Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die gemeente in Tessalonika het danksy ’n kortstondige besoek van Paulus, Silas en Timoteus ontstaan (Hand 17).
Hulle besoek het ’n storm ontketen. Die plaaslike Joodse gemeenskap het met sowel massa-aksie as ’n regsproses teen die nuwe gemeente begin. Die aanklag was dat die nuwe volgelinge van Jesus die bestaande politieke, ekonomiese en religieuse orde omvergewerp het (Hand 17:5-7). In ’n Romeinse provinsiale hoofstad geleë op die strategiese Via Egnatia digby Olympus, die woonplek van die gode, was dit ’n ernstige klag.
Besorg oor die jong gemeente se welstand het Paulus, nadat hy na Atene gereis het, vir Timoteus teruggestuur om na hulle welstand te verneem (1 Tess 3:1-2). Na aanleiding van laasgenoemde se verslag skryf Paulus aan hulle dat hulle rustig moes lewe sodat hulle eerbare leefwyse die agting van diegene buite die gemeente sou afdwing (1 Tess 4:11-12). In besonder moes hulle “nugter wees”(1 Tess 5:6 en 8).
Dié oproep, figuurlik gesproke om in beheer en helder denkend te wees, kom telkens in etiese vermanings in die Nuwe Testament voor (vgl 1 Pet 1:13, 4:7, 5:8; 2 Tim 4:5).
Vir Paulus is nugter wees nie om suiwer met koue logika te handel nie. Dit is eerder om met geloof, liefde en hoop – die sleutelwaardes van die Christelike lewe – op te tree (1 Tess 5:8).
Die drie waardes is vir hom nie net innerlike oortuigings nie. Só verwys hy in 1 Tessalonisense 1:2 na die “werk” van hul geloof, die “inspanning” van hul liefde en die “volharding” van hulle hoop op die Here Jesus Christus.
Volgens Paulus kan die kerk nie van haar konteks onttrek en bloot wag op die wederkoms nie. In onstuimige tye moet gelowiges eerder liefde teenoor almal beoefen terwyl hul geloof in God en hoop op sy beloftes alles wat hulle doen bepaal.
Die Tessalonisense mag nie bloot ’n gemeenskap wees wat die wêreld nugter en klinies “verstaan” nie. Soos alle gemeentes moes hulle eerder ’n gemeenskap van hoop, liefde en geloof wees wat die bestaande wêreldorde, wat bloot die belange van dié met mag gedien het, omkeer.
Paulus bid daarom dat hulle liefde so sou toeneem dat hulle sou oorloop daarvan (1 Tess 3:12) sodat hulle na elke geleentheid sou soek om die belange van almal te dien (1 Tess 5:15).
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
