ’n stok om mee te slaan nie. Hierdie how to-handleiding of resepteboek is die kerk se manier om seker te maak gemeentes kan heerlike (en geestelik vervullende) ervarings vir hulle lidmate voorberei. Dit beteken nie jy mag nie vrae vra nie. Dit beteken ons soek saam na praktiese manier om onsself te organiseer in elke era en konteks. Sodat daar verantwoordelike besluite geneem kan word en God se genade kan deurspoel na die wêreld toe. So, gaan dien op jou kerkraad, gaan laai daardie kerkorde af, en skool jouself in kerkreg.
Dr Doret Niemandt is leraar van die NG Gemeente Valleisig en dr Antionette Janse van Rensburg is ’n kapelaan in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
