Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Baba op die rug, iemand in ’n kruiwa, ’n lewe in plastieksakke. So stroom die vlugtelinge deur Europa op vlug van verwoesting en op soek na hoop. Foto’s verskaf

Toe tref ’n vloedgolf hulle

Danie en Esther van Niekerk was lidmate van die NG gemeentes Sesmylspruit, Witrivier en Thabazimbi voordat hulle met die steun van hierdie en ander gemeentes Masedonië toe is as sendelinge. Daar is hulle werk onverwags in ’n totaal ander koers gestuur as wat hulle beplan het. Ernst Muller vertel.


Toe Danie en Esther van Niekerk met hulle kroos na Skopje, hoofstad van Masedonië, verhuis het, was dit met ’n doelgerigte fokus op die Roma-volksgroep (ook bekend as gypsies). Min het hulle be­sef dat hulle hulleself spoedig in die middel van ’n vaste­­land-wye menslike tsoenami sou bevind.

Oor die afgelope jaar het die nood van honderddui­sen­de Siriese vlugtelinge vir hulle ’n daaglikse realiteit ge­word – hulle roeping kon hulle nie toelaat om blote waar­nemers te bly nie. Hulle bedieningspunt, Café Mercy (53 km van hulle huis af), het ’n ligpunt geword vir meer as 787 000 bang en honger reisigers wat deur Tabanovce-stasie beweeg het. Soos ook vir dié wat daar in ’n vlugtelingkamp vasgehaak het.

’n Stroom vlugtelinge stap langs ’n treinspoor af in die hoop dat hulle ’n nuwe lewe elders sal kan begin.
’n Stroom vlugtelinge stap langs ’n treinspoor af in die hoop dat hulle ’n nuwe lewe elders sal kan begin.

Die Masedoniese regering en formele noodle­ni­gings­­or­ganisasies was onvoorbereid op dié tragiese vloed­golf wat deur die land beweeg het. Skaars het Café Mercy begin om koffie, tee en kos aan vlugtelinge te ver­skaf, of dit word as die “amptelike” noodlenigings­plan beskou. By tye in vennootskap met nie-regerings- en Moslem-organisasies, ander tye alleen, is tot op da­tum 71 000 liter tee en koffie, 4 800 kg suiker en 30 000 kg vrugte verskaf. 29 000 kinders, wat sonder ouerlike toesig daar beland het, is begelei.

Treine vol mense

By tye het tot vyf treine vol vlugtelinge per dag deur Tabanovce beweeg (die rekord was 10 000 mense op een dag). Dit was nie vreemd nie, skryf Danie, om 07:00 in die oggend te begin en tot 03:00 die volgende dag te werk. Voeg daarby dat klimaatstoestande wissel van 39˚C tot sneeustorms en temperature so laag as -15˚. “Gedurende Januarie en Februarie was dit vir we­ke benede vriespunt,” skryf Danie. “Groepe met oues, siekes en klein kindertjies moes soms kilometers na Serwië se grenspos in -15˚C-toestande stap.”

Die lang afstande (oor die 101 000 km) wat spanlede moes aflê om die enorme logistieke koördinasie aan die gang te hou, die ure se fisiese inspanning, maar veral die daaglikse konfrontasie en vereenselwiging met die rou nood, vrees en wanhoop van soveel “gewone men­se soos ek en jy” eis sy tol onder die werkers en hulle ge­sinne. Hulle moes vaardighede aanleer wat by geen skool aangebied word nie. Medelyemoegheid (compassion fatigue) is ’n byna noodwendige gevolg van sul­ke soort blootstelling.

Daarom is die Van Niekerks en hulle medewerkers so dankbaar vir alle vorme van hulp. Die spanne van Global Challenge Expeditions op die mees uitdagende tyd, toe daar 1 200 mense voltyds in en om die stasie gewoon het, was soos manna uit die hemel. So-ook die talle donasies en blyke van ondersteuning uit Suid-Afrika, Singapoer, Duitsland, Engeland en Amerika.

Meer as kospakkies

Uiteraard gaan dit oor meer as kospakkies. Ten spyte van die geweldige druk, kon die werkers ook duisende sinvolle en bemoedigende gesprekke voer, vriende maak met dié in die kamp, en ’n gesig gee aan die lief­des­diens te midde van ’n oormag van verwerping, ont­nug­tering en tragedie, wat die swerwers oral beleef.

En dan kom daar later ’n brokkie nuus uit Duitsland van een van die vlugtelinge wat hier gehelp is en daar besluit het om kerk toe te gaan. Hoeveel ander stories van vrug op hulle werk is daar wat die Van Niekerks nooit hoor nie? Maar dit is hoe dit gaan. Hulle saai die liefde. Dit is hulle taak.

Danie en Esther van Niekerk en hulle kinders, Neo-Rie, Jac en Zane, in die sneeu van Masedonië waar hulle die evangelie met warm liefde uitdra.
Danie en Esther van Niekerk en hulle kinders, Neo-Rie, Jac en Zane, in die sneeu van Masedonië waar hulle die evangelie met warm liefde uitdra.

Staan ’n mens vir ’n oomblik terug van die hartverskeurende persoonlike nood en hartseer, herken ’n mens dit as legkaartstukkies van een van die groot verskynsels van ons tyd. Die geo-politieke verskuiwing van miljoene mense as gevolg van oorlog, volkuitwis­sings, vervolging (dikwels deur hulle eie regerings), hongersnood en uiterste armoede.

“Duisende vlugtelinge vanaf Sirië, Afganistan en Noord-Afrika kom steeds in Europa aan wat reeds die stormsee in lendelam en oorlaaide bote aangedurf het. Hulle stroom om en oor mure en bewaakte treinstasies in hul desperate poging om weer ’n veilige hawe te vind,” sê Danie.

En selfs gesofistikeerde en ekonomies spierkragtige Europa staan tot ’n groot mate impotent voor die realiteit van dié massiewe uitdagings.

Die Christelike gemeenskap het ’n millenia-oue repu­tasie van toetrede in die nood van ander (“soms, tra­gies, ook van ’n gebrek aan daadkrag in die aangesig van sulke wekroepe”). Vir elke mens in nood wat ie­wers in hierdie stukkende wêreld opkyk na ’n sagte glim­lag en die spreekwoordelike beker koue water ontvang, word iets van Jesus se hart weerkaats.

Hoewel die getalle in die kamp afgeneem het, soos wat mense na Wes-Europa aanbeweeg het, is hulle diep besorgd oor dié wat steeds daar bly. Daar is geen werksgeleenthede nie, geen teken van geleenthede vir hervestiging nie. Dus gaan dié werk voort. Kospakkies word steeds verskaf en klasse word aangebied in Vizbegovo, Skopje se toevlugsentrum.

Kontak gerus vir Danie en Esther van Niekerk by danie@ourcalling.co.za vir meer inligting of om ’n boodskap van bemoediging te stuur.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top