Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Grondeienaar preek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Indien jy deur die agenda van 2015 se Algemene Sinode van die NG Kerk blaai, raak ’n mens diep bewus van hoe omvangryk lidmate, gemeentes, ringe en sinodes van ons kerk se hulpverlening aan mense in nood is. Kerkbode het in elke uitgawe ’n “storie van hoop” wat verband hou met ons mense se omar­ming van die armes en noodlydendes in alle Suid-Afrikaan­se gemeenskappe. Dit is ’n besonderse getuienis van ons kerkverband.

Wat ek mis, is “stories van hoop” uit die korporatiewe raadsale van maatskappye. Ja, ook direkteure en aandeelhouers van maatskappye is betrokke by nood­lenigingswerk. Ja, ook hulle gee miljoene rande se hulp aan armes.

Die vraag is egter: Is dit die beste bydrae wat maatskappye, direkteure en aandeelhouers kan lewer tot die verligting van armoede en die groeiende gaping tussen ryk en arm? Is die beste wat hulle kan doen om maar net meer nulle agter hulle rande te sit as wat middelklas lidmate doen? Bring hulle groter bedrae geld volhoubare hoop?

Wanneer ’n mens deur die boek Amos lees, is dit opmerklik dat Amos hom nie met arm en weerlose mense besig hou nie. Hy gaan woon nie tussen die armes, of deel aalmoese uit nie. Hy gaan praat hulle nie moed in nie. Dit sou die maklike uitweg wees.

Nee, Amos slaan ’n moeiliker weg in. Amos stap verby die armes reguit na diegene met die mag in die hande, die grondeienaars, handelaars en politici. Hy konfronteer die mense wat die politieke, maar veral ekonomiese, mag in die hand het.

Dit is ’n uitdaging – vandag nog. Waarom is ons so bang om die maghebbers van ons dag (ekonome en korporatiewe wêreld) te konfronteer met die vernietigende effek van die huidige funksionering van die sogenaamde vryemark en ongebreidelde kapitalisme?

Amos besef dat die armes nie die mag het om die ekonomiese strukture wat hulle verarm te konfronteer nie. Die arm Israeliet het nie toegang tot die “korporatiewe raadsale” van die grondeienaars en ekonomiese maghebbers van hulle tyd gehad nie.

Hulle het iemand soos ’n Amos, self ’n grondeie­naar en “besigheidsman” nodig om die ekonomiese magstrukture en dié se vergrype aan die kaak te stel. En dit doen Amos met oorgawe. Is dit nie tyd dat die NG Kerk haar profetiese stem in die korporatiewe raadsale en onder die direksie en aandeelhouers van maatskappye laat hoor nie?

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top