Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Westerse self-onderhoudende individu, wat onafhanklik van ander kan leef en dink, is vreemd aan die wêreld van die Nuwe Testament.
In dié wêreld het mense sogenaamde “diadiese” persoonlikhede gehad. ’n Diadiese persoonlikheid is een wat altyd iemand anders nodig het om te weet wie jy is. ’n Diade – die verhouding met een ander persoon – is daarom die absolute minimum om te kan funksioneer.
In dié sin is die kulturele raamwerk van die Nuwe Testament nader aan Afrika se ubuntu-kultuur as die Westerse kultuur waar die klem op die selfstandige individue val.
Vir mense met ’n diadiese, eerder as ’n individualistiese persoonlikheid, is die welstand van die groep waaraan hulle behoort belangriker as hul eie.
In die lig van die kulturele konteks waarin die Nuwe Testament ontstaan het, is dit daarom nie ’n verrassing dat die wesenskenmerk van die Christelike lewe is dat ons nie ter wille van onsself leef nie. Ons is veronderstel om in ’n wederkerige liefdesverhouding met mekaar te leef. Wederkerig deurdat ons liefde kan gee en ontvang.
Dié wederkerigheid van ons geloofslewe word verwoord deur die talle mekaar-opdragte in die Nuwe Testament.
Só skryf Paulus in Romeine 13:7-8 dat alle Christene diep in die skuld is. Trouens, ons het volgens hom ’n dubbele skuldlas.
Daar is eerstens materiële skuld wat ons met geld kan vereffen. Dié tipe skuld beveel Paulus, soos enige goeie ekonoom, moet ons betaal (Rom 13:7).
Ons het egter ook ’n ander soort skuld wat ons nie met geld kan afbetaal nie – ’n liefdeskuld aan mekaar. In vers 8 skryf hy: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit”.
Dié skuld kan ons net afbetaal deur dit af te werk deur dade van liefde aan mekaar te betoon. Die wonderlike daarvan om ons liefdeskuld af te werk is dat dit ons nie bankrot maak nie, maar skatryk. Daarom is dit goed dat ons dié skuld nooit sal kan vereffen nie!
Ons word egter nie net verryk deur ons dade aan ander nie, maar ook deur ander se liefdesdiens aan ons. Ons word dus in ’n dubbele sin geestelik verryk deur mekaar in liefde te dien.
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
